Eie stories

Karin Janse van Rensburg van Centurion, skryf:

My Zoeloe-koning, my Liefsteling 

My woorde min, sprakeloos soek ek na die stiltes. Stiltes waar ek jou kan memoriseer, jou kan herhaal met my woorde. ’n Taal wat ek nie ken, maar vlot verstaan.  Jou stiltes fluister my naam, my liggaam, my siel. 

Jou stiltes wat jou hande laat soek na die melodieë van my onaardse buitelyn. Jou vuurgloed mond ken die lyne van my lyf. Die streling van jou volmaaktheid wat draf teen my ruggraat. Jou mondhoeke stroop my van volwassenheid.  

Jou soetgeur van Marrakech op ons kinders se vel as ek hulle vroegoggend regmaak vir skool. Jou oë wat gloei van liefde as jy Gog in jou arms vou en boetie wat jy teen jou lyf warm hou. Jou laataand, vroeg opstaan, bloedsweet vir ons. Die wysheid van jou mond, die beskerming van jou oë, die kalmte van jou hande wat jy vir ons gee.

Ons lewens … ’n liefdeslied, ’n pad wat ons loop, al ’n rukkie saam. Gister, vandag, môre.

Onthou jy, die 13de Mei (dit voel soos galaxies verby). Jy het ’n vars werkshemp aangehad, ’n leerbaadjie, twee knope los, en om jou nek ’n silwerplaatjie. Die reuk van jou vel en sagte mond het in die lug gehang en my oë het op skreef getrek van wonder. Jou bekendheid en mosgroen oë het met my geskreeu. Toe jy gaan, het jy jou stempel op my hart gedruk. Ons kon nie weet wat sou kom, die tyd was tog so andersom. God het bepaal dat ons die uur sou haal.Die herontmoeting van ons siele … die dag … ’n ontmoeting in vlees. Ons was eintlik lankal voorgestel, God het besluit my hart kanselleer joune uit.

Onthou jy die KKNK? Ons het onsself soos tieners gedra. Goedkoop Brandy en Coke, gespring en gedans, dronk geword op ons liefde vir mekaar. Ons was pasgetroud, trou aan mekaar gesweer, saam word ons oud. Jy sal my slippers eendag sleepvoet agter my aandra en ek sal jou tande elke aand getrou borsel en langs die bedkas los.

Onthou jy Langebaan, toe dit somer was? Ons het langbeen-aande op die strand gaan wandel. Die rooibos van die maan het wakend oor ons gestaar. My maag volrond, van die klein engel wat ek dra, ’n trotse pa was meer as wat ek kon vra. Met witgoud en skulpgrof tussen ons vingers en tone, in die donker het ons lewensgeheime probeer uitpluis. 

Onthou jy ons huisbou? Dit was harde klippe kou. Jan, Piet en Madala wat soveel keer sou kla. Bietjie klip, sand strooi, nog ’n laag staal en graniet. Ons liefde vir mekaar is in daardie aarde gegiet.

Ons drome bou ons verder, nou nie meer alleen, maar twee Godgegewe kinders oral saam ons heen. Van niksheid, ’n soektog van samesyn. ’n Onwerklikheid vervul met drome van realiteit. Jou hande wat toevou die oranje van my kosmos, double delight, jasmyn, blouklokkiebos en varkoor wat blom op ons agter-erf.

Ek dank onse Vader daar bo dat my man so sterk ook in Hom glo. Dat hy my weer die pad sou kon wys na Christus wat vir my gesterf het aan die kruis.

My Liefsteling, jy laat my hart elke dag jubel en sing. My tone dans van lekkerkry.  Ek wil jou toevou, jou hart styf teen myne hou. Ek wil jou toedraai sodat ons harte saam kan skoppelmaai. My klein Karoo, my Langebaan, my Kapenaar, my Bellville-kind bly by my sodat ek jou liefde kan verslind.

Saam sal ons die winters trotseer, wat ook al op ons pad kom, ons glo dit is van Hom.  En as die lente weer sy kop uitsteek, sal ons juig en jubel en kaalvoet oor die vlaktes dans.