sr0912lesse32
Eie stories

Kenners deel hul kosbaarste lewenslesse

1. Lag is die beste medisyne

Pyn is onvermydelik; misrabelheid is ‘n keuse, skryf Barbara Johnson in Steek ‘n malva in jou hoed en lag.

As pretprater van beroep het ek geleer om die hemelse bruissout van lag te gebruik vir die sooibrand wat die lewe kan besorg. Lag is inderdaad die beste medisyne. Die lewe is g’n grap nie, want daar gebeur slegte goed met goeie mense.

‘n Oog vir die komieklike kan ons egter red van te veel sedigheid en eiewaan.

Toe ons jongste so vier jaar oud was, klim ek een aand by hom in die bad. Toe ek plat sit, sê hy: “Dis darem lekker om saam met Mamma te bad.”

“Dankie, my skat, hoekom sê jy so?”

“Want Mamma maak min water baie.”

Ek het sedertdien ‘n hoogwater-selfbeeld!

- Elsabe Aldrich, pretprater/inspirasiespreker. Besoek Elsabe se webtuiste by www.elsabealdrich.co.za

Ann Gadd

Erken jou vrees en gaan voluit voort – ten spyte daarvan

Jare gelede was ek aan ‘t seilplank ry op baie groot branders toe ‘n witdoodshaai my pad kruis. Hy het alles gesimboliseer waarvoor ek bang was – ek is letterlik deur my grootste vrees in die gesig gestaar.

Sedertdien het die “haai” af en toe my psige binnegeswem. Ek raak bewus daarvan, en dan, net soos ek daardie dag gedoen het, seil ek doelbewus verby. Dis geweldig bevrydend om te kan sê: “Goed, ek is bang, maar dit gaan my nie keer nie.”

Deur die haai te aanvaar het ek geleer om kwessies te aanvaar wat my bang maak, en om dit nie te bevraagteken nie. (Soos: Hoekom ek?) Dit sou mos belaglik wees om vir die haai te vra wat hy in die see maak, so naby aan my. Deur aanvaarding beweeg ek verby vrees. Dán kan ek in die oomblik leef.

- Ann Gadd (foto links), skrywer van talle selfhelpboeke. Haar jongste is What went wrong with Mr Right (Why relationships fail and how to heal them), Findhorn Press, UK. Besoek Ann se webtuiste by www.anngadd.co.za

Dis myne, dis ons s’n
Ek het geleer om dít wat myne is of wat ons s’n is nie meer as vanselfsprekend te aanvaar of mis te kyk nie. In die drie jaar dat ons gesin in Kanada gewoon het, het ek baie bewus geword van dít wat die Kanadese hul eie kan noem.

Terug in ons land het ek eers werklik besef hoeveel ons as Suid-Afrikaners het – ek moes dit eers vir ‘n ruk lank “verloor” om dit te kan sien vir wat dit is. Dis eenvoudige maar kosbare dinge: Die son wat twaalf maande van die jaar helder op ons skyn, om oral Afrikaans of klankryke Afrika-tale te hoor, om elke dag deur my eie land se plekke en mense omring te word.

Nou besef ek: Dis myne, dis ons s’n.
- Dr. Jacob van Zyl, kliniese en pastorale sielkundige en skrywer van Breek deur die grens (Lux Verbi.BM).

Kies doelbewus
Toe ek ‘n jong vrou was, het my spirituele ma vir my gesê: “Dis oukei as jy jou swak wil gedra, solank jy kiés om so op te tree, nie maak asof jy nie ‘n keuse het nie.”
Ek was doodtevrede om te leef soos iemand in ‘n boot sonder stuurman. Ek het maar met die stroom saamgedobber, waar dit my ook al neem.
Tot ek te staan gekom het voor ‘n keuse wat óf my huwelik sou bou, óf dit sou vernietig. Vir die eerste keer in my lewe het ek doelbewus ‘n keuse gemaak. En ek doen dit steeds, elke dag.
Ek herinner myself gereeld dat ek ‘n magtige, geestelike wese is met die vermoë om groot dinge te bereik – ás ek dit kies.
- Shurnell Andersson (foto regs), motiveringspreker en lewensafrigter. Besoek Shurnell se webtuiste by www.shurnell.com

Daar is nie iets soos mislukking
As kind is ek geleer alles wat jy doen, word deur ander beoordeel. Alles word gemeet aan sekere standaarde, en dít maak van jou ‘n sukses of mislukking.
Dit het tot baie trane en terneergedruktheid gelei. Ek het eers in my dertigerjare besef daar’s nie iets soos mislukking nie – net waardevolle lewenslesse.
Dié insigwas só bevrydend. Ek het baie meer waaghalsig geraak, met wonderlike resultate.
As iets nie werk nie, kan ek daaruit leer om dit volgende keer beter te doen. Ek sit hart en siel in alles wat ek doen.
- Anèl Bester, lewensafrigter. Besoek Anèl se webtuiste by www.coach-sa.co.za.

Alles is genade.
Alles wat ek is en het, is genade. Die feit dat ek leef. Alles wat ek sien en hoor, ervaar en beleef.
Ons kla so maklik oor ons werk, maar wees eerder dankbaar dat jy een het. Daar is soveel onvergenoegde mense met ontevrede harte wat nie besef watter groot genade hulle elke dag ontvang nie. Daarsonder is ons en ons toekoms mistroostig en hopeloos
- ST Potgieter, sielkundige.


Wees nederig

  • Pyn is God se manier om ons te lei na ons lewensroeping. Ons kan dit ignoreer of verval in selfbejammering. Of ons kan sê: “God, ek weet nie wat dit is wat U wil hê ek moet doen nie, maar laat ek probeer en voortgaan.” Doen dit dan met ‘n positiewe ingesteldheid (nooit met haat nie) en altyd met die geloof dat jy kán.
  • ‘n Humorsin is belangrik om jou daarvan te weerhou om vrotsige diensverskaffers te wurg – en dis die ruggraat van elke goeie verhouding.
  • Wees nederig sonder om ‘n wimp te wees.

- Charlene Smith (foto links), skrywer van onder meer Committed to me (Making beter decisions in life, love & work), Oshun Books.

Sterker as wat jy dink
Jy en ek is soveel sterker as wat ons dink. Dood, egskeiding, siekte, hartseer – in my beroep word ek elke dag daarmee gekonfronteer, so pynlik en tog so kragtig. Ek is verstom oor hoe mense pyn kan omswaai in groei, bereid is om te vergewe, kan veg vir dít waarin hulle glo, opstaan, aangaan, selfs bereid is om die doel of sin van seerkry te erken.
Dit inspireer en gee hoop. Pasop dus vir die stemmetjie wat jou wil oortuig dié een is net té moeilik, dat jy té swak is, dat ander kan, maar nie jy nie.
Dié wete help my ook om die opdraandes op my eie pad in ‘n ander lig te beskou. Want al verkies ek dit nie so nie, is moeilikheid ‘n kans vir groei en leer, ‘n kans om die krag ín my te ontdek.
- Lindi Nel, sielkundige.


Word jou eie beste vriendin
As jou vriendin vertel hoe sy drooggemaak het, sal jy haar sê sy is dom en nikswerd? Nee, en tog doen jy dit heeltyd met jouself!
Begin jouself behandel soos jou beste vriendin. Vang negatiewe gedagtes en omskep hulle in iets wat jy vir háár sou sê. Jy sal ‘n beter selfbeeld hê, gelukkiger voel en produktiewer wees.
- Kirsten Long, lewensafrigter. Besoek Kirsten se webtuiste by www.coach4life.co.za

Waarvoor is jy dankbaar?
Dis só belangrik om dankbaar te wees, veral wanneer dit juis lyk asof daar niks is om voor dankie te sê nie. As jy in selfs die moeilikste situasies steeds dankbaar kan wees, gaan jou omstandighede dalk nie verander nie, maar jou lewensgehalte sál.
Dit sit ‘n energie aan die werk wat ander kwaliteite na jou lewe bring: die vermoë om terug te bons, en vreugde en verwondering oor die eindelose moontlikhede van die lewe.
- Tania Adams (foto links), lewensafrigter.
Besoek Tania se webtuiste by www.abundance.org.za.