Eie stories

My ma en haar strepiesrokke

Alles het ’n storie. ’n Geskiedenis. Dis tog so waar. Ek kuier by my ouers op Hermanus en neem soos gewoonlik ’n vrag tydskrifte, onder meer die lekker dik 60ste verjaardag-SARIE (Julie 2009), saam.

Ma sit Saterdagaand die SARIE op haar bed vir leestof ná haar bad. Dis halftien. Ons het eers ons gebruiklike drie potte Bolivia gespeel. Halftwaalf kom mamma in by die stoepkamer waar ek oorslaap. SARIE in die hand. Haar oë blink van herinnering aan die dag wat sy die eerste SARIE gekoop het … Julie 1949. Sy was ’n tweedejaar-student op Maties en het die tydskrif verslind, vertel sy. Die naweek toe sy by die huis in die Paarl gaan kuier, het sy die voorblad vir haar ma gewys en gesê só moet haar klere lyk. Ma Lucie Stofberg het al my ma se klere gemaak en ’n voorliefde vir blompatrone gehad.

Ma het van strepe gehou. En hier was bewyse dat strepe ook fyn en vroulik kan lyk, én hoog in die mode is. Die voorbladnooi dra dit dan op die splinternuwe tydskrif! Ma het haar sin gekry. Ouma Lucie het die blommateriale weggebêre en gestreepte bloese en rokke gemaak.

Tot vandag toe nog is dit ma se gunsteling-voorkoms. Sy is vanjaar 80 jaar oud. En ek kan die dae wat ma nie strepies dra nie, op my vingers tel. Net soos die een op die eerste SARIE-voorblad – met die moue liggies omgedop en opgestoot. Wel, nou sonder die strikkie by die nek.

Ma kon boonop dié aand nie uitgepraat raak oor hoe vol leesstof SARIE is nie. Het ek dit gelees? Wie verkies ek. Nataniël? Of André le Roux? Ma het ’n soft spot vir Izak de Villiers, want hy skryf sulke mooi stories oor die Paarl. Ek moet onthou om die volgende SARIE te bring, want dit het glaskristal-oorbelle in.

Daardie eerste voorblad is steeds vir my een van die mooiste voorblaaie, sê sy. Ma babbel een stryk deur . . . Maar my oë val toe. Ons moet hoeka vroeg opstaan. Feestafel dek en ’n blad roast, want ek verjaar en my suster, haar kinders en kleinkinders kom oor vir middagete. 

Sondagoggend borrel al die kuiermense by die familiewa uit. Ek sien my suster het ook vir ma die verjaardag-SARIE gebring. So, daar’s nou twee. Ek glip die ander SARIE in my oornagkoffer om by die huis te lees. Dis die een wat ma die oggend tot halfeen nog gelê en lees het. Oral deur die tydskrif is bakoortjie-bladsye soos ma iets sien wat sy weer wou lees, of vir haar naaldwerkgroep wou vertel of dalk met my daaroor wou gesels. En op dié manier kry ek nog ’n kykie in die persoon wat mens soms vergeet meer as net ma is.

So, baie geluk met SARIE se 60ste verjaardag en dankie vir ’n kosbare oomblik van herinneringe tussen ma en dogter.

Ns. Ek is die versamelaar van familiefoto’s. Toe ma die “streep”-storie vertel, het ek haar foto onthou wat in 1949 geneem is in die tuin van Huis ten Bosch by die Universiteit van Stellenbosch. Sy (toe Helene Stofberg) was ’n 36-24-36 blondekop in ’n strepiesrok.

Cilene Bekker, Blouberg