apr08mystorie2a
Eie stories

“Kyk na my, ek is vrou” – Marlene le Roux wen gesogte prys

Só wys sy in ’n nuwe koffietafelboek. Haar merkwaardige lewe sal jou inspireer.

Haar lippe is bloedrooi en sy dra goue tekkies. En sy’t ’n cleavage wat jou jaloers maak! Die yster aan haar linkerbeen sien jy skaars raak. Marlene le Roux sê sy beskou dit as haar “mode-bykomstigheid”. Sy was net drie maande oud toe sy polio opgedoen het. Mense het gesê daar’s geen hoop vir haar toekoms nie. Maar vandag doen sy meer as die meeste vroue wat die volle gebruik van albei hul bene het. Marlene, die direkteur van opvoeding en ontwikkeling van Kunstekaap, is al verskeie kere bekroon vir haar bydrae tot die gemeenskap, sy’s ma van twee en nou’t sy ’n boek die lig laat sien met die boodskap: Gestremdes is óók sensueel. Haar storie is nie sonder kinkels nie, maar dis ’n storie wat glinster, vol energie.

“Ek is geen superwese nie. Die lewe het my al ’n paar klappe gegee. Maar ek het selfs in my donkerste tye geweet iewers gaan ek die krag kry om aan te gaan. Ek wou nog altyd gestremdes ophef. Ook met Look at Me* waarin 23 gestremde vroue se stories vol waagmoed vertel word – mét foto’s. ’n Gestremde hoef nie weg te kruip en ’n vaal muurblommetjie te wees nie. Al dié vroue – sommige ken ek al van universiteit af – moes flankeer met die kamera, sonder om terterig te wees. Ek wou geen vrou se man of kind daar hê nie. Hulle moes ongeïnhibeerd gefotografeer word. Baie mans het gemeen hul vrou gaan dit nie alleen kan doen nie. Erger nog, dalk praat hul vrou uit die huis uit! Van die vroue het tot op die einde nog getwyfel. Die proses is nog te pynlik. Sommige in hoë posisies in die Parlement wil net aanbeweeg en ‘normaal’ wees . . .

Dis tyd dat ons álmal lief raak vir onsself soos ons is

Sensualiteit beteken gewoon jy kén jouself. Vroue (gestremd of nie) is dikwels bang vir hul eie sensualiteit, want die samelewing het hulle só gesosialiseer. Jy durf nie te hard lag, te veel wys of sê nie. Nét 2% van die wêreld se vroue lyk soos modelle. Dis tyd dat ons álmal lief raak vir onsself soos ons is.

My storie begin op 17 September 1967. Ek is as bruin mens gebore. Met blónde hare en ’n ligte vel. Ek is een van my ouma (ek het haar Ma genoem), ’n fabriekswerker en huishulp, se elf kinders en ons het op Wellington gewoon. Ons was arm, maar ons huis was vol liefde. Ek noem my biologiese ma Tittie. Sy was soos my ousus. Op drie maande het ek polio opgedoen. Die wit dokter het vir my ma gesê ek sny net tande. So in die trant van: ‘Wat weet jy?’ Maar skielik het ek ’n gebrek gehad. Mense in die gemeenskap het begin glo ek gaan eendag niks kan bereik nie. Daar was baie operasies, baie pyn . . . Gelukkig kon ek op skool mooi sing en het heelparty kompetisies gewen. Maar ál die vooroordele! ‘Sy’s ’n mooi kind met ’n pragtige stem. Net jammer sy’s kreupel.’ Ek het op tien al in seuns begin belang stel, maar ouens raak nie sommer op gestremdes verlief nie.

Op hoërskool het ek dikwels gesmag na aanraking. Soms het ek en my beste vriendin, Marion, wat ook polio gehad en twee beenysters gedra en met krukke geloop het, met die seuns geflankeer. Wanneer hulle begin saamspeel het, het ons opgestaan en gewag vir hul gesigsuitdrukkings en gekyk hoe vinnig hulle weghardloop! Een jaar met die Klopse-karnaval op Wellington het iets wonderliks gebeur. Party mense sal dit seksuele teistering noem. Maar dit was my soort sensuele ontwaking. Ek was op hoërskool en het saam met my niggies agter hulle in die strate gedans. Een van die ouer Klopse het my borste gegryp en gesê dis vir hom pragtig. As tiener het ek ook een skemeraand ’n seun onder die lamppaal in my buurt gesoen.

Hoewel mans gewoonlik die jagter is, het ek besef dat ek as gestremde die eerste skuif moes maak. In die middel tagtigs, toe ek musiek aan die Universiteit van Wes-Kaapland gestudeer het, het ek in my eerste jaar as antiapartheidsaktivis gehelp om vroue en kinders in Kruispad teen die Witdoeke en die polisie (ons het hulle die ‘Apartheid-boere’ genoem) te beskerm. Hulle wou destyds ons comrades doodmaak. Ek het saam met ’n comrade by sy ouers se shack afgeklim en weer eens die krag van vroue se sensualiteit besef. Maar die goue reël in ons huis – ’n streng godsdienstige gesin – was om kuis te bly tot jou huweliksnag.

In my vierde jaar het die regte man my lewe ingestap. Simeon, ’n regsgeleerde. Ek was gereed vir liefde en hy het geweet hoe om dit te gee. Ses maande nadat ons getroud is, is ’n breingewas by my gediagnoseer. Ek het hom gerus gestel dat dit nie so ernstig is nie en is self hospitaal toe. Toe hy soontoe skakel, was die dokters ná vyf uur steeds besig om te opereer. Simeon het my altyd ondersteun, maar ook besef ek kan baie hardkoppig wees. Dit was vir hom ’n groot aanpassing. Ons is al sestien jaar getroud. By hom het ek my vrouwees ontdek. Sekerlik die ergste waardeur ons verhouding is, was die geboorte van Adam, ons sesjarige seun, ’n ‘lewenslange baba’, want hy is serebraal gestrem. Toe ek hom verwag het, was ek só vervuld. Hy is vyf jaar jonger as Aimée. Wat ’n voorreg om ’n seun én ’n dogter te hê en dat my liggaam dié wonderwerk twee keer kon beleef. Ek het Expecting Adam deur Martha Beck nét voor sy geboorte gelees. Dit het my emosioneel geraak dat dié slim Harvard-professore ’n kind met Down-sindroom gekry het. En toe my kind gebore is, het ek dadelik besef iets is fout. Dokters het bly toetse doen en ná ses maande is dit eers bevestig. In April 2003, op die dag toe ek tot voorsitter van die Kommissie van Kultuur in die Wes-Kaap verkies is, was dit my donkerste dag, want ek het toe ook gehoor van Adam se siekte.

Dit was die oomblik wat elke ma seker die meeste vrees. Dat jou kind fisiek én verstandelik gestremd is. My eie gestremdheid het my gehelp om dit beter te hanteer. Ek moes my lewe lank meganismes vind om vir die wêreld te wys ek is oukei met myself. Ek verstaan nou waardeur mý ma gegaan het. Adam is honderd maal erger gestremd as wat ek óóit was. Ek was kwaad vir die Here. Ek glo daar’s ’n God. ’n Mens moet altyd versigtig wees dat jou ego nie groter as jy raak nie. Ons leef as deel van ’n groot geheel waar alles afhanklik van mekaar is. Binne ’n paar dae was ek letterlik verlief op Adam. Ek het besef hy het net liefde nodig. Hy’s nou ses. Ons weet nie of hy elf of tagtig gaan word nie. Maar dis oukei. Die lewe is wat jý daarvan maak. Hoewel my kind baie sorg verg (en ek kan gelukkig verpleegsters bekostig) en ek gereeld Rooikruis-Kinderhospitaal toe moet gaan met hom, is ek ook pamperlang aan myself verskuldig. En ek het ook ’n ander kind en ’n man vir wie ek goed moet lyk en interessant moet wees. My werk verg baie van my. Ek wil ’n verskil maak om my. Ek het gelukkig ’n wonderlik ondersteunende werkplek en baas.

‘n Feminis kan steeds ‘n laai vol Franse lingerie

As die ‘af’-dae kom, dans ek! Want as student het ek baldanse geleer. En gedisko. Mét my beenyster. As mense skaam was om met my te dans, was dit húl probleem. Ek het ritme en wil dit uitleef. As Aimée sê ek moenie mini’s dra wanneer ek haar skool toe neem nie, sê ek: ‘As jou juffrou of enigiemand wonder, sal ek vir hulle vertel ek het polio gehad en ek is lief vir kort rokkies en dís hoekom ek ’n yster dra.’ As ek lus is om in ’n skoenwinkel ’n stiletto aan die voet van my mooi gevormde regterbeen aan te trek en dit te bewonder, dan is Aimée baie skaam. Maar dan smile ek net. Dis my fetish. Hoekom nie? Ek doen dit vir die fun. Ek geniet my liggaam. Ek hou van parfuum, mooi aantrek, om my met room in te smeer. Ek leer Aimée dat jy ’n feminis kan wees en steeds ’n laai vol Franse lingerie kan hê. Feminisme gaan oor gelyke kanse vir mans en vroue. Jy moet ook vir jouself kanse skep. Ek het al in ’n manlike gospelgroep gesing, want ek hou van die aandag.

Ek wil nou weer begin sing – musiek wat iets oordra en iets vir ander beteken. Ek beplan ’n CD en het al met ’n paar liriekskrywers gepraat. Ek moes eers ’n paar jaar stil word en myself beter leer ken. Nou is ek gereed om van my kennis te deel. Ek het nie meer hierdie brandende begeerte om opera te sing nie – die wêreld is nog nie gereed vir gestremde operasangers nie! Ek is nie meer so begaan oor waar ek vandaan kom of oor wat ís Afrikanerskap nie. Ek fokus op die toekoms. Suid-Afrika het goeie riglyne rakende gestremdes, maar die implementering daarvan is verskriklik.

Die dae van ‘ag, shame, die arme gestremdes’ is verby. Ons wil gelyk behandel word, maar daar moet voorsiening gemaak word vir ons tekortkominge. Daar kom tye dat ek moet herlaai, en dan gaan ek Wellington toe, waar ek kan huil of lag tussen my familie en die Eves-klub. Dié vroue wat my staande gehou het toe ek rou was oor Adam. Die Eves borg jaarliks ’n minder bevoorregte kind op skool. Ons drink en eet een keer per maand saam en gaan ’n naweek per jaar weg om te kuier. Ons praat en lag of huil. By hulle gaan dit nie oor die nuutste etiket wat jy dra of trend wat jy volg nie. Ons luister na mekaar en probeer raaksien wat in mekaar se harte aangaan.”

* Look at Me, Genugtig! Uitgewers, R349.