Eie stories

Laaste dag in NY – Michélle skryf

As New Yorkers ‘n ding doen, doen hulle hom stylvol.

Idols
Gisteraand het ek gesien hier’s ook baie giere wat byna kultusse is. Werklikheidsprogramme – veral Idols en Dancing with the Stars – is reusagtig. In die omgewing van die TV-ateljees staan mense letterlik blokke ver tou om ‘n kaartjie te probeer kry. En hulle is self soos die sterre aangetrek in blink, skouerlose rokke en sandale (ja, in hierdie koue) net ingeval die kamera in hul rigting swaai.

Ek het Woensdagaand self Idols op TV gekyk en wraggies, ek kan nie dink dat ek al ooit soveel talent in SA gesien het nie. Hulle het Motown gedoen en daar’s ‘n 16-jarige meisie wat die beoordelaars en een van die vaders van motown, Smokey Robinson, uit hul stoele laat spring het. Smokin’ hot! soos hulle hier sê. Selfs die beoordelaars was indrukwekkend met hul insig en kritiek, wat ek gedink het deur die bank opbouend was. Nogal anders as die kritiek op ons Idols-beoordelaars. Selfs Simon Cowell was nie vir my so sleg nie! Maar nou sê koerante en TV-kanale vanoggend Idols het al byna te goed geword!

Daar’s so wraggies ook ‘n vampier-gier hier – een wat die gesprek Woensdagaand aan tafel heeltemal oorheers het. Dit gaan als oor die Twilight-boeke, geskryf deur ene Stephenie Meyer, oor ‘n moderne vampier. Sy sê dis geskryf vir die “tweens”, maar te oordeel na die warm gesprekke aan tafel lees ALMAL koorsagtig die storie oor ‘n vampier wat net nie by sy jong liefde kan uitkom nie. Kan jy glo?!

Die vroue aan tafel het erken hulle is heeltemal obsessief en kanselleer selfs hul naweek-brunch-afsprake (‘n heilige instelling in New York) in die hoop dat die vampier by sy liefde uitkom.

So gaan dit nou al oor 4 boeke met die een “cliffhanger” na die ander, en net toe almal dink die 5de boek gaan verlossing bring, lek die manuskrip uit en wag almal nou maar vir die verkorte weergawe wat op die internet gepubliseer gaan word.

Self dink ek dis als nodige ontvlugting, want tekens van swaarkry is oral. Soos die bord in die droogskoonmaker se venster wat s’e as jy jou werk verloor het en ‘n nuwe werk soek, kan jy daar gratis jou onderhoud-klere laat skoonmaak. Dit bly die een ding waaroor almal praat en pres. Obama se elke skuif word deur elke man en vrou op straat dopgehou. Hulle soek nou broodnodige hoop.

Vir die eerste keer het ek dié keer ook in supermarke borde gesien wat spesifiek aandui watter produkte, selfs groente en vrugte, van Amerika kom.

Nou sit ek op JFK en dinge lyk maar vaal en grys buite. Die gedagte dat ons dalk nie op tyd gaan opstyg nie, het al by my opgekom, maar ek leef in hoop.

Intussen sê die weerberig die naweek in New York gaan mooi wees – die temperatuur sal tot 15/20 grade hoër wees as die afgelope week. Dit werk mos so – noudat ek op pad huis toe is. Aan die anderkant, die New Yorkers verdien nou ‘n bietjie lente.

Groete

Michélle