rrrrodger_56_
Eie stories

Lag hardop vir myself!

Nou weet ek nie of dit ouderdom is, en of dit net moegheid is, en of dit sommer net plain deur-die-misgeit was nie.
Seker maar bietjie van alles.

Gister by Spar, kry ek ’n almanak vir 2010.

Ek sit dit op die agtersitplek van die motor neer sodat dit nie buig tussen die inkopiesakkies nie.
Vanoggend voor ek werk toe ry, sit ek my skootrekenaar en handsak in die kattebak, want hier in Gauteng gooi hulle mos jou venster stukkend met stukkende wit glas van ’n vonkprop. Dan steel hulle wat ook al in jou kar is, binne ’n sekonde! Met my eie oë gesien by ’n demonstrasie van Mercedes in Centurion.

Ek maak die kattebak toe, en sien toe die almanak op die agterste sitplek. Dog toe, nee wat, laat ek eerder die ding ook maar in die kattebak sit, want dit lyk mos lelik as goed so rondlê in die motor.

Ek maak so, loop daarna weer om die regterkant van die motor en klim in by die oop deur … Ek skuif nog so ewe reg, en toe ek die deur wil toemaak, tref dit my. O genade, nuwe Suid-Afrika! 

My motor se stuurwiel is gesteel. En die radio, die pedale, die rathefboom en die handrem! Not likely! Ek woon in ’n golflandgoed met streng sekuriteit en die motorhuis was gesluit …

Maar toe ek besef dat ek op die agterste sitplek sit, het ek eenvoudig uitgebars van die lag! Ek skud my kop, klim uit en skuif agter die stuurwiel in, als nog in plek!

Op pad werk toe het ek nou en dan nog lekker vir my verstrooidheid gelag.

Mens maak jou eie memories. Nou ja, vir hierdie een gaan ek nog l-a-a-a-n-k lag!

Ronell Kelsey