stock00078
Eie stories

Leef in waardering

Die “Gedagte vir die Dag” in my dagboek lees: “As we express our gratitude we must never forget that the highest appreciation is not to utter words, but to live by them.”(Onbekend). Ek wonder lank hieroor en skryf my vraag langs hierdie woorde neer:  “Live in appreciation.” Hoe doen mens dit?

Daarna stel ek my dankbaarheidslys vir die dag op. Heel bo-aan sê ek dankie vir my werk (as ek dink hoe baie mense hul werk in hierdie ekonomiese tsoenami verloor), maar ek is ook baie dankbaar dat “die skool vandag sluit”.

’n Halfuur later hoor ek met ’n groot skok dat die personeel van Maandag tot Woensdag, aanstaande week, moet terugkom skool toe. Alleen en terug in my klas, bars die teleurstelling uit my en ek treur krokodiltrane oor drie verlore vakansiedae. Ek gryp my dagboek en begin woedend skryf: “Hoekom het hulle my nie vroeër gesê nie. Ek is die duiwel in, drie ekstra werkdae!”

So deur die waas van trane sien ek weer die “Gedagte van die Dag: “As we express our gratitude we must never forget that the highest appreciation is not to utter words, but to live by them”. Dadelik laat die besef my trane wegknip. Ek het ’n kitsantwoord gekry op my vraag – Hoe leef mens in waardering? Eina, dis nie maklik nie. “As jy regtig dankbaar is vir jou werk, moenie dit net sê nie, lééf dit deur in ’n goeie gees terug te kom werk toe, gedurende jou vakansie, as dit van jou verwag word.”

Later die middag, ná werk, kry ek ’n enorme groot les van wat “leef in waardering” regtig beteken …

“I have cancer, you know,” sê sy met algehele berusting en ’n byna trotse toon in haar stem. “I was in hospital for three weeks, that’s why you haven’t seen me.” Sy hou die papiertjie waarop Engelse vrae neergeskryf is, uit na my. “How do you say hello to a young man of about 20?” Nou vra ek jou: Hoekom wil sy dit weet, en wat antwoord ek nou? 

Die afgelope maande wag sy my gereeld in, hier by die bushalte ná werk. Koorsagtig is haar een oog nou gefokus op die papiertjie en die ander oog op die pad, asof sy my bus wil terughou sodat sy my ’n rukkie langer vir haarself kan hê vir ’n verbygaande Engelse les. Sy’s kort, dié Chinese vroutjie, in haar sestigs, skat ek. Sy’s mooi versorg, netjiese hare, deftig aangetrek, handsak oor die arm en sy praat vinnig. Die probleem is dat ek nie haar vrae kan beantwoord nie, want dit maak nie sin nie. Hoe sê mens hallo vir ’n jong man van omtrent 20? Is daar ’n spesiale manier van groet wat verskil van dié van iemand ouer of jonger? Dit veroorsaak dat ons die kosbare vyf minute wat sy het om met my te praat, probeer vasstel wát sy nou eintlik wil weet en hoekom. Ek het nog nooit regtig een van haar vrae suksesvol beantwoord nie, maar sy gooi nie tou op nie.

 “I brought you something today. You can make peanut butter with it.” En daarmee oorhandig sy ’n sakkie met iets wat lyk soos dadels, geparste grondboontjies en sade. Die resep is netjies neergeskryf. Sy verduidelik breedvoerig oor en oor hoe om te werk te gaan. Ek let glad nie op nie, want ek het klaar besluit ek gaan dit nie maak nie. Dis baie makliker om grondboontjiebotter te koop, maar ek knik en belowe om dit vandag nog te maak. Is daar regtig nog mense wat hul eie grondboontjiebotter maak?

Ek vra … “Hoekom al die Engelse vrae?” En die antwoord kom: “I like to learn English”. En ek dink: Om wat mee te doen in dié stadium? Dis nie asof sy vir ’n wêreldtoer voorberei of haar gaan inskryf by ’n universiteit nie. Hoekom straf sy haarself so? Sy het dan kanker …

En tóé leer ek. As jy kanker het en jy kan aangaan met jou lewe en steeds Engels leer soos voor die kanker, dan sal jy vir seker met berusting byna trots kan sê: “I have cancer, you know …”