sr0902selfhoof_9_
Eie stories

Leer jouself weer ken en liefhê

Werk is nie wie jy is nie
In 2004, ná jare van korporatiewe onsekerheid, is die batebestuurfirma waarin Anet Ahern nege jaar lank haar “hart en siel” gestort het, verkoop en gesluit. Sy was sedert 2000 in beheer. Met ’n “heeltemal misplaaste sin vir verantwoordelikheid” het sy self die laaste bokse gepak en vloere gevee, met ’n hart wat wou breek. Vandag is Anet hoofbestuurder van Sanlam Multi Manager International in Bellville. Sy het ook ’n boek geskryf: Becoming a Mother: Remembering Your Self, Aardvark Press, 2007.

Die impak op my selfbeeld
“Dit was baie moeilik om te aanvaar en te herstel. Meer as ’n jaar daarna het ek hartkloppings gekry as ek verby die kantoor ry – en dis ’n pad wat ek baie ry! Dit het my selfbeeld geknou. Jy voel die mislukking baie persoonlik. As jy suksesvol is en terugslae onthou, kyk jy heeltemal anders daarna as wanneer jy midde-in die situasie is. Dán dink jy dis die einde van die wêreld en jy gaan nooit weer regkom nie.”

My herstel
“Ek het net langer as ’n jaar afgevat om aandag aan myself te gee. Ek het gesonder begin leef en eet, meer geoefen, tyd saam met vriende bestee (toe ek weer kans gesien het) en gefokus op my huis en gesin. My dogtertjie, Niamh, was toe twee.

“By tye was ek bedruk. In die begin het ek baie geslaap en geen energie gehad nie. Ek is ’n betreklik praktiese mens en ek glo aan besig bly, maar ek moes myself ook ruimte gee om te dink oor wat ek uit die lewe wil hê. Dis ’n proses, ’n mens verander en groei mos gedurig.

“Ek het ander aspekte van myself ontwikkel en ou belangstellings herontdek. Skryf en oefen was my grootste uitlaatkleppe.

“Dit het baie tot my heling bygedra dat ek in ’n langtermyn-verhouding is (ek is al 22 jaar getroud), ’n kind het en ’n paar goeie vriende – hulle mag dalk nie van alle aspekte van jou hou nie, maar hulle aanvaar alles.”

Lesse geleer
“Gee jouself tyd. Moenie verwag dat jy ná ’n maand kan aangaan nie. Van my kollegas het dadelik ander werk aanvaar en later besef dis ’n fout: Jy moet tyd maak om te herstel.

“Ek weet nou die mislukking is nie wie ek is nie. Dis iets wat ek ervaar het, maar dis nie my hele wese nie. Jy moet die twee skei. Almal beleef terugslae – ook die mees suksesvolle mense.”

Wat ek nou weet

  • Dis gevaarlik as werk jou grootste identiteit is, want met sake-sukses is daar soveel wat buite jou beheer is.
  • Dis nie doodsake nie, dis jou werk. Alle fasette van jou is belangrik.
  • Hoe jy mislukking hanteer, kan baie beteken vir jou toekoms en reputasie. As jy eerbaar optree teenoor mense en jou werketiek behou, wen jy respek.
  • Ek was oortuig ons tawwe bedryf sou my verwerp, maar was aangenaam verras deur die ondersteuning en werkgeleenthede. Ek was nog besig om die laaste goed uit te sorteer toe ek gevra word om ’n koerantrubriek te skryf. ’n Mens weet nie wat mense agter jou rug sê nie, maar daaroor het jy nie beheer nie en dis beter om jou nie daaroor te kwel nie.
  • Terapie kan help, maar uiteindelik moet jy vrede maak met jouself. Niemand anders se woorde kan help as jy nie self werk maak daarvan om aan te beweeg nie. Daar’s nie ’n lysie met stappe nie.

Kry nuwe asem
Sy’s aktrise, skrywer, regisseur . . . en heeltyd besig om haarself te herskep. Lizz Meiring pak projekte (altyd meer as een!) met al haar energie aan. Maar ’n paar maande gelede was die gevoel skielik daar, soos ’n ballon wat geprik is: Sy was sonder fut. Tot die dood toe moeg. En sy moes erken (met rollende oë, want sy’t altyd geglo dis twak): Sy was uitgebrand. Tipies Lizz het sy ’n plan gemaak: “Ek het geweet ek het dit geskep, en ek kon dit ‘ontskep’.”

Sy is nou weer besiger as ooit – met nuwe ywer. By die Suidoosterfees in Kaapstad (einde Januarie) is sy te sien in haar eenvrouvertoning Die vrou in die maan (ter viering van haar 25 jaar in die bedryf). Sy is ook skrywer en regisseur van die fees se vlagskip-produksie, Miss Africa South, met Vinette Ebrahim.

Impak op my selfbeeld
“Ek het my werk steeds goed gedoen, soos ek moet, maar die spark was weg. Dit knou my selfbeeld vreeslik. Ek kon nie glo my stamina laat my in die steek nie. My selfbeeld is direk gekoppel aan my vermoë om kreatief te wees. Dit was moeilik, want kreatiwiteit is wat my ’n kunste-junkie maak en laat aanhou in die beroep.”

My herstel
“Weggaan was nie ’n opsie nie. Daar was getekende kontrakte, geskeduleerde projekte. Ek het bly werk, maar twee maande lank my kop, hart, siel, nuuskierigheid en werkolisme ’n blaaskans gegee, elke oomblik wat ek kon.

“’n Paar jaar gelede het ek ook só gevoel, maar dié keer was ek nie paniekerig nie. Ek het dinge in perspektief gestel: Ek is nie so belangrik dat die wêreld sal vergaan as ek laaglê nie. Ek het gefokus op goed wat my energie voer en nie dreineer nie. Ek het alles wat my kop besoedel (soos die nuus), uitgeskakel. Ek het nie meer verantwoordelik gevoel vir ander se geluk nie en het nie die foon beantwoord as energiestelers bel nie. Ek het besef ek moenie nou skryf aan projekte wat lankal in my kop borrel nie. My normale sosiale kalender het ek ook tot die minimum beperk. Ek het net gehiberneer, asemgehaal en leer lui word. (Wel, my weergawe van lui.) Ek het nie in my emosies gaan delf of sielkundige redes gesoek of myself belowe dit gaan nie weer gebeur nie. Ek moes my batterye herlaai.”

Die bonusse
“Ek het in die winterson gaan lê met ’n reuse-rol papier en woorde wat vir my mooi is, neergeskryf – ’n ongestruktureerde mind map. Alles wat deur my gedagtes geflits het, is geteken of neergeskryf. Dit was so bevrydend dat ek soms kliphard gelag het.

“My innerlike kind het na vore gekom. Ek het weer leer wonder, want dis waar al my kreatiwiteit vandaan kom. Van diepsinnige vrae tot absurde goed. Maar ek het dit nie probeer beantwoord nie. Soms het my katte op die papier kom lê – daar was dus baie kat-buitelyne ook!

“My onkritiese, nie-projek-gedrewe gespelery het stadig weer lug en nuwe asem gebring vir my kreatiewe stamina. En my selfbeeld.”

Wat ek nou weet

  • Veral vroue vergeet: Jy is menslik. Jy hoef nie die wêreld op jou skouers te dra nie.
  • Voor jy hardloop vir hulp, onthou, die antwoorde is baie keer in jouself.
  • Soms kan jy maar jou kop in die sand steek – jy hoef nie altyd negatiewe, onnodige inligting te absorbeer nie.
  • As jy baie omgee vir ander, bestee jou energie daaraan om mense te help wat regtig gehelp en gelukkig wíl wees.
  • As jy jammerpartytjie hou oor jou “enjin” nie wil aanskakel nie, help dit soms om net daaroor te lag.
  • Staan ’n bietjie terug. Moegheid is een ding, maar daar is gesinne wat nie ’n dak oor hul kop het nie. Die beste perspektief wat ek kon kies, is die maan – van daar sien jy hoe nietig jy is, maar nie op ’n hopelose manier nie. Dit maak jou dankbaar.
  • Don’t invite your thoughts to tea. Jy hoef nie elke liewe gedagte in diepte te ontleed nie. Soms kan jy jouself leer ken deur net te wees.

 

*Besoek www.suidoosterfees.co.za. Lees ook in My Stories ons artikel oor Pearl Janssen, die eerste Mej. Afrika-Suid.

 

Raak verlief op jouself
Toe haar kêrel haar aan die keel gryp, het Debra Rennie van Kaapstad besluit: Tot hiertoe en nie verder nie. (Sy is in twee vorige huwelike óók fisiek en verbaal mishandel.) Sy moes werk aan haarself. Vandag, ’n paar jaar later, spreek sy vroue toe oor transformasie en leer hulle om hulself lief te hê. In haar boek, The Relationship Magnet, wat sy self in 2007 uitgegee het, gee sy raad oor destruktiewe verhoudings. In Desember 2008 het sy 16 dae lank met ’n motorfiets deur SA gery om geld in te samel vir ’n 24-uur hulplyn vir slagoffers van gesinsgeweld.

Impak op my selfbeeld
“Ek het geen selfbeeld gehad nie. My baas het my een keer gevra: ‘Besef jy mense wil nie meer saam met jou werk nie?’ Ek was altyd ’n aangename mens, maar ek het ál meer woede teenoor ander gehad omdat my selfbeeld so geknou was. Ek het eintlik bygedra tot my destruktiewe liefdesverhoudings, want ek het so needy geword dat ek gehoop het my man/kêrel sal die gat in my vul – dis ’n hoë verwagting.”

My herstel
“Ná die derde insident het ek besef ek moes vasstel hoekom ek sulke mans aantrek. Vier dae lank het ek sielsondersoek gedoen. Ek moes vrede maak met wie ek is en myself aanvaar. Hoe kon iemand vir my lief wees as ek nie myself lief het nie?

“Ek het baie gehuil en selfhelpboeke en kursusse deurgewerk. In ’n CD van Joyce Meyer het sy vertel hoe God ons lief het, ongeag wie ons is en hoe ons verlede lyk. Dit het baie vir my beteken.

“Daarna het ek ongelooflik gevoel. Ek het besef dis my keuse: Ek kan besluit wat ek wil verander, of ek kan besluit om myself net so te aanvaar.

“Dit het nie oornag gebeur nie. Jy bly aaneen werk aan jouself – jy ontdek iets positiefs, maar dan is daar weer ’n klein jakkalsie, en jy sê sommer iets leliks. Maar ek het baie bewus geraak van myself. As ek so iets kwytraak, ondersoek ek my gedrag.”

Bonusse
“Ek het op myself verlief geraak! Mense het begin sê hoe gaaf ek is en watter goeie werk ek vir vroue doen, maar ek het dit steeds nie geglo nie. Ek was bang ek klink arrogant. Nou weet ek dis nie arrogansie nie, dis wonderlik om lief te wees vir jouself.

“Ek is mal oor die lewe. Ek is reeds drie jaar lank in ’n verhouding met ’n baie spesiale man. My dogter het al gesê sy strewe daarna om soos ek te wees.”

Wat ek nou weet

  • Moenie jouself met ander vergelyk nie. Vergelyk jouself met jouself. Kyk hoe jy gegroei het.
  • Daar sal altyd struikelblokke wees. Party mense na aan my het nie die veranderinge in my erken nie en my steeds as pateties beskou. Dit het seergemaak. Ek wou byna in myself twyfel, maar ek het besef ek is sterk, taai en avontuurlik – ek kan enigiets bereik.
  • Ek gee nie om wat mense van my dink nie. Ek is mal oor teddiebere en blog soms oor hulle. Ek wonder nie of mense dink dis laf nie! Dit maak my gelukkig en sit ’n vonkel in my oog.
  • Moenie jou ore uitleen nie. ’n Goeie maatstaf van wanneer jy wél
    moet luister, is as drie verskillende mense dieselfde ding oor jou sê
    (sleg of goed).

 

*Besoek ook www.debra.co.za.