Eie stories

Leser Christa de Wit moes haar versoen met hul kinderlose lewe, maar toe . . .

“Ek merk vanoggend op die bottel parfuum wat ek sowat ’n jaar gelede met ’n brief in SARIE se Junie 2011-uitgawe gewen het, is halfpad. Sedertdien was daar voorwaar nie baie tyd om aan smuk te bestee nie. My wildste drome sou my nie kon voorberei op wat die jaar sou oplewer nie!

Die wenbrief getiteld ‘Surrogaat-engel’ was oor ons besluit om ’n surrogaatmoeder te gebruik weens die chroniese outo-immuunsiekte [veelvuldige sklerose] waaraan ek ly, asook drie mislukte IVF-pogings [in vitro-fertilisasie/bevrugting].

Die hormoonstimulasies het nie goeie eierselle opgelewer nie, en herhaalde hormoontoetse het getoon dat ek in my vroeë menopouse is – dus was swangerskap finaal nie meer moontlik vir my en my man, Wimpie Odendaal, nie. Verbysterend.

Die brief was deel van my besinning oor kinderloosheid.

In die eerste maand ná ons ‘ontslag’ uit die fertiliteitskliniek het ek nie gemenstrueer nie. Ek het ’n bloedmonster vir swangerskap laat neem, maar dit was negatief. Die werklikheid van menopouse op 37 
en kinderloosheid het my nou soos die spreekwoordelike skoot yswater
 in die gesig getref, maar die lewe 
moes voortgaan . . .

Ek het maar besluit om weer voort te gaan met my chroniese medikasie –
 inspuitings drie keer per week.

Ek moes die inspuitings eers staak tydens die vrugbaarheidsbehandeling omdat dit potensieel baie skadelik vir embrios of fetusse kan wees.

Ná die tweede maand dat ek nie gemenstrueer het nie, het ek al hoe meer vrede gemaak met ons situasie –
ek is in my menopouse. Sonder kinders. Dit was finaal. Ek het probeer om myself emosioneel af te sluit as ek hoor van nog vriende en kennisse wat swanger is met hul eerste, tweede of selfs derde kind, al was ek tog opgewonde om hul onthalwe.

Ek het probeer om myself te troos dat my gesondheid dalk nie ’n swangerskap of baba kon deurstaan nie, en dat dit dalk maar so bestem is. Maar onder al hierdie verskonings was daar ’n diepe hartseer oor die finaliteit van alles vir my en Wimpie. Ek het my vriendinne met kinders gesmeek om my ook te nooi na hul kinderpartytjies en my nie uit te sluit omdat ek nie ’n kind het nie, net sodat ek dit darem ook kan beleef.

Dan was daar nog die warm gloede snags – wát ’n onwelkome verrassing by dit alles!

Ná ’n terloopse opmerking oor naarheid een Maandagoggend het Wimpie my oorreed om vir ’n tweede swangerskaptoets te gaan. Hy het verskoning gemaak vir die ‘wrede’ voorstel; daar was mos wetenskaplik geen sin om weer getoets te word en so nog ’n keer deur die pyn te gaan van ’n toets wat negatief is nie!

Maar die urien-swangerskaptoets wat ek in teetyd by die werk gedoen het, het twee duidelike strepe gewys! Ek het vervaard na die vervaldatum op die toets gesoek – dié een moes sweerlik lankal reeds verval het en onakkuraat wees. Die klein badkamer se vloer het onder my weggetuimel 
en die plafon het gedraai. Ek het
 nie geweet of ek bly of vreesbevange moes wees nie.

Dit was mos nou glad nie moontlik nie . . . en wat van al die gevaarlike medikasie wat ek reeds in die laaste paar weke ingespuit het? As daar dan ’n baba is, is hy seker nie meer lewend nie. Die gevoel was surrealisties en onwerklik ná die emosioneel intense tyd van vrede maak en besin.

My ginekoloog kon my wonder bo wonder gou oor middagete inpas. Twee mense het ongeduldig vir my getoet op pad na die dokter toe weens my gebrekkige bestuursvermoë!

Dit blyk toe dat die eerste bloedtoets wat gedoen is om ’n duistere rede vals negatief was en dat ek meer as agt weke swanger is!

Dit was ’n babaseun met ’n sterk hartklop – ten spyte van die sterk medikasie wat ek gebruik het. Die warm gloede is veroorsaak deur die verhoogde produksie van progesteroon tydens swangerskap en nie weens die menopouse nie.

My hele swangerskap was maar spanningsvol met die vrees dat iets wel dalk verkeerd kan loop.

Die wonderwerkie van God is in Januarie 2012 gebore met die blouste blou hemel-ogies wat jy jou kan voorstel. Tot op hede is my gesondheid ook op wonderbaarlike wyse gespaar.

Christiaan is waarlik ’n volmaakte klein engel in lewende lywe, vanuit die hemel vir ons afgelaai.
Daar sit nie eens ’n merkie waar sy vlerkies afgebreek het nie!”

[box:full:grey:both]

CHRISTA SE OORSPRONKLIKE WENBRIEF, JUNIE 2011

[/box]

Surrogaat-engel
 

Jul artikel oor die surrogaatma (April 2011) was insiggewend en baie positief. Dis ’n ongemaklike onderwerp om in ’n geselskap aan te roer
en aan te kondig dat jy en jou man ’n surrogaat moet gebruik om ’n baba van jul eie te hê.

Die stilte daarna is gewoonlik tasbaar. Is dit kritiek? Openlike afkeur selfs? Vrae wat jy jouself honderd keer afgevra het, hang in die lug: “Doen
jy die regte ding? Sal jy die regte persoon vind?”

Dan besef jy een Maandagoggend in spitsverkeer dis jul enigste kans
op ’n eie kindjie!

Ek en my man moes ’n jaar gelede hierdie besluit neem. Weens ’n chroniese siekte kan ek nie self ’n baba dra nie. Ons surrogaatma is gestuur soos ’n engel uit die hemel. Ons eerste drie pogings was onsuksesvol, en sy was elke keer ewe verpletter. Daar’s baie vrae en vertwyfeling.

Die boodskap is egter duidelik: Al lyk als perfek onder die mikroskoop,
is daar ’n Hoër Hand wat hieroor besluit.

Surrogaatskap is ’n emosionele en komplekse onderneming. Al die partye is onder geweldige emosionele en sielkundige stremming.

Al wat ons nodig het, is empatie en ondersteuning vir die oomblik!

– Christa de Wit, Melkbosstrand

* FOTO’S: Heidi Boonzaaier. Besoek portraiturebyheidi.com of kontak Heidi by portaiturebyheidi@gmail.com

  • RIA LOURENS

    Dit is die pragtigste baba – en ouers – Ek is bevoorreg om 4 kinders, 10 kleinkinders en 3 agter kleinkinders te hê en is oneindig lief vir hulle. Ek kan my net voorstel hoe julle moet voel oor jul baba. Mag jul vreugde geen einde ken nie en jul toegevou word in God’s liefdevolle arms. Geniet dit – ook die ‘bad’ dae. Groetnis. Oumagrootjie.

  • Trudie Coetzee

    Christa, ek ken jou nie. Ons het 24jr gelede ook in Melkbos gewoon en daar het ek ook uitgevind
    dat ek Veelvuldige Sklerose het. Ek dink dis wonderlik dat jy ‘n baba het, tenspyte van jou siekte.

    Ek het nou vier kleinseuns van 1 jaar, 2 jaar, 4 jaar en 7 jaar. Hulle ken my net met krukke, ‘n rolstoel en nou my loopraam, maar dis vir hulle o.k. Ek speel met hulle, maar kan hulle net nie ronddra nie. My hart wil breek as die twee kleintjies hulle handjies opsteek en vra om opgetel te word, maar ek vergoed op ander maniere daarvoor! Ek bly positief en werk selfs in my tuin al het ek nie balans nie. As ek uitgeput is, gaan rus ek net.

    Geniet jou baba!

    Groete,

    Trudie Coetzee.

  • Judy

    wow Christa wow wow!! Jy is so geseend! My ousus het ook MS en is ongelukkig nooit getroud of kinders gehad nie. Ek sien egter met my seuntjie dat hy haar nie anderste ken as sy gunsteling tannie wat in die rolstoel sit maar nog steeds sy bal vir hom kan gooi nie (soms skeef en soms vang sy helemal mis, maar ja die aandag wat sy aan hom gee is daar), sy kan nie saam hom rondhol nie, maar kan die een storie na die ander lees en met aandag luister as mamma te haastig is om iets te moet gaan doen. Wat ek vir jou wil se is – kinders is baie aanpasbaar en sal aanpas by JOU situasie, moenie dat enige iets jou keer om voluit te lewe nie. Geniet die klein engeltjie!

  • Ilze

    Hallo Christa, as ek so na jul seuntjie se mooi blou ogies kyk, dan dink ek ook Liewe Jesus het vir julle ‘n engeltjie gestuur. Ek is baie bly vir julle part. Ek en my man is nou 15 jaar getroud en probeer ook al vir 11 jaar vir ‘n wonderwerk om te gebeur. Ons ken ook die seer van drie KI’s en vroeër die jaar een onsuksesvolle invitro. Agv ons finansiële stand is dit nou die einde van die pad. En ons sien ook nie kans vir nog verdere behandeling nie. Met my kop probeer ek nou vrede maak dat ons gaan kinderloos wees. Maar met my hart hoop ek nog elke dag dat daar ‘n wonderwerk sal gebeur. Ek is nou 38 jaar oud, amper 39 vroeg volgende jaar. In ons geval het hulle al, al die toetse gedoen en kry geen fout nie. Dit is wat dit vir ons so moeilik maak. As die dokters net vir ons kon sê dit is hopeloos, julle sal nooit kan kinders hê nie, dan het ek dit makliker aanvaar, dink ek. Maar nou sê die dokter elke keer vir ons daar is net groenligte en ek behoort te kan swanger raak. Ag, wat nou? Ek is al so moedeloos gedink en geredeneer in my kop. Dit is my storie. Mag julle klein blou oog engeltjie nog baie vreugde in julle lewe bring en baie sterkte met jou gesondheid!! Groete, Ilze