Eie stories

Lesers skryf vir Steve se ma

Gee Steve net kans

Ek lees met hartseer die artikel oor Carien Hofmeyr (“Steve se ma praat 1ste keer”, Maart 2009). Sy weet nie waar die kwaad vandaan kom nie. Ek is deur ‘n huwelik van 12 jaar van emosionele aftakeling deur my gewese man én sy pa. Menigmaal het ek met my dogtertjie na my ouers “gevlug”.

Ek is 5 maande geskei, en my kwaad en aggressie is iets van die verlede. Ek het ‘n wonderlike man in my lewe wat my soos ‘n prinses behandel. Ek het God opnuut gevind en het vrede in my hart.

Ek was ook op ‘n vernietigingstog, het te veel gekuier en het mans se aandag verwelkom. Hoekom? Omdat ek leeg en seer was. Omdat daar ‘n gat in my hart was. Dís hoekom mense so optree, Carien. Almal wys die vinger na Steve. Maar ek glo niemand sal ander liefde soek as mense ware sielsgenote is nie. Steve sal nog by daardie vrede uitkom, gee hom kans.

Seer is verby, Bloemfontein

 

Staan by jou seun

Ek is ook ‘n ma! En vir Steve se ma wil ek net sê: Staan by jou seun. God het hom vir jou gegee. Diegene wat Steve nie in vrede kan los nie, beroof hulle van hul eie tyd. God het ons elkeen net een lewe gegee. Die asem wat mense mors, kan hulle eerder gebruik om onkruid uit die tuin te trek of ‘n knoop aan te werk wat al lank af is.

Gebruik jul krag positief. Los maar vir Steve en kry jul eie lewe in orde. Vee die spinnerakke onder jul eie bed uit. Steve is mooi groot. Laat hom toe om sý spinnerakke self uit te sorteer.

Rina van Zyl, Boksburg