Eie stories

Lesersbrief: Ware liefde

My man bederf my jaarliks met ’n sonvakansie in my moederland, kleurryke Suid-Afrika. Ná die Europese koue bak ek dan soos ’n dassie in die son, eet vleis soos ’n uitgehongerde leeu en kuier ure ommet my familie en hartsvriende. Die vorige keer moes hy vir werk agterbly, en ná ’n week van alleen kuier breek
die verlange na hom stadig in my hart oop. En ek begin nadink oor ware liefde.

As tiener het ek gedink dis die vurige eerstespanrugbyspeler wat my leer soen het. Op universiteit die
gladdebek regstudent wat met sy lang hare en soet beloftes met my kop kon toor. Maar hoe groot was die verrassing toe ware liefde my saggies bekruip en my teer omvou. Dis ’n dekade later en ek ontdek
steeds die betekenis van liefde.

Liefde aanvaar jou soos jy is. Liefde neem jou hand in syne en stap die lewenspad saam met jou – onvoorwaardelik. Dit sien Godgegewe eienskappe in jou raak, koester, troos en vermaan. Apart funksioneer julle heeltemal goed, maar saam kom julle tot jul volste glorie. Byna soos sout plaasbotter op warm brood, ryprooi tamatieskywe en vars basiliekruid … julle hóórt bymekaar.
Renza Vermeulen, Engeland