sr0906liefdesbrief04
Eie stories

Liesl Hugo van Malmesbury, skryf:

My man, my groot, liefdevolle, sterk sielsgenoot se oë skiet vol trane: “Dankie, my vrou, vir ons mooi, volmaakte seun.” Twee keer het ek jou so gesien, met trots in jou oë. Twee keer het ek vir jou seuns gegee wat jou hart dadelik sou steel, my grootste geskenk aan jou.

Ek skryf vir jou ’n brief of sal ek sê ’n beleidenis van intense liefde, ’n paar woorde met rooi harte rondom. Ek was maar 15 toe ek jou op Loxton se boeresport ontmoet het. My ma het net gelag toe ek haar vertel dat ek vandag my trouman ontmoet het. Ek het jou naam styf teen myne in ’n hart gaan uitkrap op die koppie by die dam, bang as ek dit nie doen nie gaan ek jou dalk verloor. Ek het met verwondering na al die name op die klippe gekyk, sommige so ver terug as 1908 en gewonder of hulle ewige geluk gevind het.

Ek is nou ampertjies 19 jaar jou vrou en my verliefdheid sukkel om te verander in gewone grootmens-liefde. Is dit verkeerd van my om nog te sê ek is verlief? Is dit verkeerd van my om te wens dat jy aan my kan vasgroei, sodat ek jou altyd by my kan hê? Is dit verkeerd van my om deur woorde en mense te stap, want ek wil by jou staan, na jou woorde luister, jou stem hoor?

Ek kyk na jou en wonder wie is ek, wie is ek om iemand soos jy te kan hê? Jy is die bloed in my are, die lug in my longe, elke hartklop behoort aan jou. My man met die groot hande en sagte glimlag, jy het my hart gesteel toe ek net ’n kind was. En steeds behoort my 40-jarige hart net aan jou.

Vanoggend het ek my hand op jou bors gesit om jou asemhaling en hartklop te voel. Ek het na jou gekyk en saggies gebid vir jou. Ek het na jou lippe gekyk wat my al soveel keer sagkens gesoen het. Ek het na jou toe oê gekyk en gewonder of jy van my droom. Ek het na jou gekyk en my hart was vol liefde. Ek kyk na ons kinders, soek jou in hul oë, en vind jou daar. Al jou mooi is in hulle en om hulle. Ek verwonder my aan die manier waarop hulle met jou praat en na jou kyk met soveel liefde, bewondering en respek. Dankie vir die wonderlike pa wat jy vir hulle is. Dankie dat ons veilig, beskerm en geliefd kan voel by jou.

My man, ek hou jou vas in my hart waar jou naam ingekerf is, ’n wond wat bloei van liefde, ’n wond wat nooit gesond sal word nie. Ek hou jou vas in my asem. Ek hou jou styf teen my lyf en weet ek wil nooit weer los nie. Ek wil saam met jou oud word. Ek wil in jou armholte lê en jou koester. Ek wil my vingers deur jou hare vryf, in jou oë kyk en weet ek het gelewe, voluit met ’n verliefde hart wat net vir jou klop. Ek wil jou hand vat en weet jy is deel van my. Vir net 14 jaar van my lewe het ek jou nie geken nie, maar toe al was ons pad saam beplan.

Man van my hart, Bertie, pa van ons seuns, op hierdie oomblik voor die son sy strale oor die plaas gaan gooi, wil ek saggies in jou oor fluister en sê slaap nog ’n rukkie sodat ek jou nog ’n bietjie kan vashou, jou kan inasem.

Ek is lief vir jou.

Liesl