Eie stories

Liezel Potgieter van Warmbad, skryf:

Wanneer laas het ek vir jou ’n brief geskryf? Die laaste keer toe ek vir jou broodjies gepak het en sommer vinnig met ’n merkpen vir jou “I love you” geskryf het?

Vandag wil ek vir jou ‘n liefdesbrief skryf en ek wil hê die hele Suid-Afrika moet dit sien.

Ek wil vir jou skryf dat ek baie lief is vir jou en dat my hele wêreld om jou draai.

Ek wil vir jou dankie sê vir die goeie pa wat jy vir ons kinders is.

Ek wil vir jou dankie sê vir die goeie man en “lover” wat jy is.

Nie net is jy my beste vriend nie, jy is my sielsgenoot.

Jy is die silwer rand om my donker wolk,

Jy is my reënboog ná die reën,

Jy is my lewe, jy is al een wat ek bemin.

Saam is ek en jy al deur baie donker tye, maar elke keer word ons huweliksbande net sterker en sterker.

Jy is die een wat elke Sondagaand my voete versorg, ou Cutex afhaal, puntjies in lyn sny en dan soos ’n wafferse kunstenaar al die toontjies weer verf. Ek weet dit het ’n gewoonte geraak, maar dit is een van die klein dingetjies wat jy met soveel liefde en sorg doen wat ek vir altyd in my hart sal bêre.

Op die oomblik sien ons nie veel van mekaar. Dit is net naweke wat ons so tussen kinders en allerhande dinge ’n paar steel-oomblikke probeer spesiaal maak.

Ek mis jou warm mansmens-lyf. Ek mis dit baie, want niemand houvas my styf.

Ek mis jou, want jy is nie hier om vir my badwater in te tap of om tandepaste op my tandeborsel te sit nie.

Ek mis jou, want ek kan nie net in die bed klim oor ek weet jy sal die ligte afsit en kyk dat die deure gesluit is nie.

Ek mis jou, want my lewe voel leeg, en dit alles oor my beterhelfte dieselfde leegdheid as ek ervaar, en nie een van ons enigiets daaraan kan doen nie.

En dit alles oor jy die lewe ’n beter plek vir my en die kinders wil maak.

Van ons albei weet ek die skeiding is vir jou die ergste, want jy weet ek is hopeloos verlore sonder jou.

Ek kan nie eers gou-gou Spar toe gaan vir ’n brood nie, want ek kan nie rigting hou nie. Ek verdwaal baie maklik soontoe of terug.

Hoeveel keer het ek jou al gebel, in trane oor ek nie weet waar ek is nie. En dan kom ons agter ek is net ’n blok of so agter die huis. Dan is jy die geduldige een wat my die regte pad oor die foon huis toe beduie. Jy wys dit nie, maar ek het meer as een maal al die verligting op jou gesig gesien as ek “veilig” terug is. Jy weet nie van al die blydskap wat deur my spoel as ek jou in die pad sien staan en arms swaai oor jy bang is ek sien jou nie.

Ek spog met jou, want ek wil hê almal moet weet daar is nog goeie mans daarbuite. Ongelukkig vir hulle is jy gevat. Ek hoop in my hart dat ons seun in jou voetspore sal volg, dat hy ook vir sy vrou so goed sal wees soos jy vir my.

En ek bid dat ons dogtertjie ’n man van dieselfde stoffasie as jy sal kry. Jy laat my huil, jy laat my lag, jy laat my verlang na jou in die donker nag.

Min mense het gedink ons sal die paadjie saamstap, maar ons het en ons doen dit steeds. Saam met jou sal ek aanhou stap. Ek gee nie om vir die klippe of vir die rooi grond tussen my tone of vir die duwweltjies waaroor ons moet stap nie. Solank jy saam met my stap. Ek weet ons sal eendag terugkyk en sê “wow, ons het dit gedoen”.

Als is nie altyd net maanskyn en rose nie, dit weet ons. Maar al die mooi tussen ons maak op vir al die minder mooi.

Min mense kan net vir mekaar kyk en weet wat in die ander een se kop aangaan, soos ek en jy.

Jy is my liefling, my darling, my dear,

Met jou trou ek wraggies weer en weer.