sr0908hoetjygevoel_1_
Eie stories

Liezel van der Westhuizen, hoe het jy gevoel toe…

Liezel van der Westhuizen, Idols-aanbieder, was bly én hartseer. ’n Groot aantal stemme is weens stelselprobleme nie betyds vir die finale episode getel nie. Sasha-Lee Davids van Kaapstad moes toe die kroon aan Jason Hartman van Durban afstaan. Daar’s egter besluit dat Idols vanjaar twee wenners sal hê.

“Die Woensdagaand vóór die nuus gebreek het, was ek en Jason by ’n vertoning van die groep Changing Face op Vereeniging. Ek was seremoniemeester en hy ’n gas. M-Net het hom so agtuur gebel om te sê die stemme gaan oorgetel word. Hy’t agter die verhoog vir my kom sê. Maar ek is self enkele sekondes tevore per selfoon ingelig. Jason was fine, rustig. Toe ek twee dae later hoor hy’t gewen . . . ek het botsende emosies gehad. My hart wou breek vir Sasha-Lee. Maar terselfdertyd was ek só bly vir Jason. Dit was asof my sussie ’n posverlaging gekry het, terwyl my boetie bevorder is.

Ek het niks vermoed nie. Die week voor die finale episode was dán sy, dán Jason voor. In Kaapstad het die mense ’n groot ophef van Sasha-Lee gemaak, terwyl Jason nie soveel sigbare ondersteuning gekry het toe ons in Durban was nie. Toe ek die Maandagaand die briefie met die uitslae oopmaak en Sasha-Lee se naam sien, was ek dus nie verbaas nie. Albei is talentvol, albei het dit verdien. Ek was in elk geval so besig om my gesig onleesbaar te hou dat ek nie aan iets anders gedink het nie.

As aanbieder kan ek nie emosioneel betrokke raak nie. My rol was om ’n vriendin te wees en hulle te ondersteun. (Ek het vier jaar by EMI gewerk en het ervaring van die musiekbedryf.)
Idols het my baie van myself geleer. Ek’s ’n perfeksionis. Maar ek het geleer om te ontspan, die wêreld gaan nie vergaan net oor ’n glipsie op TV nie.

Idols . . . ek saai steeds op Jacaranda 94.2 uit. Ek’s betrokke by ’n nuwe TV-program, maar ek kan niks meer verklap nie. Ek skryf ook ’n silwerdoek-komedie saam met een van ons bekende komediante. Dan gaan ek saam met ander kunstenaars kinderstories op CD opneem.”

* Besoek haar webwerf, www.liezel.co.za.