Eie stories

Liza Müller van Kuilsrivier (Wes-Kaap), skryf:

Aan my Lief – my begin en my einde

Onthou jy ons eerste briewe aan mekaar? Hoe maklik verliefdheid die woorde laat vloei het? Die lekkerruik-kol het die ink laat vloei, en ek het my toe-oë verbeel hoe ek jou vashou terwyl ek die brief lees en ruik … vlinders in my maag en sterre in my oë. 

Ek het beeldhouwerk gemaak met ons drome en toekoms. Nou het jy, jou nare tegnologie, my ontneem van my drome en dit verander in een of ander kodetaal wat ek nie kan verstaan nie.

Ek staar woordeloos na die wit papier. Het ek vergeet en verleer wat eens vir my belangrik was? Is dit die rede hoekom ons partykeer haak, soos ’n nael wat gevyl moet word? Ek wil jou vertel hoe ek voel. Ek wil my hart skoonmaak op hierdie wit papier, sê waarvoor daar nie meer tyd is in ons gejaagde lewe nie. Ek wil hê dat jy hierdie brief naby aan jou hart moet hou, dit raam en teen jou hart se kamer hang.

Soggens wanneer die voëltjies sukkel om my swaar ooglede te laat roer, is jy eerste in my gedagtes – my begin. Saans laat as ek seker gemaak het dat ons twee engeltjies veilig slaap en jy swaar langs my asemhaal, is jy die laaste in my gedagtes – my einde.

Dit voel soos gister wat ons hardop “ja Dominee” belowe het, voor God en sy gemeente, deur dik en dun, “till death do us part”.

Dis vanjaar ons dertiende seerit saam: 16 Maart. Ek is lief vir die see. Hy’s rustig en kalm by tye en dan omgekrap onstuimig, my toevlug as dinge skeefloop, net soos jy, my Lief.  Die seerit saam met jou begin nou eers voel soos ’n ontdekkingsreis. Die seesiek en al die op en af deinings het nou finaal tot bedaring gekom.

Jy het my geduldig bygestaan, in my ongeduld en pyn, vanaf die eerste asemteug en gehuil van ons dogtertjie. Ook toe ons 4,28kg-seun so rustig in die wêreld gekom het.

Jy is die een by wie ek my koue voete in die winter wil invleg. Dis jou naakte bolyf wat ek wil aanskou in die maanlig van ’n somersaand, terwyl die koel luggie ons hoendervel gee van lekkerte. Ek wil ons kinders se mylpale en seerkry met jou deel oor ’n glasie chardonnay. Ek wil oud word saam met jou, langs die see stap en terugdink aan al die herinneringspore wat ons saam agtergelaat het. Ek wil ons kleinkinders in jou oë sien en nuwe sandkastele met hul drome bou.

Die jaar het weer vir ons begin. Ek moes jou hand vashou en moed inpraat vir die harde jaar wat voorlê, byna soos met ons kind se eerste skooldag.

My riglyne aan jou: Maak my brief jou kalender, my woorde jou toevlug en my liefde jou sekerheid. Ek sê nie dikwels ek is lief vir jou nie, maar my dade is beter as my woorde. Dis waarom ek my ink en gevoelens laat saamvloei, sodat die betekenis voor jou lewendig kan word.

Ek is lief vir jou, al raak die see onrustig en onstuimig. Ek bly lief vir jou, want ek het uiteindelik die rustigheid en die kalmte van die see by jou gevind.

Seemyl-liefde