Eie stories

Lize Beekman oor haar pad in die musiekbedryf

Uittreksel: 50 Stemme – die Grootste name in Afrikaanse musiek deur Ilza Roggeband (vrygestel deur Jonathan Ball). Dis vrylik by alle boekwinkels landswyd beskikbaar teen R230.

Sy is op 22 Julie 1974 in Bellville buite Kaapstad gebore en het al kleintyd begin liedjies opmaak.

“Ek het nuwe woorde vir bestaande liedjies geskryf,” onthou sy. “Ek het byvoorbeeld ‘Ver in die wêreld Kittie’ herskryf met woorde vir my ouma Bessie. Die laaste versie was: ‘En ons is baie lief vir haar, lief vir haar, lief vir haar voorwaar.’ Ouma Bessie het in Februarie 2009 ‘n volle 102 jaar oud geword. Toe ek nog ‘n klein dogtertjie was, het dit al vir haar moeilik begin raak om kerk toe te stap. Ek sou ‘n kassetspelertjie neem en vir haar ‘preke’ opneem. Ek het ‘n stukkie uit die Bybel gelees, vir haar gepreek en dan gesing. En ek het gepréék! Vir haar presies gesê wat die versie beteken wat ek vir haar gelees het.”

Haar broer Riaan het kitaar gespeel en sy het so met die dophou haarself leer speel.

“As hy nie by die huis was nie, het ek sy kitaar gevat en gespeel. Dit was nie lank nie, toe speel ek beter as hy. Hy het niks daarvan gehou nie en sommer ophou speel. In my eerste jaar op skool het ek al die Bybelklassies begelei en so van die een klas na die ander gestap met my kitaar.”

Sy het in graad 1 begin klavier neem en tot by graad 6 gevorder. “Tot vandag toe is ek spyt ek het nie klaargemaak nie, maar dankbaar dat die grondslag gelê is,” sê sy.

Kunswedstryde, kultuuraande en kore was deel van haar lewe en in graad 4 het sy ‘n lid van die

“My hart se punt

en die meisiekind

wat loshande van

die beste liedjies

skryf wat nog ooit

uit ons land gekom

het. Dit breek my

hart dat Lize nie

internasionale

blootstelling kry

nie – haar liedjies

verdien dit!”

– Elzabé Zietsman

Tygerbergse Kinderkoor onder leiding van Hennie Loock geword.

“Een van my hoogtepunte in die koor was toe ons tydens die Dias-fees in Mosselbaai in 1988 opgetree het. Carike Keuzenkamp het ook opgetree en ek was ‘n groot aanhanger! Ek het ongelukkig die dag van die optrede siek geword en moes hospitaal toe, maar ek het self die drup uit my arm gehaal, want ek móés gaan sing. Ek het die koor op kitaar begelei en van die ander meisies in die koor moes my rok vashou sodat ek nie omval nie. But the show had to go on en ek het vir tannie Carike ontmoet!”

Lize was 12 jaar oud toe sy by ‘n kultuuraand by haar skool opgetree het en een van haar eie liedjies, “Like an eagle”, gesing het.

“Oom Hennie het dit gehoor en sy vrou Theresa het dit vir die koor verwerk. Ek was die solis op die liedjie en oom Hennie het by ‘n koorkamp agter my kom staan en my arms opgelig om te wys hoe ek moet uithaal en wys! Ons het gereeld staande ovasies gekry as ons die liedjie gesing het, en met ‘n toer na Johannesburg was Boet Pretorius van Decibel in die gehoor. Hy het later my ouers gekontak en gesê hy wil die liedjie vir een van sy kunstenaars hê. Dit was toe die titelsnit van Clive Bruce se volgende album. Dit was ‘n groot oomblik toe ek die kasset gekry het.”

Op hoërskool neem Lize deel aan die Sterre 2000-kompetisie en in 1997 wen sy met haar liedjie “Liewe dagboek”.

“Die Desember voor ek hoërskool toe is, is ek seksueel gemolesteer in ‘n woonwapark. Ek het gelukkig weggekom, maar ek het vir twee jaar vir niemand daarvan vertel nie omdat ek skuldig gevoel het. Ek het dit probeer uitblok uit my geheue, maar dit het my later begin affekteer en ek het baie rebels geword. My ouers het besef daar is fout en ek het toe vir die eerste keer daaroor gepraat. ‘Liewe dagboek’ is geïnspireer deur daardie gebeurtenis en die boodskap van die liedjie is dat kinders vir so lank as moontlik kind moet bly. Daardie voorval in die woonwapark het my van my kindwees ontneem.”

In graad 11 en matriek neem sy ook aan Crescendo deel. “Die een Crescendo-oudisie was net ná ‘n hokkiewedstryd en ek het nog my hokkieklere en toks aangehad. Christa Steyn was die beoordelaar en ná ek ‘Liewe dagboek’ gesing het, het sy so gehuil sy kon omtrent nie praat nie.”

Lize wen albei jare die skeppende afdeling by Crescendo. “Dit is waar ek mense soos Jannie du Toit en Christa en Laurika Rauch ontmoet het, en van toe af het ek mentors gehad. Kunstenaars soos Suzette Eloff en Lizbé Visser het toe reeds van my liedjies begin opneem.”

Lize onthou ook onderwyseresse wat haar deur die jare geïnspireer het.

Susan du Plessis was my Afrikaansonderwyser en sy was ‘n aanhoudende inspuiting. Sy het my vreeslik aangemoedig om te skryf. Ek kon nie wag vir die volgende opstelonderwerp nie! My musiekjuffrou op laerskool, juffrou Rabie, en my koorjuffrou, Petro Bell, het ook ‘n spesiale plekkie in my hart. By hulle het ek geleer dat dit nie net gaan oor jou liefde vir musiek nie, maar dat dit baie dissipline en baie oefen vat om iewers te kom.”

Musiek was nie al wat Lize besig gehou het nie. Sy het op laerskool vir WP tennis gespeel en op hoërskool het sy hokkie en tennis gespeel, sy was redakteur van die skoolkoerant en hoofdogter van Hoërskool Stellenberg. “Ek was ‘n besige meisie,” lag sy. “Hoërskool was vir my ‘n loopbaan!”

Haar plan was om grafiese kuns te gaan studeer, maar by die finaal van die Sterre 2000-kompetisie het Christa Steyn met haar ouers gepraat. “Sy het vir hulle gesê hierdie kind moet eenvoudig net musiek maak,” vertel Lize. Sy is na die Pretoria Technikon, waar sy ‘n nasionale diploma in ligte musiek gaan studeer het.

“In die begin was dit vir my oorweldigend. Ek was die eerste dag baie ontsteld omdat een van die lektore gevloek het! Alles was net so nuut en dit was my eerste blootstelling aan jazz, wat nogal vreesaanjaend kan wees as jy dit die eerste keer hoor. Estelle Kokot was my eerste sanglektrise. Sy was ‘n formidabele vrou en ek moet bieg ek was bietjie bang vir haar. Heidi Edeling het haar opgevolg en by haar is ek aan verskeie style bekend gestel. Ek was so ywerig om te leer dat niks my sou onderkry nie. Ek het ook toe al instinktief geweet hierdie is ‘n lang pad wat ek aanpak.”

“Lielie is op ‘n manier my protégée.

Ek onthou hoe sy senuagtig vir my in 1997 ‘n demo-CD van haar gegee het om na te luister. Ek was geweldig beïndruk met haar lirieke en haar stem. Ek het haar dadelik gekontak. Saam het ons vyf van die 16 liedjies op my eerste selfgeskrewe album, Vrou voor die spieël, gekomponeer, waarvan die titelsnit een was. Sy is een van die min liedjieskrywers wat geweldige groei toon in haar loopbaan. Ek mis nooit ‘n vertoning van haar nie. Ek is ongelooflik trots op haar, as kunstenaar en as mens.

– Amanda Strydom

Sy het alles onder die son gedoen – liedjies geskryf, in produksies gesing, stelle gebou en geverf en soveel moontlik van die tegniese kant geleer. “Omdat ek wou weet hoe om vir ‘n drommer te skryf, het ek leer dromme speel. Baskitaar ook. ‘n Vriend het my weer soveel moontlik probeer leer van klank. Ek wou weet wat al die knoppies doen en waarvoor al die afkortings staan.”

Ná technikon het sy by Jannie du Toit se platemaatskappy, JNS Musiek, gaan werk. “Ek het bestellings geneem, pakkies opgemaak en dit gepos,” sê sy. “Dit was baie waardevolle ondervinding, want ek kon regtig sien hoe die musiekbedryf in die praktyk werk. Ek het gesien dat jy ‘n debuut-CD kan uitbring, maar dat dit nie noodwendig beteken jy het ‘n loopbaan nie. Van die kunstenaars het tussen 4 en 10 CD’s per maand verkoop en dit het my goed voorberei vir wat sou voorlê.”

Dit was by JNS waar Lize en Amanda Strydom se paaie in 1997 die eerste keer gekruis het.

“Ek het gewag vir die dag om haar te ontmoet en het ‘n kasset in my laai gehad met van my liedjies op. Sy het so ‘n groot serp om haar skouers gehad en ‘n sonbril op haar gesig en was by JNS om CD’s te kom haal. Sy was so vinnig daar in en uit, as daar blare op die vloer was, het dit gewarrel! Ek was so gespanne. Ek het na haar toe gestap met die kasset in my hand en stotterend gepraat toe sy sê:

‘Bokka, jy moet vinnig praat, ek is haastig.’ Sy is daar weg met die kasset en ek het gedink sy gaan nie eens onthou die kasset is in haar handsak nie!

“Maar die middag toe kom haar man, Tony, daar aan met ‘n kaartjie en ‘n roos. In die kaartjie het Amanda geskryf ek herinner haar aan ‘n jong Janis Ian en dat sy graag saam met my wil werk. Vier dae later het ek die oggend tienuur by haar huis ingestap en vyfuur die middag het ons vyf liedjies vir Vrou by die spieël klaar geskryf.”

Nie dat dit maklik was nie. “Dit was ‘n behoorlike vuurdoop. Amanda sou die lirieke voor my sit, ek sou dit een keer deurlees en dan sê sy: ‘Speel wat jy hoor.’ Maar ons het net gekliek. Ek het gespeel en sy het gesing en ons het die hele tyd na dieselfde plek toe gegaan.”

Lize het as Amanda se begeleier begin werk toe Anton Nel, haar vorige begeleier, weg is. “Sy het ‘n kasset na my toe gebring en gesê ek moet daarna luister en dit net so speel. Ek het nog voldag by JNS gewerk en het soggens vieruur opgestaan en begin oefen tot halfsewe, wanneer ek reggemaak het vir werk. Middagete is ek weer huis toe om te oefen en in die aande het ek net geëet en dan weer begin oefen. Ek het geoefen soos juffrou Rabie my op laerskool geleer het. Twee weke later het ek Amanda vir die eerste keer begelei by ‘n konsert by Des en Dawn Lindberg se huis in Johannesburg.”

Lize bedank by JNS en begin by Blairgowrie Primary in Randburg skoolhou.

“Ek was verantwoordelik vir die sanglesse en van die klasse het tot 200 kinders gehad. Blairgowrie Primary is ook een van twee skole vir wie ek ‘n skoollied geskryf het. Die ander is Curro Privaatskool in Langebaan.”

In 1997 neem sy haar eerste CD, Eyes of a child, op en dit word in die kategorie beste Engelse volwasse kontemporêre album vir ‘n Sama-toekenning benoem.

“Dit was aanvanklik net ‘n transkripsie-opname vir die SAUK en ek het R6 730 nodig gehad om die opname te koop. My oom Kees Beekman het dit vir my betaal en ek het net 500 CD’s laat druk. Dit het uitverkoop en ek het toe nog 500 laat druk. Ek het intussen ook vir Elzabé Zietsman begin begelei en is in 1997 met my eie vertoning, ook Eyes of a child, KKNK toe. Al die kaartjies was uitverkoop en die resensies was baie bemoedigend en dit het my laat besef ek is op die regte pad.”

Tussen die skoolhou deur het sy ook tuine uitgelê, vir Peter McLea handtranskripsies vir sy orkestrale verwerkings geskryf en begin houtwerk doen – enigiets om aan die lewe te bly terwyl sy haar eie gehore gebou het.

“Ek het kandelare en zentuine uit hout gemaak en het ook later korporatiewe geskenke gemaak. Ek was nog nooit bang om met my hande te werk nie!”

Die Kaap het egter begin roep en in 2000 het sy teruggetrek. “My hart smile anders hier,” sê sy.

Sy neem haar tweede album, Cake, op. “Dit het baie vinnig gebeur. Ek het ‘n voorlegging gedoen om die

“Ek kan die eerste keer onthou toe

ek haar sien optree het. Dit was op

‘n plaas buite Durbanville, ek dink

Diemersdal, en daar was so 10 mense

in die gehoor. Lize is bygestaan deur Hanno Smit op kitaar.

Sy was ongemaklik, met min selfvertroue en

onseker van die verhoog. Wat my van

haar opgeval en deur die jare bygebly

het, is haar sagtheid, opregtheid en

daardie lieflike kalmerende stem.

Dit het my glad nie verbaas dat Amanda

Strydom van haar liedjies begin sing

het nie. Hulle praat van regte mense, dinge en emosies en dit het met die jare so gebly.

Ek het haar loopbaan

amper stap vir stap gevolg en kan

deesdae skaars die skugter jong vrou

van destyds in die selfversekerde een

van vandag sien. Gelukkig praat/sing

sy nog ‘n taal wat die hart verstaan.

Sy het nie haar integriteit

ingeboet in ‘n

proses om vinnig gewild te raak nie.”

– Mariana Malan,
Die Burger

musiek vir die TV-reeks Soutmansland te doen en het toe sommer ‘n temaliedjie ook geskryf. Hulle het laat weet ek het nie die reeks gekry nie, maar dat my liedjie die temaliedjie gaan wees.

Ek het Cake opgeneem sodat dit reg is wanneer Soutmansland op die TV is. Op daardie stadium het ek nog baie in Engels geskryf. Ek was bang vir Afrikaans omdat ek om een of ander rede geglo het die woorde val te hard. Maar ek het besef ek gaan meer in Afrikaans moet skryf omdat die mark groter en die kompetisie minder is. Toe ek eers in Afrikaans begin skryf, toe word dit ‘n passie. Van pure oefening het dit vir my mooi en moontlik en baie lekker geword.”

Dit was ‘n tydsame proses om haar gehore op te bou. “My eerste solovertoning was in ‘n klein teatertjie by die Staatsteater in Pretoria. Daar was net vier mense in die gehoor en ek het my hart uitgesing. Na die tyd het al vier ‘n CD gekoop.

“Ek gebruik altyd Bloemfontein as ‘n voorbeeld. Die eerste keer wat ek daar gaan sing het, het dit my R4 000 uit my eie sak gekos. Die volgende jaar het dit my R2 000 gekos en die volgende jaar het ek gelykgebreek. Die jaar daarna is ek genooi om te kom en het die organiseerder my volle fooi betaal, en die jaar daarna het hulle gebel om te vra of ek vir drie aande sal kom. Al drie aande was vol. Bloem is net ‘n voorbeeld – ek moes dit oral in die land doen.”

In 2000 maak Lize die liedjieskrywer ‘n groot deurbraak toe “Sonneblom uit Bethlehem” deur Laurika Rauch opgeneem word.

“Ek het saam met Mynie Grové aan die TV-produksie Greed gewerk. Sy het een Donderdag na my toe gekom en gevra of ek al ‘n liedjie vir Laurika geskryf het. Ek het nie geweet waarvan sy praat nie, maar sy vertel toe dat Laurika ‘n nuwe CD gaan opneem en liedjies soek. As kind het ek daarvan gedroom dat my naam eendag op een van Laurika se CD’s sal staan! Ek is die aand huis toe en het my klavier vol kerse gepak. ‘n Enkele reël wat ek twee jaar tevore geskryf het, het by my opgekom – ‘Ek bring vir jou ‘n sonneblom uit Bethlehem.’ Twintig minute later was die liedjie geskryf.

“Dit was een van daardie liedjies wat ek net geweet het gaan werk. Ek het vir Ansa du Toit (Jannie du Toit se voormalige vrou) in Australië gebel en gesê ek dink ek het vir Laurika ‘n liedjie geskryf en ek dink dit is die een. Ek het dit vir haar gespeel en sy het saamgestem. Die volgende oggend het ek vir Laurika gebel en gesê ek weet die sperdatum is vandag, maar kan ek asseblief nog ‘n liedjie stuur. Ek het dit met oornagpos gestuur en die Saterdagmiddag het ek ‘n boodskap van haar gekry. Sy het gesê sy kan nie glo ek gee die liedjie vir haar nie en ja, ja, ja sy wil dit opneem.”

Lize het eers in 2009 werklik besef hoe gewild die liedjie is. “Die mense het die liedjie hul eie gemaak, dis ons land se mense se liedjie. Ek kan nie meer ‘n show hou en dit nié sing nie.”

Lize het steeds voortgegaan met houtwerk en ‘n deel van haar inkomste verdien uit die esels wat sy verkoop het. “Groot maatskappye het dit byvoorbeeld gebruik om hul plakkate op te sit. Ek het in my pa se motorhuis gewerk en hy en my ma het soms gehelp om dit te vernis en skroewe in te draai. Ek het my hande vol blase gewerk, maar elke keer as ek betaal is, het ek eers na my pa toe gegaan en vir hom die geld gegee wat ek nog geskuld het vir die maak van die album Cake. Net voor Kersfees daardie jaar het hy vir my ‘n boksie gegee en gesê ek mag dit eers Kersdag oopmaak. Toe ek dit oopmaak, was daar ‘n stukkie hout en ‘n briefie in. Op die briefie het gestaan dat hy my skuld – dit was R16 000 – afskryf en dat dit my Kersgeskenk was. Dit is tot vandag toe die grootste Kersgeskenk wat ek nog ooit gekry het.”

Haar derde album, Iemand het gesê, word in 2003 vrygestel. Dit is haar eerste album met net Afrikaans op en dit word vir ‘n Sama benoem.

“Ek was baie dankbaar oor die benoeming. Dit was sewe jaar van baie harde werk en vir my ‘n erkenning dat daar groei in my loopbaan is. Mense het deur die jare vir my gevra of ek nie maar iets wil skryf waarop mense kan dans nie, maar ek het gesê wees geduldig, dit wat ek doen, vat tyd. Die benoeming het my net weer laat glo in wat ek doen.”

Haar vertoning saam met Gloria Bosman, tussenINbetween, is ‘n hoogtepunt in 2004. “Ons het mekaar ontmoet toe ons saam in Al daai jazz was en ek het voorgestel ons doen iets saam. Dit was vir my én haar goed, want skielik het ons mense in ons gehore gehad wat ons nog nooit voorheen gehad het nie. Die reaksie was baie goed en ek kry nou nog mense wat na my toe kom en daarna verwys.”

In 2004 ontmoet Lize vir Vusi Mahlasela by ‘n konsert van Jannie du Toit.

“Ek en Vusi was al twee deel van die konsert en toe ek op die verhoog was, het hy agter in die saal gestaan en luister. Ná die tyd het hy na my toe gestap en gesê: ‘I would love to work with you.’ Dit was drie maande voor ek van hom gehoor het, maar die Desember het hy gebel en gevra of ek ‘Sonneblom’ saam met hom by ‘n korporatiewe geleentheid sal sing. Natuurlik het ek ingestem.

“My liewe, liewe vriendin Lize.

Ek bly seker haar nommereen-fan.

Ek dink ons is bevoorreg

om getuies te wees

van hierdie stadium van haar loopbaan, want die songs wat ons nou hoor,

is almal toekomstige

classics.”

– Pedro Kruger

Daarna het hy my weer gebel en gevra of ek dit weer saam met hom sal kom sing by Baseline in Melville, waar hy opgetree het. Dit was gepak en ek dink ek was die enigste wit vrou daar. Dit was een van die ongelooflikste ondervindings in my lewe. Sy orkes het ons begelei en dit was ‘Sonneblom’, maar met ‘n onmiskenbare Afrika-ritme. Die gehoor het gedans en mal gegaan!”

Lize en Vusi neem saam die album All the same op en al die inkomste gaan aan die St. Francis-vigssorgsentrum in Boksburg. “Ek het die geld vir die maak van die CD by Revlon gekry en toe ek vir Vusi vra, het hy dadelik ingestem om gratis en verniet te kom sing. Die album het ongeveer R350 000 vir die sentrum ingesamel.”

Vroeg in 2005 haal een van Lize se liedjies, “Maybe I”, die finaal van die International Songwriting Competition. “Ek het in die country-kategorie ingeskryf en dit was baie snaaks om na die name te kyk wat in die finaal was, want hulle was omtrent almal van Nashville, maar hier tussenin is daar Lize Beekman, Melkbosstrand, South Africa!”

In 2005 wen Lize ‘n Kanna vir die beste optrede in ‘n musiekteaterproduksie en in November stel sy Draadkar oor die see vry, waarvoor sy in 2006 haar derde Sama-benoeming kry.

“Die hele ding met ‘Draadkar’ het begin met die storie oor die meermin wat glo in Oudtshoorn gebly het. Toe ek wegry uit Oudtshoorn ná die KKNK het ek aan die absurditeit daarvan gedink. ‘n Tydjie daarna het ek ‘n SMS van my goeie vriend Ryno (van wie ek altyd in my vertonings praat) gekry waarin hy skryf dat ek eendag ‘n liedjie oor ‘n draadkar moet skryf. Ek het dit neergeskryf en ‘n week of wat daarna was ek baie moedeloos oor sommer alles. Ek het my kitaar opgetel en vir myself gesê aanhouer wen. Die eerste note van ‘Draadkar’ was daar en toe die reël: ‘Ek kom terug, ek kom altyd terug . . .’ en toe val die res in plek.”

Met haar album Lullabies in 2007 pak Lize weer ‘n reusefondsinsameling aan. “Die inspirasie vir die album het gekom van my suster Elmien se dogtertjie, Lisa. Ek het ‘n lullaby op Draadkar oor die see opgeneem, maar my suster het gesê ek moet een skryf wat makliker is vir ma’s om te sing.

Die wiel in my kop het begin draai. Ek het besef daar is ‘n behoefte en om dit vir die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad te doen, was ‘n maklike keuse. Daar is lullabies in Afrikaans, Engels en Xhosa en ek het ‘n borg vir die druk van die CD’s gekry. Die mikpunt is om R500 000 in te samel en ons is al verby die R300 000-merk.”

“Lize is ‘n veelsydige liedjieskrywer

wat die sonderlinge

talent het om gewilde

liedjies te skryf,

altyd met sterk

digterlike elemente.

Haar werk is uniek

en ‘n mens kan haar eie stem ‘n myl ver

raakhoor. Haar bydrae is reeds enorm.”

– Laurika Rauch

Die album word in die kategorie beste Afrikaanse kinderalbum vir ‘n Sama benoem en Lize word gevra om ‘n beskermvrou van die hospitaal te word.

“Vir my het my musiek nog nooit gegaan oor glans of geld nie. Natuurlik moet ek ‘n lewe maak, maar as ek iets in iemand se lewe kan beteken, is ek gelukkig,” sê sy.

Sit bietjie langs my word in Mei 2008 vrygestel. “Elke CD gaan beter en beter as die vorige een. Sit bietjie langs my het in twee maande meer verkoop as wat Draadkar in ‘n jaar verkoop het. Dis nou een ding wat ek van my loopbaan kan sê – die groei is konstant,” lag sy.

Daar is verskeie treffers op die album. Een daarvan is “Suidlandgebed”. Die album word in 2009 vir ‘n Sama benoem in die kategorie beste Afrikaanse kontemporêre album.

“Ek was in 2006 deel van Maniese Mozart manewales en is deur Janine Neethling, die musiekregisseur, gevra om Afrikaanse woorde vir Mozart se klavierkonsert – die adante-gedeelte – te skryf. Ek het probeer om dit ‘n kontemporêre inslag te gee, maar dit wou ‘n gebed wees.”

Die liedjie “Ek het ‘n boer sien dans” is een van die ander treffers. “Die man in die liedjie is my oom wat buite Kimberley boer. Ek het regtig verdwaal en die verdwaaltyd het skryftyd geraak. Boere hou baie van die liedjie. Ek kry biltong en droëwors en voel soos die aangenome dogter van die Karoo na dié liedjie.”

Vir Lize is toekennings ‘n vorm van erkenning. “Dit is ‘n klop op die skouer dat dit wat jy doen orraait is. Ek glo egter in die gesegde dat jy nie jou goeie óf slegte resensies moet glo nie. Vat dit vir wat dit is. As jy eerlik is met jouself, weet jy in elk geval wanneer jy goeie werk gedoen het en wanneer nie.”

Sy glo sy het in haar loopbaan van 11 jaar nog nie by die helfte van die mense uitgekom wat haar moet hoor nie. “My droom is dat ek sal aanhou groei en dat my loopbaan saam met my sal groei.”

  • Maryke

    Ek mis nie ‘n vertoning van Lize nie. Sy is net eenvoudig in ‘n ander klas. Daar is al ‘n spottery in die familie wanneer ons na ‘n vertoning gaan. Almal vra "Het jy jou ’tissues’?" Dankie vir die artikel oor hierdie engel diva.

  • Elize Barnardt

    Ek was bevoorreg om Lize en Amanda by KKNK te beleef en het haar nou weer gaan kyk by Gariep. Sy het ‘n wolk om haar wat my beindruk, ‘n aura wat sy met klank en woord en styl oordra. Wie is hierdie meisiekind se bemarker of waar kan ons haar bespreek vir vertonings?

  • Ek stem nie saam met Pedro nie – ek is Lize se nommereen-fan. Lize se shows is pure terapie.

  • Elsie Le Roux

    ek opsoek na iemand wat vir ‘n kind kan opleiding gee vir kitaar te speel en sing. ek soek die persoon se inligting wil kontak maak. my kind is nou 6jaar oud wil baie graag dit doen dit sy drome.

  • MECHIEL VAN NIEKERK

    LIZE
    EK WONDER SOMS OF "DRAADKAR"NIE SY ONTSTAAN OP GANNAHOEK GEHAD HET NIE? DAAR WAAR OUMA BESSIE HAAR EERSTE LEWENSLIG AANSKOU HET NIE.GANNAHOEK EN SNYMANSDAM,INEENGESTREMMEL MET MUSIEK.OUMA BESSIE VOOR DIE KLAVIER OP SNYMANSDAM,DIE VAN DEN BERGH’S,COERTSE’S(MIMI SE FAMILIE)DIE VAN NIEKERKS.ONS SAAM KUIER MET JAN EN ELZA TOE JY EN RIAAN NOG BABATJIES WAS,JULLE WONING IN STELLENBERG,JULLE KUIERS BY ONS OP VILLIERSDORP.MOOI DAE,SO MOOI SOOS JOU MUSIEK! "SUIDLANDGEBED"WANNEER EK NA OUS BES EN GANNAHOEK VERLANG,’N VER VERLANG.SKRYF VIR MY ‘N LIEDJIE OOR GANNAHOEK,LIZE,ASSEBLIEF?

  • Sone Griesel

    wie kan my help met die kitaarakkoorde vir Sonneblom uit Bethlehem asb?