Eie stories

Ek was weer in die mark ná 10 jaar…

Ek was weer in die mark ná ’n huwelik van tien jaar. (“Weer in die Mark?, SARIE: November 2008). As daar net kommunikasie-probleme was, of ek te slordig, te vet of te selfsugtig was, kon ons daaraan werk en ’n berader gaan sien. Maar my man het groener weivelde gesoek, en ek het ons huwelik vaarwel geroep.

Kort daarna het ek weer iemand ontmoet – ’n plattelander, ’n blondekop met blousel-blou oë en ’n kom-nader-mond. Op ons tweede ete-afspraak het hy geen doekies omgedraai dat hy van my hou nie! Sy woorde was: “As jy jouself nie in ’n langtermyn-verhouding met my sien nie, kom ons los dit. As jy nog nie oor jou egskeiding is nie, sê sommer nou vir my, want ek is nie lus vir speletjies nie. Ek hou van jou.”

Al my vriendinne het vorendag gekom met raad. Moenie te veel van jouself vertel nie, moenie desperaat lyk nie, moenie sommer net ja sê vir al sy uitnodigings nie, speel bietjie hardekwas – tot ek wou naar word daarvan.

My raad aan vrouens wat probeer terugkom in die mark. Met alle respek aan my vriendinne, ignoreer die goedbedoelde raad. Enige draaie en swaaie wat jy met jou nuwe helfte loop, loop dit net reguit

Kry om hemelsnaam vir jou ’n maat wat nie skroom om jou duidelik te laat weet wat hy wil hê nie. ’n Man wat vir jou lief is oor jy jý is, ’n man wat nie toelaat dat jy jou bagasie van vorige verhoudings saamdra nie. Begrawe die verlede, soos hy dieselfde met syne moet doen.

My “kom-nader-mond” en ek is nou getroud. Hy het ’n blondekop blou-oog seuntjie, wat deel van ons lewe geword het net voordat hy skool toe is. Maak ’n sielsbesluit om ’n mooi verhouding met jou stiefkind te hê. Praat self met hom of haar as iets pla. Nooit deur jou man nie. As jy ooit twyfel of hierdie nuwe kind in jou lewe vir jou ’n probleem kan wees, dink twee keer oor die verhouding. Dit kan ’n resep vir ’n algehele mislukking wees. As hy jou kwaad maak, sê dit. As hy iets goeds doen, gee hom erkenning. As jy dink jy gee genoeg liefde, gee gerus nog ’n bietjie meer.

Ons hoop ons gaan nog kinders hê. My stiefseun sien net so uit na ’n boetie of sussie.

Vroue, hou op om speletjies te speel of toe te laat dat iemand met jou speletjies speel. Julle weet wat goed genoeg is vir julle. Soek daarna. Julle verdien dit.

 Anoniem, Centurion