Eie stories

Louise Clute van Senekal, skryf:

Liefste Beminde

As my heel beste vriend het jy geleidelik en bykans onopsigtelik al meer onlosmaaklik deel geword van my lewe – tot op ’n dag toe ek besef het maar jy ís eintlik my lewe.

Nou vou ek jou menswees soos ’n gunsteling-trui om my lyf en wikkel ek my snoesig toe in jou teenwoordigheid … en adem jou siel behaaglik in. Wat is dit omtrent jou wat my bors fisiek laat pyn van die allesoorheersende behoefte om tog net naby jou te wees? Om my knus te koester in die vele fasette van dít wat jou uniek jóú maak? Ek het jou lief met elke greintjie ék. Jou naam is deur ’n Hoër Hand in sierskrif gekodeer in elke stringetjie DNS wat my MY maak.

Ontelbare, kleurryke kosmosgedagtes aan jou huppel soos baldadige boklammers deur my kop en gallop soos jong hingste saam die tamboer van my hart. En o, ek’s lus om jou lief te hê, onbevange en onbeplan my tong te laat verdwaal tussen heuwel en dal, my vingerpunte te sprei tussen holte en dy …

Ek fluister jou naam in die loom aandstilte en die sterretjies knipoog sameswerend vir my en giggel my geheim aan die blink, boepens maan wat seënend met sysagte strale aan my raak en my vir ’n heerlike oomblik lank laat glo dis jóú mond wat my lippe soen … die eerste keer.

Jou hele jy-wees vul my aan en maak my heel. As jy nie by my is nie, voel ek die verlies swaar en moeisaam deur my klop en verlang ek na jou met ’n intensiteit wat my laat steier. Ek smag na jou wese soos ’n verdwaalde dorstige na lewegewende water in die hittige woestyn.   

Jy glo in my en dit maak my sterk. Ek kan onbevrees myself wees en die wêreld en al sy uitdagings met vertroue in die oë kyk. Hoe dan anders? Ek weet dat wat ook al gebeur, jy’s daar vir my.

Jy dink ek’s mooi en dit laat my hier binne gloei met ’n geluksalige, trotse warmte wat bloeisels op my wange verf. Vir jou wil ek na blomme ruik en vroulike, veelkleurige rokke dra. Vir jou was ek my hare met appelsjampoe en dra my mooiste oorkrabbertjies sodat my nek geurig en aanloklik is vir jou.

Wanneer jy by my is, is ek die heel beste mens wat ek ooit kan hoop om te wees. Jy inspireer my en moedig my aan om intiem met my Skepper om te gaan, want hoe kan ek nie elke dag vir God dankie sê dat hy my juis uit jóú ribbebeen gemaak het nie? Ek jubel tot my God oor die wonder wat jy is!

Ek lief jou saamgevoude hande as jy bid; die latente krag in jou liggaam wat jou as man so heerlik anders maak as ek wat sag vrou is; die ongelooflike teerheid waarmee jy in verwondering oor ’n pasgeborene se donskoppie streel …

Ek min jou vir die beginsels en integriteit wat jou as ware man van God kenmerk.  Ek is so bevoorreg om ’n besondere mens soos jy in my lewe te kan hê! Om te kan weet jy dink ek is kosbaar en spesiaal en jy wil vir altyd saam my wees. Wow, geseënd onder die vroue is ek voorwaar!

Ek het jou lief. Ek het jou waarlik en sonder twyfel lief. Onvoorwaardelik en sonder voorbehoud. Deur jou te bemin smaak en ervaar ek die edelste emosie wat God aan ’n mens toevertrou het  – ’n stukkie van Hom, want Hý is mos liefde.

Ek sien so uit na die res van my lewe. Dink net,  elke dag ’n avontuur, ’n geleentheid om jou meer en meer lief te hê.

Leef jou lewe met die wete dat ek jou liefhet, my liefste …  ek’s joune … vir altyd en altyd.

Ekke