Eie stories

Louise Opperman van Gordonsbaai, skryf:

Hallo my skat,

Ja, vandag is dit vier jaar dat jy prominent in my lewe is. Liewe Jesus het jou vir my gestuur! Dit voel soos gister dat ek ’n onderonsie met my swaer (my oorlede suster se man) opgetel het oor ’n familiedooprok! ’n Dag daarna is my skoonsus (my oorlede man se suster) oorlede.

Ja, jy’t haar goed geken en my geskakel om te simpatiseer en my verblyf aan te bied ten tye van die begrafnis. My swaer se verjaardag was die dag waarop my skoonsus oorlede is. Ek het my trots gesluk, hom geskakel en gelukgewens, en in my hart gehoop hy sal aanbied om my begrafnis toe te neem. Maar dit het nie gebeur nie! So, my ander uitweg was jou aanbod, my skat. Jy was buitendien een van die draers en moes begrafnis toe gaan.

Jy het my op die lughawe ontmoet, na jou plaas geneem en jou soos ’n gentleman gedra! Die volgende dag het jy my bygestaan met die begrafnis en daarna by ’n vriendin daar naby afgelaai om vir die week te kuier.

Jy’t my die volgende paar dae chronies gebel en my altyd “dierbaar” of ‘sexy” genoem. Hoe goed het ek nie gevoel nie? Nooit het ek gedink dat ek weer sexy kon voel of lyk vir ’n man nie! Ek het gevoel ek loop op die wolke. Ek het my telkens met ’n glimlag op my gesig betrap. En my vriendinne het dadelik gesien iets het met my gebeur.

Hoe heerlik was dit om jou verjaarsdag ’n maand later saam met jou te vier, my skat. My kop was feestelik in die wolke, my hart in my keel en ek so gelukkig om by jou te wees.

Nou droom ek dat ek elke dag by jou kan wees om jou lief te hê en te versorg. Saans wil ek rustig op jou plaas met die paddakoor in my ore in jou arms aan die slaap raak. Vroegoggend wil ek deur voëlgesang in jou arms ontwaak.

In my droom-trourok gaan ek na jou toe stap waar jy vir my by die kansel sal wag. Daar sal ons troubeloftes aflê, diep in mekaar se oë kyk en sê “ja, vir ewig”!

Ons gaan saam oud word, mekaar vir ewig respekteer en liefhê soos dit God se wil is.

Ek het jou lief, my skat.

J.M.E. (Jy’s My Engel) – ek het dit op die boom op die plaas vir jou uitgekerf!