Eie stories

Lugramp-weduwee: “Ons nuwe lewe sonder Erich”

Op Maandag 1 Junie verlede jaar het Alet Heine ’n oproep gekry in Rio de Janeiro waar sy en haar gesin gewoon het.
Die nuus: ’n Vliegtuig van Air France het van die radar verdwyn . . .

Alet was besig om haar drie dogtertjies, Kristen (6) en die tweeling, Anje en Melissa (4), gereed te kry vir skool. Sy was baie bekommerd, want haar man, Erich, direksielid en meganiese ingenieur van ’n groot staalmaatskappy, was per vliegtuig op pad na Europa. ’n Personeelbeampte van die maatskappy het haar ergste vermoedens bevestig: Erich, saam met 227 ander passasiers op vlug 447, was vermis, waarskynlik dood.

Drie dae later het ’n leegheid oor haar gekom. Sy het besef dis moontlik die einde. Haar ouers, Elsabé en Eben Jansen van Rensburg, het van Pretoria gevlieg om haar by te staan. Haar pa het haar verseker dat sy die mas alleen sou opkom met die ondersteuning van familie en vriende. Sy het besluit om met haar kinders terug te keer SA toe.

Twintig dae later het sy in ’n huurhuis in Somerset-Wes ingetrek. Op 1 Desember 2009 het sy na haar eie huis op die Bel’Aire-landgoed getrek met die kinders, twee katte, Blacky en Oscar, en ’n Deense hond, Tonsa. Sy wil nou rustigheid in haar en haar kinders se lewe bring en bou stadig maar seker aan ’n nuwe lewe sonder Erich. Dis nie maklik nie, maar sy glo haar kinders se geluk hang van háár ingesteldheid af.

Ek het die nuwe jaar positief begin en dít gaan my ingesteldheid wees vir die res van die jaar, al is dit soms moeilik.

Die eerste Kersfees sonder Erich was swaar. Voorverlede jaar was ons saam met hom op Jeffreysbaai. Maar verlede jaar was ek saam met my ouers en sussies Christine Maree-hulle en Elna Viljoen op Kleinbaai en Franskraal. Ek het ook gaan kuier by Erich se pa, Erich, en sy stiefma, Hannatjie, op Jeffreysbaai.

Natuurlik is al die ‘eerstes’ sonder Erich ’n uitdaging – verjaardae, Kersfees, huweliksherdenkings. Ek sukkel steeds om sin te maak uit die vliegramp. Dis ’n raaisel. Maar gelukkig kan ek sê: Vandat ons terug is in Suid-Afrika was mense nog net goed vir ons. Ek kon werklik voel hulle gee om.

Dinge raak ook makliker, want die kinders pas goed aan. Maar dis byna asof ek Erich nou méér mis as aan die begin. Daardie spesiale mens saam met wie ek trots kon wees op die kinders – oor hulle lag en huil. Iemand met wie ek oor die kinders se toekoms kon gesels . . .

Ek het dit eers oorweeg om aan te bly in Duitsland, waarheen ons oorspronklik getrek het om Duitse burgerskap te verkry en die kinders sodoende meer geleenthede te gee, maar dit sou beteken dat ek daar moes bly tot 2012. Dít sou net te moeilik wees sonder ’n goeie ondersteuningstelsel en my familie.

Die kinders is baie gelukkig in Suid-Afrika. Hulle is in Somerset College en die onderwyseresse is liefdevol en doen baie moeite met hulle. Kristen is in gr. R en die tweeling in gr. 00. ’n Groot voordeel is die klimraam op die speelgrond waar hulle van al hul energie ontslae kan raak. Anders raak die energie net te veel by die huis. Hulle is báie aktief. Ons kon nie in Duitsland of in Rio troeteldiere hê nie en nou kan hulle dié genot weer beleef.

Hulle mis hul pa verskriklik en praat byna elke dag oor hom. Veral Kristen het ’n baie hegte band met hom gehad. Hy het gereeld dinge saam met haar gedoen. Sy is baie afhanklik van my en is ’n baie sagte kind, maar dinge gaan veel beter ná berading.

Ek het ’n groot foto van hom in die huis sodat hulle hom altyd kan sien en ek vertel hulle dikwels hoe lief hy vir hulle was. Ek hou elke berig en artikel oor die ramp sodat hulle alles kan lees as hulle groter is.

Erich was ’n ongelooflike pa. Al het hy hóé baie gereis, het daar nie ’n dag verbygegaan dat hy nie sy kinders gebel het nie. Hy het altyd geskenkies saamgebring. Boeke, speelgoed. Ek wou altyd keer dat hy hulle nie bederf nie, maar hy kon homself net nie keer nie.

Net ná die ongeluk was hulle baie vas aan my rokspante. Hulle het saam met my geslaap en wou my nie laat gaan nie. Dis te verstane dat hulle nou bekommerd is dat hulle my ook kan verloor . . .

Ek was in September drie weke lank oorsee om die huis in Duitsland op te pak en sake in Amerika af te handel. Dit was ’n vreeslike swaar skeiding vir my en die kinders, want dit was die eerste keer ná die ongeluk dat ons weg was van mekaar. Die vorige keer was teen einde 2005 vir ’n week toe ek huis gesoek het in Duitsland.

Kristen en Melissa het hartstogtelik gehuil. Ek ook. Hoewel dit baie swaar was, het ek geen keuse gehad nie.

Ek het vir die eerste twee weke die huis gaan oppak. Dít was traumaties. Dit het my sommer naar gemaak om daar in te stap. My susters Louise Albrich en Este Retief het uit Engeland gevlieg om my by te staan. Die kinders het oor naweke by my ander susters, Christine of Elna op hul plaas op Grabouw, gaan kuier en gesê: ‘My Mamma is nie dood nie, sy kom weer terug.’ Die vliegramp het hulle uiteraard onbewustelik ook ontstel en ek wonder soms wat deur hul koppies gaan.

Ek het toe ek weg was vir hulle ’n geskenkie vir elke dag gelos met ’n briefie daarby wat my ma elke dag vir hulle gegee het. Sy en my tannie Alet de Beer het by hulle in die huis gebly.

Gedurende dié tyd was daar vrese by die kinders dat ek moontlik kon ‘wegraak’. Daar was opvallende verwysings na my wanneer hulle met Ouma gepraat het as ‘Mamma Alet met die lang swart hare’. Net om seker te maak dat tannie Alet nie my plek sal inneem nie! Berading het baie gehelp vir al drie kinders om sin uit die gebeure te maak.

Nadat ek die huis opgepak het, is ek en Erich se ma, Dawn Long, en sy niggie Estelle Dismore na Alabama in Amerika. Daar het die plaaslike goewerneur ’n opleidingsentrum, wat deel van die staalmaatskappy-aanleg uitmaak, na Erich genoem omdat hulle soveel agting vir hom gehad het. Ek moes toe ’n toespraak lewer voor sowat vierhonderd mense. Die gasvryheid van die Amerikaners was ongelooflik.

As ek saam met die kinders is, is daar nie so baie tyd om aan hom te dink nie. Hulle hou ’n mens besig. Jy moet net aangaan en na hul behoeftes omsien.

Ek wil hulle beskerm. Hulle hou my geanker in die werklikheid. Ek besef dat my ingesteldheid húl geluk gaan bepaal. Dit help ook nie hulle sien jy is ongelukkig nie. Die lewe is te kort daarvoor. Jy moet die lewe lekker maak. Maar as jy op jou eie is, het jy baie tyd om te dink. En dis swaar.  

En soms, as die kinders byvoorbeeld by die skool presteer, betrap ek myself dat ek vinnig vir Erich wil bel en vertel . . .

Ek mis die gemak van sommer net jouself wees by iemand vir wie jy lief is. As ek uitgenooi word na gesellighede mis ek dit om as back-up by iemand te ‘herlaai’. Mense kry my jammer, maar dit word alles baie goed bedoel. Ek aanvaar dit so.

Erich was nie die maklikste mens nie. Hy was ’n absolute perfeksionis. Hy het nie daarvan gehou dat ek sommer na hom toe draf met enige nonsens nie. Ek moes van vroeg in ons verhouding leer om groot besluite op my eie te neem. Ook finansiële besluite. En ek moes leer om myself besig te hou omdat hy so dikwels weg van die huis was.

In Rio het ek goeie vriende gemaak, tennis gespeel, ruiterkuns beoefen, gaan draf langs die see en besig gebly saam met die kinders.

Erich het ook daarvan gehou dat ek goed lyk. Hy het baie gelet op sy eie voorkoms. Ek het gereeld vir pedi- en manikure en masserings gegaan en doen dit nou nog. Ek glo ’n mens is dit aan jouself verskuldig om goed te voel, te oefen en gesond te leef.

Dit het my ná sy dood ook baie gehelp dat ek self soms tot dertig e-posse per dag oor die boedel en sy persoonlike finansies moes hanteer. ThyssenKrupp, die staalmaatskappy, het my baie ondersteuning gegee en ’n vriend en mede-Suid-Afrikaner, Jurgen Fechter, het ook gehelp vanuit Duitsland. Ek moes internasionale belasting- en regspesialiste aanstel. Dikwels moes onderhandelings tussen Rio, Suid-Afrika en Duitsland gedoen word. Dit was nie maklik nie, maar dit het eintlik gehelp dat my brein aktief was.

Erich se familie, ander vriende in Londen en Newcastle in Suid-Afrika was ook steunpilare. Sonder húl hulp sou dit ’n nagmerrie gewees het.

Ek het gesien ek kon met hul hulp die mas opkom, maar ek mis Erich baie.

 

’n Mens is verantwoordelik vir jou eie geluk. Soos die jare aanbeweeg, besef ek dit net al hoe meer. – Alet

 

Hy was vir my byna méér as ’n man. Hy was charismaties, ’n mentor, standvastig. Mense wou by hom wees, hy was vol lag. ’n Energieke mens wat baie dinamies was en ander graag gehelp het. Hy het ’n deernis vir die mensdom gehad.

Ek kry tans berading om dinge te verwerk. Daar is dae dat ek kwaad is vir hom omdat ons die lewe nie méér saam geniet het nie. Hy het altyd so hard gewerk en dis vir my ál asof ons tyd gemors het en meer kon beleef het. Ek mis volwasse gesprekke, want ’n mens is maar heeltyd aan die gang met die kinders.

Maar daar was tog wonderlike tye saam: Vakansies saam met die kinders langs die Franse Riviera, sleeritte in Oostenryk, ’n eilandvakansie in Thailand, lekker tye by die Iguassu-val in Brasilië, snorkel en bootritte by die eiland Ilha Grande, suid van Rio. En dan het hy gedroom van lekker tye by ons strandhuis op Jeffreysbaai – wat hý ontwerp het – waar ons darem ’n keer of wat saam was. In Julie verlede jaar, ná die ramp, was ek daar saam met sy suster Karen Naudé.

As ek saans daar in die bed gelê het, was daar ’n alleenheid oor my wat gevoel het asof dit nooit sal weggaan nie. As ek by ons braaiplek gesit het, kon ek hom sien en hoor saam met ons vriende. Hy het so gehou van gesels en vriende vermaak, en van lekker lag. Daar is sulke mooi herinneringe.

Dis goed dat ek nou in die Kaap kom woon het met die kinders. Hier is geen herinneringe nie. Ons kan skoon begin. Die kinders verwerk sy dood eintlik baie goed. Ons het, op Erich se aandrang, besluit om hulle voorverlede jaar in ’n Amerikaanse Christelike skool in Rio te sit. Dít help hulle baie met konsepte soos die hemel en ‘Liewe Jesus’ en die dood. Hulle hou net nie té baie daarvan dat hy met ander kinders in die hemel ‘speel’ nie. Dan raak hulle jaloers.

Ons doen baie lekker dinge saam. Ek speel met hulle wegkruipertjie in die tuin, gaan stap in die Helderberg-reservaat, ons het onlangs gaan piekniek hou by die Spier-landgoed, ons gaan ysskaats, ry perd, teken en kleur in. Dis ’n genot om soveel tyd vir my kinders te hê en regtig lekker met hulle te kan praat. Ek gaan nie nou werk nie, miskien as die kinders groot is. (Sy is ’n metallurgiese ingenieur.) Die kinders hou my nou nog te druk besig en kort standvastigheid.

Ek het toe ons na Duitsland en Rio getrek het, besef ’n mens is verantwoordelik vir jou eie geluk. Soos die jare aanbeweeg, besef ek dit net al hoe meer.
Dis lekker om ’n stukkie van Erich in elke kind te sien. Kristen het sy goeie mensevaardighede. Anje is ’n vasbytertjie, soms baie hardkoppig. En Melissa weet hoe om situasies tot haar voordeel te swaai.

My kinders en familie is kosbaar en omarm my in dié tyd. My ouers en familie bel my gereeld. Ek is bevoorreg om ’n hegte, uitgebreide familie te hê en hoef nooit te wonder wat ek gaan doen of vrees dat ek alleen gaan wees nie.