celia_claase_se_skildery
Eie stories

Luister na daardie stem in jou …

Liefste Riaan,

Ek het jou nooit vertel van toe ek veertien was nie. Hoe ek my groot-oog bril net gedra het by die huis en by die skool. Want ek moes kies, of mooi lyk of mooi kyk. Jy het reg voor my kom staan op die rolskaatsbaan, anders sou ek jou dalk nooit raakgesien het nie. 

Ek moes opkyk na jou blou oë, wat daardie aand nie na my gekyk het nie, maar na my vriendin langs my. Julle het gesels en ek het net daar gestaan, skaperig. Toe jy wegskaats het ’n onbeheersde stem skielik hier diep uit my binnekant begin praat. Die stem het iets gesê wat ek nooit self sou sê nie: “Met hom gaan ek eendag trou.” My vriendin het spottend geskater van die lag. Vir jare daarna het ek bly glo in daardie stem, al het jy nie weer naby my kom staan nie.

Nou wil ek jou vra, het die stem ook met jou gepraat toe jy drie jaar later weer voor my kom staan het in die kafee? Het jy opgemerk hoe ek eers ongelowig met ’n oopmond na jou gestaar het en toe dadelik my mond toegeknyp het? Dit was uit vrees, om te keer dat die stem nie weer iets sonder my medewete kwytraak nie.

Daardie gevoel wat ek gehad het toe jy wegstap met my adres op die papier in jou hand … prysloos. Die opwinding toe ek my naam, in jou handskrif, op die lugpos-koevert sien. Ek het my hart uitgeskryf oor my klein lewe, skoolfunksies, die treffersarade, my hond.

Jy het geskryf oor alles behalwe die bosoorlog waarin jy moes wees. Vir nog ’n jaar het ek gewag op jou blou koeverte en gedroom van jou blou oë. 

Toe ek weer een middag die voordeur oopmaak, was jy daar, reg hier voor my. Daardie aand het ek langs jou in die inry gesit, sonder my bril natuurlik. “Grease” het gewys. Ek het jou ook nooit vertel dat ek glad nie die fliek kon sien daardie aand, so sonder my bril nie. Ek moes mooi konsentreer om op die regte oomblikke saam te lag wanneer jy skielik uitbars en jou opmerkings te beaam. Half blind, maar nie doof nie.  Daar was baie musiek in die fliek en in my hart, want jy het gekies om daar te wees, saam met my.

Dis toe wat ek opgehou droom het van jou en my. Ek het ook my bril verruil vir kontaklense wat duidelik gefokus het, deur die sluier, af met die paadjie, binne-in jou blou oë daar voor die kansel. My vriendin het vir my geknipoog toe ek verby haar stap en ek het geweet sy erken dat die stem toe reg was. 

As ek nie die stem geglo het toe ek veertien was nie, sou ons nooit ons huis by die see gekoop het nie. Sou jy my seker nooit met my bril op sien nie. Sou geen ander kombinasie van gene, in hierdie heelal, ons blou- en bruinoog-meisiekinders kon vorm nie. Sou die kosmos beroof gewees het van iets baie magtig, iets baie sterk wat bestem was vir hierdie lewe en die een hierna. 

Vyf-en-dertig jaar en die stem praat weer: “Dit was lekker, dit is mooi, dit was en is en sal vir altyd wees, onse liefde.”

Ps: Onthou dat ons vir die dogters sê om te luister vir die stem net voor hulle hier wegvlieg volgende maand, want dit praat net een, miskien twee keer in ’n leeftyd. 

  • rennie Fensham

    Baie mooi en baie waar!! Die storie kan n boek word!!
    Klein probleempie by my is….. da is n paar stemme wat gelyk praat! hehe!x

  • Marianna van Niekerk

    Celia, jou brief laat ons almal verlang na ons jongdae, die wonder van eerste liefde en hoe ons ons intuisie moet vertrou!! Ons vergeet ook so gou van die bosoorlog en wat se invloed dit op ons mans gehad het. So wonderlik dat julle liefde so mooi is na al die jare. Dankie vir die wonderlike inspirasie wat jy altyd vir ons gee – daar is tog nog hoop, liefde en dis "real".

    Ek is sooooo mal oor die prent (met die bril!!) die pragtige lyne, kleure en vloei!!

    Kan nie wag vir jou volgende blog nie – jy praat met met ons almal se harte.
    liefde

  • Karin Duvenhage

    Celia – was so lekker om te lees van ons grootwordjare lank, lank gelede. En natuurlik die rolskaatsbaan – al opwinding gewees vir ons jonges.Dit is ‘n voorreg om te lees hoe spesiaal die man in jou lewe toe was en nog steeds is – koester dit elke dag.Karin

  • Janine

    Wow!! Dit is n "match made in heaven"…Stunning storie

  • Daleen Terblanche

    ……luister na die stemmetjie in jou hart!!!! liefde is mooi en ek voel dit in die lees van hierdie bydraexxxx

  • Estelle Naudé

    Baie dankie vir die mooi en opregte liefde wat julle met ons deel. Wonder baie wat sou gebeur het as ek en die stem in my hart bymekaar kon uitgekom het, maar was dood duidelik nie bestem vir mekaar nie al wonder ek nog steeds baie dae wat het van hom geword. Terloops ek was ook 14 en hy ook. geniet die liefde hoor.

  • Helen Gouws

    Sjoe, hoe ongelooflik bly is ek om jou briefie te lees, en hoe gelukkig is jy dat jou stemmetjie net een keer met jou gepraat het. Sien, so ‘n stemmetjie het met my ook gepraat, 2 keer. Ek was 21 en oppad Engeland toe, die wêreld in! Toe ek hom ontmoet, sê daai stem vir my, "jy gaan met hom trou", ek het nog vir myself gedink…nee wat jy kan beter doen, hy is nie jou tipe nie…..twee jaar later, na 2 ander kêrels en ‘n jaar in Engeland was ek smoorverlief….ons is nou al 15 jaar getroud maar….so 2 jaar terug het daai stem sowaar weer opgeduik, ek het vir ‘n klas ingeskryf en toe ek die onderwyser vir die eerste keer sien het daai selfde stem sowaar vir my gesê "en hier is jou tweede man". Ek het amper flou geval…Ek is mos getroud en het ‘n goeie lewe…ek is miskien nie meer so verlief op my man nie maar ek kan myself nie insien almal seermaak, nou wonder ek, moet ek daai stem ignoreer, wie of wat is daai stem….is dit *destiny*? Ek het nooit ‘n verhouding met hom gehad nie of eens begin nie, ek sien hom nog so nou en dan en dit is vrek moeilik….

    Ek het vir ‘ vriendin probeer vertel en sy het haar dood gelag, gesê daar bestaan nie so stem nie….tog was dit reg met my man…