sr1204_hoofkos_6_
Eie stories

Luister na jou intuïsie

“Net toe ek uit die parkeerterrein wou wegtrek, sien ek haar langs my motor staan. Middeljarig, netjies en brandmaer. Effens huiwerig vra sy in haar taal vir ’n bietjie geld om kos te koop. Soveel keer is ek al gewaarsku om nie sommer geld aan bedelaars te gee nie.

Ek sê vir haar ek koop met ’n kaart en het nie kontant by my nie. Ek ry weg, maar ’n blok verder luister ek na my intuïsie. Ek draai terug, want die verslaentheid op haar gesig bly my by.

Ek neem haar in die supermark en koop kruideniersware van haar keuse. Sy wil nie veel hê nie. Op pad na die kassier vra sy of sy iets kan koop om nóú te eet. Sy kom terug met ’n bakkie rys met ’n sousie bo-oor, en haar oë blink van soveel vreugde.

Vriendin, ek en jy weet nie wat dit is om régtig honger te wees nie. Ons moet meer op ons intuïsie staatmaak. Dis ’n wonderlike gawe wat ons heeltemal te min gebruik.”

- Brenda Fourie van Barberton

* Deel jou inspirasie-storie in die kommentaarboks.

  • Teresa Tamine

    n Verlee man het een oggend na my motor gekom terwyl ek voor die tuisnywerheid gewag het dat hul moet open, my geduld was maar kort, kliente wat wag en om alles te kroon is die dame nou nog laat ook. Skaam skaam vra die man my net n paar sent "om die lee maag bietjie te vul"

    Ek se vir hom ek het nie genoeg geld by my nie, ek moet nog die goed by die winkel betaal. Die hartseer en teleurstelling le naak op sy gesig toe hy wegstap. Ek spring uit my motor en stop n noot in sy hand.

    Die dankbaarheid sal ek nooit vergeet nie, ook nie spoed waarmee hy na die supermark oorkant die pad drafstap nie! Minute later kom hy uitgestap met n brood en koeldrank in sy twee growwe hande, die ogies blink.

    Ja Brenda, jy is reg ons moet meer op ons intuisie staatmaak!

    Teresa Kempton Park