Eie stories

Ma en dogter deur die woestyn

Die een lyk soos ’n skoonheidskoningin – fyn, groenblou oë, lang donkerbruin hare en ’n groot, wit glimlag. Dis Jolene Visser (21). Die ander een is ewe fyn met koperkleurige, skouerlengte hare, ’n groot, oop glimlag, stoute oë en ’n lekker sin vir humor. Dis Hettie Visser (47). Hulle is ’n ma-en-dogter-span wat ’n perd opgesaal het wat die meeste ma’s en dogters nie sommer sal nie – ’n perd genaamd BMW 650 cc. Daarmee het hulle Namibië gaan platry, 19 dae, 6 000 km. En dit “The Ultimate Nutty Mom & Daughter Namibia Tour” genoem. “As iemand ooit wonder hoe mooi ‘niks’ lyk, bring hulle Namibië toe – jy kry elke kilometer ‘niks’, en dis mooi,” vertel Jolene. Hulle het op 18 Junie hul motorfietse op Vredenburg in die Wes- Kaap – waar hulle woon – bestyg en die langpad gevat, nege-uur die oggend. Noord. Maar nie sonder ’n paar struikelblokke nie . . .

Jolene se pa, Jan, het skielik ’n lamheid in sy bene ondervind en moes vroeg in Junie ’n aorta-omleiding kry. Hettie en Jolene was bang hy herstel nie behoorlik voor hul vertrek nie en wou hom nie alleen by die huis agterlaat nie. “Maar gelukkig hét hy. Ons het begin pak. My motorfiets en bagasie weeg 320 kg, ses keer my eie gewig!” vertel Jolene. Wat spoedig geleer het: Moenie in die truspieëltjie kyk as jy nie tru wil kyk nie! Tussen Elandsbaai en Lambertsbaai, op ’n grondpad, net sowat 120 km verder, het Jolene ’n oomblik in haar linkerspieëltjie gekyk of haar hare behoorlik onder haar valhelm in was – en haar balans verloor en geval. “Ek wou huil van teleurstelling. Vir ’n paar oomblikke moes dit lyk of ek een van daardie Texas-bulle ry, want dan voel my agterstewe die sitplek en dan nié. Toe knyp ek maar net oë toe … Ek het gekrul van die pyn en besluit dis die teken: Die toer moenie voortgaan nie.” Maar Hettie het verstaan van val en opstaan. Sy het immers op 45 haar eerste heupvervangingsoperasie gehad, op 46 ’n histerektomie en ’n jaar later ’n hartaanval. Maar vir die toer was sy nie bang nie. (“Ek het net nie vir my dokter gesê ek gaan dit doen ná die heupvervanging nie!”)

Sy glo jy moet elke oomblik voluit leef. “En dis SARIE se inspirasieleuse wat ons in ons planne gesterk het,” vertel albei geesdriftig. Hettie haal Samuel Ullman aan: “Niemand word oud bloot van die jare se verbygaan nie. ’n Mens word oud die dag wanneer jy jou ideale laat vaar.” Jolene is na die Panorama-hospitaal in die Kaap geneem en ’n uroloog het bevind haar nier en ’n rib is beseer. “Hy het gesê ek moet ’n paar dae wag vir die ergste pyn om weg te gaan, my pynpille drink – en daarna wag hy vir my SMS uit Etosha,” vertel sy. Hettie was skepties. Sy was bekommerd oor Jolene se gesondheid. Jan het gesê die toer moet voortgaan, anders sou die teleurstelling van die twee vroue te groot wees. Hulle wou dit immers al net ná Jolene se matriekeksamen aanpak, maar moes weens Hettie se werkverpligtinge aanhou uitstel. Jolene is nou besig met haar vierde jaar in ’n regs- en rekeningkundige rigting aan die Universiteit van Stellenbosch. Jolene se broer, Kleinjan, en kêrel, Lukas, het hard gewerk om haar motorfiets weer padwaardig te kry. Sy’t in haar dagboek geskryf: “Ek het gebid dat die Here vir my en my ma letterlik die regte pad sou wys. Hopelik sal ek binnekort in my dagboek kan skryf Garies.” En op 23 Junie kon sy inderdaad – ná 430 km.

Die groot uitdaging
“Nog nooit het so ’n betekenislose dorpie vir my so baie beteken nie. Ek het die dag maar bangerig begin.“ Ook haar selfvertroue het met die val ’n bietjie seergekry. Sy en haar ma het besef om só ’n motorfietsreis te geniet is ’n fyn balans tussen versigtigheid, selfvertroue en skerp reaksies nodig. “Hoewel ons vooraf baie in die gimnasium geoefen, gewigte opgetel en op die motorfietse gery het, is sielkundige voorbereiding baie belangrik. Jy moet besef dis fisiek ’n geweldige uitdaging, maar as jou houding reg is, is dit pret.” En hulle moes fyn pak en die roete goed beplan. “Ons moes maar ontslae raak van ekstra klere om plek te maak vir motorfietsgereedskap, slaapsakke, opblaasmatrasse om op te slaap, skoonheidsmiddels (behalwe die gewone sonblok, haarmaskers, lyf-afskilferaars en grimering!), ’n satelliettelefoon, grondseile, noodhulpkissie,” vertel Hettie. Hulle het elke dag sowat 350 km gery. Een ná die ander het hulle klein dorpies of besienswaardighede aangedoen: Noordoewer, Springbok, Ai-Ais, Seeheim, Aus, Lüderitz, Duwisib-kasteel, Kolmanskop, Walvisbaai, Swakopmund, Sesriem, Hentiesbaai, Outjo, Etosha Nasionale Park, oor Otjiwarongo en Okahandja na Windhoek, en terug binneland langs na Vredenburg.

Só ’n toer is nie net plekke nie. Daar’s ook die wyshede van kleurryke mense. Hettie sal altyd die sêgoed van Jacob Agenbach van die Gemsbokberg-ruskamp onthou. “Hy sê aldag vir sy seuns: Waarheen haas julle julle elke dag? Julle gaan julself tog nie in die hemel injaag nie. En as ’n mens opmerk hoe droog sy wêreld is, trek hy skouer op en sê: Nee wat, ons het nog net vir vyf jaar nie reën gehad nie en die veld lyk nog eintlik goed . . .”

Wonders van die woestyn
Jolene was gaande oor die woestynperde wat hulle by Aus gesien het. “Hulle is so mak dat jy amper aan hulle kan vat,” vertel Hettie. Jolene sê: “Hulle is merkwaardig. Perde is nie regtig vir die woestynwêreld geteel nie en net die sterkstes kan oorleef. Dié perde is jare gelede hier agtergelaat en hét oorleef en is boonop spekvet, gesond en almal is bruin. Hoewel hulle wild is, blink nuuskierigheid in hul oë as hulle mense sien . . .” Oor die spookdorp Kolmanskop: “Die bewyse van die laaste oorblyfsels van vergange weelde is daar. Hoe lank sal ons nageslagte nog hierna kan kyk? Dit gaan alles stadig tot niet,” sê Hettie.

‘Fisiek is dit ’n geweldige uitdaging, maar as jou houding reg is, is dit pret.’

Jolene vertel geesdriftig van die mooiheid van die delikate sandrose (dit word gevorm as kalsium in die sand kristalliseer) wat hulle naby Lüderitz uitgegrawe het. “Dit lyk regtig soos gekristalliseerde roosblaartjies.” Die jakkals-“dief” was nog ’n hoogtepunt, aldus Hettie. In die middel van die woestyn, by Sesriem, in die “niks”, het hulle in ’n tweepersoonstent geslaap. Elke aand het hulle vroeg gaan slaap, teen nege-uur se koers, op die opblaasmatrasse in hul slaapsakke. “Die slaapsakke was maar dun en ons het van ons ryklere vir ekstra hitte bo-oor gegooi. Met ’n sweetpak aan was die koue darem nie te erg nie,” sê Hettie. “Ons het dié aand net lekker ingeskuif en aan die slaap geraak toe ons iets buite hoor. My ma het nie op haar laat wag nie.” Buite die tent sou hulle sien dat hulle “beroof” is, al hul besittings gesaai oor die grond. “Blik-heup” of te not, Hettie het begin hol. Die skuldige was ’n groot jakkals wat dadelik die hasepad gekies het. “Toe hang ons maar al ons goed in die boom op – dit het soos ’n Krismisboom gelyk,” vertel Jolene.

Die volgende dag was Duin 45 Hettie se grootste ondervinding tot nou toe. “Ek is mal oor die stilte van die woestyn. Dis so ongelooflik, ’n mens kan eintlik niks daaroor sê nie. Jy moet dit self ervaar. Ek het hope foto’s geneem en eendag gaan ek terug.” Ook by Sesriem was ’n klein-klein bakkery. “En daar, in die middel van die woestyn, eet ons ’n eiesoortige ontbyt – vars brood en bier,” vertel Jolene. In haar dagboek skryf Hettie: “Hierdie duine doen iets aan my. Miskien moes ek ’n Boesman gewees het, want hier kan ek leef!”

‘Die duine laat jou voel soos ‘n miertjie op ‘n sjokoladekoek.’

Land van konstraste
By die luukse Sossusvlei-oord kon hulle vyfsterweelde ervaar (met krokodilvleis en ander wildsvleis-lekkernye). Maar die groot beproewing sou nog kom. “Op Solitaire het ons ons kragte herwin en vir oulaas kans gekry om brandstof te kry voor ons Walvisbaai sou bereik. En toe kom die groot beproewing. Klippe, dik sand, sinkplaat, stof, ’n voertuig wat ’n vragmotor verbysteek terwyl daar nie juis plek is nie. Ek het begin voel ek het nie meer krag om aan te gaan nie. Jolene het net moedig voortgebeur. Hoe nader ons aan Walvisbaai gekom het, hoe digter het die mis geword. Later is ons verby die bekende Duin 7 sonder om veel te sien,” skryf Hettie in haar dagboek. Toe is hulle na Swakopmund, waar die motorfietse vir twee dae herstel moes word. Hettie skryf: “2 Julie. Dis Duitse Fees op die dorp. Almal staan op straat en wag vir die vlotte om verby te kom. Dis net bier, musiek en dans.” Hulle gee hul wasgoed in by ’n wassery en leef twee dae lank in “weelde” by ’n rugsak-hotel: “Heerlik verfrissend en alternatief. Vol kunswerke. Gerieflik en skoon. Ons is genooi vir ’n visete saam met die eienaars en het ’n bottel Tassies bestel. Ons het nie die krag gehad om ’n glas wyn klaar te drink nie.”

Die tweede dag, met sonopkoms, is die twee vroue weer duine toe. “Als was stil en daar was nie ’n mens nie. Dit laat jou voel soos ’n miertjie op ’n sjokoladekoek. Dis iets wat ’n mens altyd sal bybly, so alleen in die natuur.” Jolene se hande was in dié stadium erg opgeswel en het gepyn. (Tydens ons onderhoud het sy nog eelte van die moordende rit, wat sy trots wys.) Op Swakopmund het hulle ook besluit om in die woestyn kameel te ry. Op 5 Julie kom hulle aan by die Toshari Inn, net buite die Etosha Nasionale Park. Jolene se hoogtepunt. Maar eers het hulle die beste fyngebak in ’n tipiese Duitse konditorei in Outjo geëet. “Namibië is propvol kontraste. Waar kry ’n mens die stof, die duine, die fyngebak, die natuur als in een?”

Die lang pad huistoe
Vir Hettie was die blus bietjie uit die toer. Sy wou vashaak by die duine, maar het geweet Jolene kon nie wag om al die gemsbokke, impalas en ander wild op ’n safaririt te sien nie. Jolene se dagboekinskrywing op 6 Julie lui: “Ons het ’n groot gompou, wat ongeveer 10 kg weeg, gesien. Dis blykbaar die swaarste voël wat kan vlieg. Ons het vandag nie aan motorfietse geraak nie. Die rusdag het ons baie goed gedoen en in my hart is ek baie tevrede. Môre draai ons terug, 400 km tot in Windhoek. Ek verlang na Lukas, my katte en my eie bed.” In Windhoek aangeland, was die twee al goed geïrriteerd en moeg, maar ná ’n bietjie skoonmaak en rus en aandete was alle irritasies vergete.

Die langste afstand op hul toer het die volgende dag gevolg – 497 km tot op Keetmanshoop. Kort anderkant die grens na Suid-Afrika het hulle die Namakwalandse blomme gesien. Pienk, geel, wit, pers, helder-oranje, lig-oranje. By ’n restaurant op Springbok (nes op vele ander plekke tydens die toer) is hulle ingewag deur mense wat van hulle gehoor het en meer van die toer wou weet. “Mense het deurgaans vir ons gesê hulle bewonder ons dat ons dié droom waar gemaak het,” sê Jolene. Op Garies, die laaste stilhouplek voor die huis, kon hulle springbokbiltong en wyn geniet. Skielik was die toer te gou verby. Vir Jolene het dit soos ’n droom gevoel. Die laaste skof het aangebreek. Sowat 500 km later was hulle by die huis . . . En hulle kon vertel van al die koue storte, mense wat gedink het hulle is “rof” omdat hulle vrou-alleen die woestynland op ’n motorfiets aanpak, honger mae as hulle nie genoeg kos saans het nie, fantasie-tonele van sterre wat so naby voel soos jou huis se plafon, mense wat hulle gasvry verwelkom, mans wat hul waagmoed bewonder het.

“Dis iets wat elke ma en dogter moet doen,” beveel Jolene aan. “’n Mens leer oneindig baie van jouself en jou vermoëns. Die kuns is om nie moed op te gee nie – en dit te geniet.” Nou droom Jolene en Hettie reeds ’n volgende droom. ’n Motorfietsreis deur Botswana . . .