Eie stories

Machteld Minnaar, ’n weduwee van Schoemansville, skryf:

My liefste Pop,

Hoe het ons nie altyd lekker binnepret gehad oor dié liefdesnaampie nie! Daar kon kwalik ʼn man wees wat minder van ’n pop was as jy, met jou sesvoet-plus lyf, breë skouers, sterk arms en raakvat-hande.

Onthou jy nog hoe ons, ons altyd oor ons ontmoeting verkneukel het, steeds ʼn heerlike staaltjie om met ander te deel. In slegte tye kon jy altyd Het van Verlangekraal op ʼn geleende, draagbare swart-wit televisiestelletjie in ʼn residensiële hotel in die middestad van Pretoria vir jou lot en die wurgende strop om die nek blameer!

Sal ek ooit daardie eerste aanblik van jou deur die Hotel Madeleine se loergaatjie vergeet? Lank en donker, ongeduldig tikkend met jou voet op die vloer, hand in die sy. En daardie verbasing toe dit ek is, en nie die ou tannie wat jy verwag het, wat die deur oopmaak nie. Van daardie oomblik was ek – altyd so versigtig vir liefde en seerkry – vir ewig verlore.

Sou jy glo dat dit vanjaar 20 jaar sedert daardie ontmoeting was? Hoeveel paaie het ons nie gery nie, hoeveel kilometers nie gestap op ons lewenspad saam nie? Aan die begindae was daar soveel laatnag-diskoerse oor enige onderwerp onder die son oor beker ná beker koffie – jy was baie verbaas toe jy later uitvind ek is glad nie ʼn koffieliefhebber nie! Ons het gesels danksy jou skerp brein en wye belangstelling wat oor die jare nooit opgeraak nie.

Die verliefdheid het mettertyd gelei tot ʼn spoggerige diamant aan my ringvinger. Later sou jy met guitigheid spot hoe jou skoonma al die saal gereël het die dag ná die televisie-episode! Om die waarheid te sê, kan ek vandag glad nie onthou hoe dit gekom het dat ons die punt bereik het nie, maar ons troudag onthou ek nog soos gister. Dit sal altyd uitstaan as een van die beste dae in my lewe. Uit die foto’s glimlag ʼn stralende bruid met haar prins aan haar sy. Nooit was daar by my ʼn oomblik se twyfel dat jy die een was wat spesiaal deur die Here vir my uitgesoek is nie. Met jou was my legkaart uiteindelik voltooi.

Soos in elke verhouding was daar moeilike tye, tye van dik en dun, tye van goeie gesondheid en ook tye van angswekkende siekte. Die vreugdevure het hoog gebrand met die geboorte van ons eersgebore seun, altyd jou grootste trots. Die grootste toets vir enige huwelik het ons met vlieënde vaandels geslaag, toe jy ons te midde van jou eie gebrokenheid so wonderlik ondersteun en onderskraag het met die stilgeboorte van ons langverwagte laatlammetjie en jou naamgenoot. Met elke struikelblok het ons net nog nader aan mekaar gegroei, ons liefde het net sterker geword soos ons groter waardering vir mekaar se innerlike krag en sterkte gekry het. 

Nooit het jou toewyding aan my en ons huwelik vir ʼn oomblik gewankel nie. In moeilike tye het jy my altyd daaraan herinner dat ons beloftes gemaak het, voor ons Vader en voor getuies. Dit het ʼn wonderlike vertroue gebring en was ʼn groot pluspunt dat ek so seker van jou toewyding kon wees.

Vir net bietjie meer as 17 jaar was ons een, maar ook twee mense afsonderlik met genoeg beweegruimte om persoonlik te groei en te ontwikkel. Ons het mekaar baie geleer, en jy was altyd bereid om toegewings en aanpassings te maak. Ek het jou groei van ʼn amperse oujongkêrel tot by ʼn waarlik volwasse gees, ʼn gesinsman van edel karakter op wie mens te alle tye kon staatmaak, met verwondering gadegeslaan. Deur jou toedoen het ek van ʼn onseker, skugter jongmeisie in ʼn selfversekerde, onafhanklike vrou ontluik, want jy het nooit nagelaat om my van jou liefde te verseker of my te vertel hoe mooi ek vir jou was nie. By jou was ek altyd veilig, geborge en gekoester.

Een van die leuses waarvolgens jy geleef het, is dat die lewe kort is, dat ʼn mens net vandag het, want ons weet nie wat môre inhou nie. Miskien het jy geweet dat jy nie lank hier in jou tydelike woning gaan vertoef nie, daarom het jy die nou so ten volle omarm.

Ongelukkig het ek dit nie altyd ter harte geneem nie, en daarom maak dit so seer dat ek hierdie brief nie persoonlik vir jou kan gee nie, want ten spyte van al ons vooruitgang is hier op aarde nie ʼn posbus of e-pos hemel toe nie.

Maar ek stuur elke gedagte hierin met die hoogste agting per adres “Ons Vader” met die aandwind na jou, met die versekering dat ek jou solank ek lewe, nie sal vergeet nie. Jy leef voort in ons pragtige seun. Ek sal jou al die dae van my lewe liefhê.

Met groot verlange

Jou Pop