marciel

’n Besoek aan die National Gallery. FOTO verskaf

Eie stories

Marciel: “Daar is ’n wêreld [...] wat gesien, geproe en geruik moet word.”

Marciel Hopkins is een van ons gunsteling-modelle. Sy verklaar liggaamsliefde wyd en syd en is met daardie boodskap al die pad Londen toe! Hier skryf sy oor haar ervarings in die wêreldstad, haar verwagtings en die werklikheid van jou modeldrome najaag oorsee …

Vir die volgende 5 weke skryf Marciel nog vir SARIE.com uit Londen. Ek weet nie van jou nie, maar ons is vreeslik nuuskierig oor die lewe van ’n model. Marciel het vroeër vanjaar oor haar reis gesê: “Ek glo ek sal ná die eerste weke my voete vind en al die oppe en affe geniet. Niks in die lewe wat die moeite werd is, is altyd nét lekker nie. As dit maklik was, het almal dit mos gedoen.’’ Lees verder vir haar derde bloginskrywing.

Mooi, maar nie so maklik

Party dae is op, party dae is af. Af in die sin dat daar niks opwindend gebeur nie, dus moet jy maar geduldig wees en weet hoe om jouself besig en positief te hou. Die Mej. SA-kompetisie het my in dié sin goed voorberei vir my modelloopbaan. Party dae was opwindend met interessante lesings of glanspartytjies. Ander dae was net doodnormaal. Dan moes ek versigtig wees om nie my tyd in ’n hotelkamer om te wens nie. Om nie te wens dat ons reeds besig was met repetisies vir die finale aand nie.

marciel

Tuis op Nelson’s Column by Trafalgarplein. FOTO Verskaf

Mense besef nie dat Mej. Suid-Afrika ’n 7 maande lange proses is nie. In my geval was dit ’n jaar, want ek het 5 maande voor die eerste uitdunronde drastiese leefstylveranderings gemaak en 14 kg verloor. So gereed soos wat ek dalk by tye gevoel het, was daar geen manier om tyd in my eie hande te neem nie. Dieselfde geld my modelloopbaan nou.

marciel

‘n Besoek aan Old Spitalfields se Sondagstraatmark. FOTO Verskaf

So graag soos wat ek aan deure wil gaan klop om aansoek te doen vir “modelwerk”, is dit net eenvoudig nie hoe dit werk nie. Dit gaan nie oor jou vermoëns wat op papier gemeet kan word nie. “Mooi” word ’n nie-deurslaggewende faktor, want elke ander model wat die job net so graag soos jy wil hê, is haar eie en ’n ander tipe mooi. Dit gaan eenvoudig daaroor om op die regte tyd op die regte plek te wees. Pas jou look by die gesig wat hulle soek vir die brand wat hulle wil verkoop? Jy hoop en bid dit doen.

marciel

’n Oxford Street-sonsondergang wat my aan jong drome herinner. FOTO Verskaf

Daar is ’n romantiese persepsie rondom die idee van modelwerk en dat dit maklik is, want jy daag mos net op en lyk mooi. Dit lyk dalk selfs opwindend, want jy is nooit vasgevang in ’n 8-tot-5-roetine nie en elke dag lyk anders. Hou dan net ook in gedagte dat geen twee maande ooit dieselfde lyk nie, wat beteken daar is geen standvastige inkomste nie. So, mooi lyk ís die maklike deel daarvan, as jy in ag neem dat dit met baie onsekerheid en ’n gebrek aan stabiliteit en roetine gepaard gaan. Die grootste uitdaging lê dus daarin om jou vreugde, fondasies en in ’n mate jou sanity in ander dinge te vind. Om jou hiér en nou, d.w.s. die hede, mooi te maak, want om jou dae verby te wens tot jou volgende job is tog nie g’n lewe nie.

marciel

Op stel vir my tweede job. FOTO Verskaf

As jou big break dan die dag bel om te sê jy moet môre op stel wees, wees altyd gereed en die beste weergawe van jouself. Met gereedheid bedoel ek ook om in jou siel verryk te wees. Vul jou wêreld met avonture, mense en boeke wat jou stimuleer en opgewonde maak terwyl jy wag. En voor jy jou oë uitvee, word jou gewag ’n drafstap na ’n vol en vervulde lewe, want jy besef die waarde van elke oomblik en die moontlikheid van die magic wat dit dra. Jy wil immers jou big break met grasie, klas en styl ontmoet en jouself voorstel as iemand wat sóveel meer as net ’n mooi gesiggie is.

marciel

Spoggerige strate by Piccadilly Circus. FOTO Verskaf

Ek glo met my hele hart daarin om nooit op te hou droom nie, maar ek het ook in die proses geleer om nie vandag deur my vingers te laat glip nie. Daar is ’n wêreld rondom my wat gesien, geproe en geruik moet word. So if it all comes to an end one day, tell the world I lived.

marciel

My oulike niggie en nefie wat in Londen woon: Sylvia en Harold Hopkins. FOTO Verskaf

Lees nou

Marciel op die trein na haar eerste job!

Marciel skryf vir ons uit Londen!

Groter as 8 – kom ons vier!