marciel

'n Park in Hackney Central naby my nefie se huis waarin ek een middag gaan stap het om die area te verken. FOTO Verskaf

Eie stories

Marciel leer van begrotings en babysit

Marciel Hopkins is een van ons gunsteling-modelle. Sy verklaar liggaamsliefde wyd en syd en is met daardie boodskap al die pad Londen toe! Hier skryf sy oor haar ervarings in die wêreldstad, haar verwagtings en die werklikheid van jou modeldrome najaag oorsee …

Vir 6 weke aaneen skryf Marciel vir SARIE.com uit Londen. Ek weet nie van jou nie, maar ons is vreeslik nuuskierig oor die lewe van ’n model. Marciel het vroeër vanjaar oor haar reis gesê: “Ek glo ek sal ná die eerste weke my voete vind en al die oppe en affe geniet. Niks in die lewe wat die moeite werd is, is altyd nét lekker nie. As dit maklik was, het almal dit mos gedoen.’’ Lees verder vir haar vyfde bloginskrywing.

Oor budgets en babysitting

Ek het verlede Maandagaand my Oyster Card verloor wat ek nodig het vir openbare vervoer en dit was nog geldig tot die einde van die maand. Ek het dit eers Dinsdagoggend besef toe ek op pad stad toe is. Ná ek vir 2 uur gesoek het, my tas drie keer in- en uitgepak het en baie na aan trane was, het ek mismoedig aanvaar dat dit weg is. Openbare vervoer is my life line, daarsonder is ek gestrand. Ek het vrede gemaak met die ekstra uitgawe wat nie deel was van my reeds beperkte begroting nie en ek moes doodeenvoudig op ander dinge sny. Wat beteken het dat ’n Starbucks-chai latte my ’n volle 2 uur se stap huis toe gekos het.

marciel

Die herfskleure in Regent’s Park was skilderagtig mooi en betowerend. FOTO Verskaf

Dit was op my bucket list om Regent’s Park te besoek voor ek die naweek na die platteland vertrek het. Ek dra nie meer as my daaglikse kontant budget op my nie, want daar is net eenvoudig te veel versoekings. Gelukkig het ek toe die dag ’n casting naby Regent’s Park en hoewel my afstandskatting effens uit was, moes ek in elk geval vir ’n treinkaartjie in daardie rigting betaal. Ná ’n sprokiesagtige wandeling in Regent’s Park, wat my asem weggeslaan het met skilderagtige herfskleure, moes ek ’n belangrike besluit maak: ’n Starbucks-chai latte waarom ek my blou-koue vingers kon vou, of ’n treinkaartjie huis toe. Die latte het loshande gewen en ek het ’n nuwe rekord treë met my FitBit platgestap. En nee, ek het nié Pokémons probeer vang met my doelgerigte power walk op pad huis toe nie, ek net probeer koers hou op my City Mapper App se aanwysings.

marciel

Die herfskleure in Regent’s Park was skilderagtig mooi en betowerend. FOTO Verskaf

Ek en Jackie het die naweek vir oulaas gebond. Ek het eerlikwaar nie geweet katte is so needy nie. Ek het met chocolate Labradors, dwergbokkies en kanaries grootgeword. Jackie sal nie net my hele skoot beset terwyl ek haar met my linkerhand streel nie, sy sal ook my foon uit my regterhand probeer head butt as sy nie my onverdeelde aandag ontvang nie.

Ek het my een aand byna flou geskrik toe ek haar met ’n mannetjieskat in die badkamer betrap. Met groot ontsteltenis en die vrees van ’n tienerswangerskap onder my bekwame toesig, het ek my nefie laat weet of hy bewus is van die onheilighede wat besig is om onder sy dak plaas te vind. Sy koel en kalm reply: “That’s Fox. He’s less than a year old. Very much a toyboy then.” Nou kan ek ook sê ek het met my eie oë gesien hoe ’n cougar operate. Effens onwillig, moet ek tog erken dat ek na Jackie se warm cuddles, streke en head butts verlang.

marciel

Jackie en Fox op heterdaad in die agterplaas betrap. 😉 FOTO Verskaf

Sondagoggend neem ek ’n trein uit na Swindon toe om by vriende in die platteland te gaan kuier. Daar is ek toe met groot verwarring, stokflou van die trappe klim met my twee reuse-tasse, ’n volle uur en 20 minute te vroeg op die stasie, want niemand het my gesê die tyd het met ’n uur teruggeskuif vir die wintermaande nie.

Hulle sê mos jou gedagtes moet by jou einddoel arriveer voor jou lewe daarby uitkom, want daar is wonderlike krag in visualisering. Op daardie oomblik kon ek baie duidelik visualiseer hoe die stasiepersoneel my verwar met ’n bekende Britse aktrise  … en my by die eersteklas-wagkamer inboek, waar daar vir my ’n cappuccino en voetmassering aangebied word. Dink net hoe posh sou ek lyk met Jackie op my skoot.

marciel

Die foto is op ‘n balkon in ‘n baie posh area in Mayfair geneem toe ek vir ‘n vriendin daar gaan kuier het wat ‘n week in Londen was om te au pair. FOTO Verskaf

marciel

‘n Vintage-markie wat ek oor die naweek in Hackney Central besoek het. FOTO Verskaf

Dagdrome opsygeskuif, die meeste van die tyd moet jy jou eie tasse dra en head butt vir jou onverdeelde aandag. Maar aanhouers wen, glo my, sosiale media in my regterhand het sleg tweede gekom teen Jackie! So embrace jou inner cougar en knipoog vir dié week se uitdagings. Soos The Killers vandag in die kar sing op pad terug van Oxford: Close your eyes, clear your heart and cut the cord.

marciel

‘n Besoek aan een van die kolleges in Oxford. FOTO Marciel

marciel

‘n Besoek aan Oxford City op my eerste koue wintersdag. FOTO Verskaf

Lees nou

Laudo Liebenberg se Karoo-troue

Marciel steek tong uit vir maermaak-advertensies

Bekende akteur inspireer en doen nóg meer!