FOTO Julia Winkler

Eie stories

Marciel skryf: “My boodskap aan elke meisie …”

Vandat ek kan onthou, was my grootste model-droom nog altyd om op die voorblad van Sports Illustrated te wees (en natuurlik SARIE s’n!). Maar op hoërskool begin meisies my skielik vra hoeveel ek weeg en watter grootte broek ek dra. Ek het sorgvry op ’n plaas grootgeword en ’n skaal met nommers wat “my waarde” bepaal, het nie vir my bestaan nie. Gou moes ek vrede maak met die realiteit van sekere liggaamsvereistes om ’n model te word. Saam met dit het ek besef ek sal nooit klein genoeg wees nie …

Maar hier is ek nou, 10 jaar later, en ek is die heel eerste kurwemodel wat in World Swimsuit se 2017-uitgawe gaan verskyn. Ek kan met nederigheid sê: Drome word nog waar.

Wat is my boodskap vir elke jong meisie? Geleenthede gaan nie in jou skoot val nie, jy moet dit self laat gebeur. Ek het met groot waagmoed as ’n kurwemodel ingeskryf vir die World Swimsuit-kompetisie en te staan gekom teen meisies met lyfies soos Victoria’s Secret-modelle s’n. Dit was intimiderend, maar ek het myself belowe om die voller figuur te verteenwoordig op elke moontlike platform wat ek kan. Want ons is ook belangrik, mooi en sexy!

Jy moet vreesloos klop aan die deure wat jou die bangste maak, want dit is waar jou grootste belonings lê. My hart het gebokspring van vreugde toe World Swimsuit aankondig dat ek in hulle nuwe uitgawe gaan verskyn. Dit is ’n reuse-stap in die rigting van meer liggaamsdiversiteit en verteenwoordiging in ons media en industrie.

Daardie deurbraak-oomblik het nie net oor myself gegaan nie. Dit was ’n oorwinning vir elke meisie wat gebore is met gesonde kurwes en rondings, maar wat haar hele lewe lank nog voel sy is nie goed en mooi genoeg nie. Onthou, daar is niks, maar niks in hierdie wêreld wat jy nie kan doen omdat jy nie in die broekgrootte pas waarin jy graag sou wou nie. Ek wil hê jy moet vandag vir jouself in die spieël kyk en besef dat daar dinge is wat jy nie kan verander nie. Maar daar is altyd dinge van jouself wat jy wel kan vier en waardeer.

Dit is só okay om van jou boude te hou of om te dink jy het ’n mooi maag. Jy gaan vir die res van jou lewe in die liggaam wees waarin jy nou is. Hoe gouer jy haar jou beste vriendin maak, hoe gouer sal jy besef jy het eintlik nog al die jare ’n partner for life! Ek wens ek het dit vroeër in my lewe besef, want ontevredenheid met jou liggaam steel kosbare jare van jou jeug. Tussen my en jou: Selluliet en rolletjies is super-overrated en eintlik baie normaal. 😉

So ek gaan met my nommer-14-boude, against all odds, in World Swimsuit 2017 verskyn. Ek droom van die dag wat dit die norm is om liggaamsdiversiteit in tydskrifte en op TV te sien. Tot dan sal ek elke dag my deeltjie doen en hard baklei vir dit wat elke vrou toekom: Om te glo én te weet ek is goed, bekwaam en ongelooflik mooi, ongeag my broekgrootte.

Liefde

Marciel

XX