Eie stories

Marciel skryf oor 2016: Ek’t gegroei

Ons paaie het vroeër in 2016 met Marciel Hopkins gekruis en ons is vandag onsettend dankbaar daarvoor. As blogger het sy vroeër vanjaar week na week lesers geïnspireer met haar modelreis na Londen. Haar eerlikheid, snaakse oomblikke, liggaamsliefde en menslikheid het haar ’n gewilde skrywer hier op SARIE.com gemaak. Lees haar laaste blog vir 2016 hier!

Ons het haar gevra om iets te skryf oor haar 2016, en hoe haar 2017 sover lyk. Lees hier oor haar mentors, haar planne vir die komende jaar en haar vakansiewense vir jou. Marciel, jy is een van ons gunstelinge!

FOTO Marciel Hopkins : instagram

FOTO Instagram / @Marcielhopkins

Marciel skryf:

Somermaande in die Moederstad is ’n opwindende tyd vir enige model. My voete het skaars die grond geraak terug uit Londen, toe die energie van high season in die Kaap my opgeraap het. Daar is elke dag castings en die Europeërs stroom in om op ons wit strande te kom wortel skiet. Dis ’n trots Suid-Afrikaanse gevoel om saam met Duitsers en Swede in ’n bussie langs die see te ry en te hoor hoe hulle “oe” en “aa” oor elke nuwe uitsig. Die model-agentskappe sluit oor ’n week en ek sien daarna uit om vir ’n paar weke by die see te gaan afskakel ná die besigste jaar van my lewe.

Ek het vanjaar op ses verskillende plekke gebly. Elke avontuur het sy eie adres gehad, want ek moes trek na waar die modelseisoen my geneem het. Tussendeur het ek voltyds au pair gespeel en die Kaapse paaie plat gery om al drie kinders betyds by hul buitemuurse aktiwiteite te hê.

marciel

As ‘n top 12 finalis vir Mej. Suid-Afrika 2016 FOTO Merwelene van der Merwe

Ek was vir die eerste 3 maande van die jaar in Johannesburg besig met Mej. Suid-Afrika en daarna het ek tussen die Paarl, Vredehoek, Claremont, Hamburg en Londen getrek. Kortliks, ek het uit my tas gelewe. My pakplek was dalk ernstig beperk, maar my visie en my wêreld is vir altyd verbreed.

Ek sal 2016 onthou as die jaar toe ek my legkaart sonder die prentjie op die boks moes bou. Soms het ek geen idee gehad hoe al die stukkies inmekaar gaan pas nie, maar ek kyk terug na ’n kleurryke, betekenisvolle prentjie. Ek was altyd die akademiese en georganiseerde tipe op skool. My lewe was maande vooruit beplan. Op universiteit en met primwees wat krisisse opgelewer het, het ek geleer om te ontspan, maar ek moes hierdie jaar reuse-spronge uit my gemaksone neem wat beplanning betref. Ek moes leer om saam met die energie van die konstante veranderings in my lewe te werk en om dit te gebruik as ’n enjin wat my vorentoe dryf, pleks daarvan om toe te laat dat die onsekerheid van môre my verlam.

marciel

By ‘n glansgeleentheid as ‘n Mej. Suid-Afrika finalis.

Kyk, alles in die lewe kom teen ’n prys. Mej. Suid-Afrika was my sprokiesverhaal, maar dit het ’n jaar se opoffering en uithouvermoë vereis. Geleenthede het nie daarna net in my skoot geval nie. As ek dit môre kon oordoen, sou ek. Maar ek moes hard werk en kanse waag, wat op sy dag ook teleurstellings en terugslae opgelewer het.

Ek het sóveel interessante mense op my pad ontmoet wat sugar én spice tot my kennis-netwerk gevoeg het. Ek het langs ’n stripper (‘to call a spade a spade’) in die vliegtuig gesit op pad Londen toe. Met haar stoute stories het sy my letterlik in stille skok en verbasing in my sitplek agtergelaat. Dit was vlugtig, maar powerful. Jy leer om nie té geheg aan enigiets of iemand te raak nie, want jy kan hulle dalk nooit weer sien nie.

Vandag is jy hier, môre is jy daar, so jy leer om jou huis in jou hart te maak. Dit klink nou na ’n cliché, maar dit is hoe jy oorleef in ’n vreemde land. Jy skop aan die einde van die dag jou skoene uit en geniet jou eie geselskap.

En my naam het beslis in ’n paar ander mense se geselskap opgekom wat dink hulle verstaan my storie deur ’n halwe boodskap hier te lees en daar te hoor. Ek moes daarmee ook vrede maak, want ek sal altyd vir party té eerlik, té groot, té selfversekerd wees, ensovoorts.

Die lewe is ’n onregverdige toeskouersport, waar mense op die kantlyn altyd die meeste te sê gaan hê oor wat eintlik op die veld aangaan.

Onthou altyd: Wat Sally van Suzie sê, sê meer van Sally as van Suzie. Daar is baie min dinge mooier as iemand wat vir ander mense hul plek in die son gun.

Ek is stil-tevrede-opgewonde oor 2017, want ek weet ek het my energie op die regte plekke en by die regte mense belê hierdie jaar. Ek sien uit daarna om te sien watter vrugte ek in die nuwe jaar gaan pluk ná ek hierdie jaar meer gefokus het op saai as oes. My 2017-energie gaan grootliks in my modelloopbaan belê word en ek gaan met my nagraadse kwalifikasie in life coaching begin. Ek is passievol oor lewensafrigting en kan nie wag om aan die einde van volgende jaar gekwalifiseerd te wees nie. Dink net aan al die interessante onderwerpe waaroor ek dan vir julle kan skryf as ek met elke module meer ingelig is.

marciel

My besonderse ma, Annaline, wat van kleins af al saam met my vlerke bou vir al my drome.

So, met die laaste stretch van 2016 wil ek sê: “Geniet jou vakansie en vergeet van selluliet en die 5 kg wat jy nou wou verloor voor jy met jou swembroek op die strand kan verskyn. Jy is sóveel slimmer en sexier as wat ’n nommer op die skaal ooit kan bepaal.”

marciel

Vergeet van selluliet en geniet jou vakansie! FOTO Angelika Wierzbicka

Teenwoordigheid is die een ding wat ons nie kan multi-task nie. So rus heerlik, haal diep asem en geniet jou G&T op die stoep met ’n sonsondergang wat saggies in die agtergrond aan die slaap raak.

Kyk hier na nog foto’s van Marciel se 2016 en haar mentors

Saam met Tanya van Graan in Kaapstad. Sy is ’n wonderlike rolmodel en mentor vir my.

Saam met Ivan Botha en Donnalee Robert by Rhebokskloof toe ek met hulle ’n onderhoud gevoer het oor Vir Altyd.

Ek is bevoorreg om Anna-Mart van der Merwe as ’n mentor te kan hê. Ek leer so baie van nederigheid en medemenslikheid by haar.

Saam met ons beeldskone Mej. Suid-Afrika 2016: Ntandoyenkosi Kunene.

Handrè, die man wat my hierdie jaar in elke besluit ondersteun het, ongeag die uitkoms daarvan.

Lees nou

Hou vakansie in die binneland! Hier is die top-10 dorpe

Dié top-10 SA vakansieplekke raak vinnig vol!

FOTO: Die oulikste Kersvader nóg!