marciel hopkins

FOTO verskaf

Eie stories

Marciel skryf vir ons uit Londen!

Marciel Hopkins is een van ons gunsteling-modelle. Sy verklaar liggaamsliefde wyd en syd en is met daardie boodskap al die pad Londen toe! Hier skryf sy oor haar aankoms in Londen, haar verwagtings en die werklikheid van jou modeldrome najaag oorsee …

Vir die volgende 6 weke skryf Marciel vir SARIE.com oor haar lewe in Londen. Ek weet nie van jou nie, maar ons is vreeslik nuuskierig oor die lewe van ’n model. Marciel het vroeër vanjaar oor haar reis na Londen gesê: “Ek glo ek sal ná die eerste weke my voete vind en al die oppe en affe geniet. Niks in die lewe wat die moeite werd is, is altyd nét lekker nie. As dit maklik was, het almal dit mos gedoen.’’ Lees verder oor haar reis tot dusver.

Drome is nie van spookasem gemaak nie

28 ure se reis later en die Bakerloo-trein stop uiteindelik by my stasie. Met die uitklimslag word die bedompige treinkompartement vervang met die reuk van jong, vars drome wat in die lug hang. Met twee groot tasse, ekstra swaar met geskenke vir die niggies en nefies, trotseer ek die reuse-stel trappe wat voor my lê. Met elke tree en druppeltjie sweet wat teen my rug afrol, word die opwinding groter en die moegheid kan maar eers wag. En alles wat ek by die huis agtergelaat het, kan ook eers wag. Ek is in Londen. Dit is tyd om naam te maak vir myself.

marciel hopkins

FOTO verskaf

Modelwerk word met kitsroem, sukses en ’n glamorous leefstyl geassosieer, want dit is die perfekte prentjies wat ons op sosiale media en advertensieborde sien. Daar is feëverhale soos dié van Kate Moss wat op ’n lughawe raakgesien is, maar die res het elkeen ’n storie van verwerping en die struggle van ’n “young, upcoming model”. Daar is glo selfs destyds vir Gisele Bündchen gesê haar neus is te groot; sy sal dit nooit in die modebedryf maak nie.

marciel hopkins

FOTO verskaf

In dié stadium van die wedstryd moet ek dit net eers tot by my castings maak. Vir elke 20 castings waarheen die agentskap jou stuur, op jou eie onkoste en die genade van City Mapper (die app wat al soveel keer my lewe gered het), is jy gelukkig as jy een van die jobs boek. Niemand trek jou aan of maak jou mooi voor jy met kliënte ontmoet nie. Soms stuur hulle jou na die uithoeke en nywerheidsgebiede van die stad. Uitasem en effens natgesweet daar aangekom, kyk ’n kliënt jou twee keer op en af, neem ’n Z-kaart en bedank jou vir jou tyd. As dit maar nét my tyd was … die prys van my treinkaartjie is duidelik nie in ag geneem nie.

Enige suksesvolle loopbaan kom teen ’n prys – letterlik en figuurlik. As dit maklik was, het almal dit gedoen. Jy móét kanse waag, al is jy hóé bang. Ek het Londen toe gekom op my eie onkoste en bewus van die risiko dat ek nie werk kry nie. In alle eerlikheid, dit ís stresvol, maar dit sou erger wees om die droom te begrawe voor dit nog kon lewe. Jy moet hare op jou tande hê. Niemand sê ná die 19 jobs wat jy nié geboek het nie, vir jou “toemaar, jy is steeds mooi en goed genoeg” nie. Jy leer om dit nie persoonlik op te neem nie en jy bou jouself op in die proses. “My sproete was te eksoties vir hulle,” troos jy maar jouself, want aan die einde van die dag gaan jy nooit weet hoekom hulle jou nie geboek het nie. So, jy kan netsowel die storie vir jouself interessant maak.

marciel hopkins

“Bodies are beautiful. Remove the stigmas.” FOTO Dewald Kirsten

Van kleins af was ek altyd selfbewus oor my koeëlronde boude en gespierde bene wat ek onder los hippie-rokkies weggesteek het. 23 jaar later is my grootte-14-boude die money makers! Die Duitsers vrek daaroor dat ek shape gee aan hul jeans. “Ahh yes, you keep our pants up. Wonderful!” met ’n sterk Duitse aksent.

Drome is nie van spookasem gemaak nie. Jy gaan verdwaal en jy gaan verwerp word, maar wees dankbaar, want vir elke “nee” is jy een tree nader aan jou “ja”. Bly hoop en bly glo.

Liefde uit Londen, tot my volgende inskrywing.