Eie stories

Marciel steek tong uit vir maermaak-advertensies

Marciel Hopkins is een van ons gunsteling-modelle. Sy verklaar liggaamsliefde wyd en syd en is met daardie boodskap al die pad Londen toe! Hier skryf sy oor haar ervarings in die wêreldstad, haar verwagtings en die werklikheid van jou modeldrome najaag oorsee …

Vir 6 weke aaneen skryf Marciel vir SARIE.com uit Londen. Ek weet nie van jou nie, maar ons is vreeslik nuuskierig oor die lewe van ’n model. Marciel het vroeër vanjaar oor haar reis gesê: “Ek glo ek sal ná die eerste weke my voete vind en al die oppe en affe geniet. Niks in die lewe wat die moeite werd is, is altyd nét lekker nie. As dit maklik was, het almal dit mos gedoen.’’ Lees verder vir haar vierde bloginskrywing.

Steek tong uit vir maermaak-advertensies!

Die dae begin koud en min raak. My laaste 2 weke in Londen het aangebreek. Ek woon vir ’n week in my nefie se huis en pas hul kat, Jackie, op terwyl hulle met die kinders in Sussex is. Ek het die naweek ’n insiggewende life coaching-kursus bygewoon. Studies toon dat die meeste mense ’n life coach gaan sien weens ’n gebrek aan selfvertroue. Ons elkeen stap ’n pad met selfvertroue en party dae is beter as ander. Ek gesels graag in dié inskrywing oor die pad wat ek met liggaamsaanvaarding gestap het.

marciel

Ek en Jackie, die kat na wie ek vir die week omsien. FOTO Verskaf

marciel

Ek het die naweek ‘n 2-dag-kursus deur The Coaching Academy bygewoon, wat ‘n goeie oorsig gegee het oor wat die beroep van ‘n life coach behels. HIer is ek saam met Samira en Nasim wat ek by die kursus ontmoet het. FOTO Verskaf

Die meeste mense wat my journey volg, ken die storie. Ek het 14 kg in 4 maande verloor om in te skryf vir Mej. Suid-Afrika. Ná die 7 maande lange proses as een van die top-12 Mej. SA-finaliste is ek nou ’n kurwemodel in my natuurlike default setting: ’n nommer 14.

Mense vra of ek doelbewus die gewig opgetel het om aan die standaarde van ’n plusgroot model te voldoen. Glad nie. Ek het net ’n meer natuurlike leefstyl begin volg. Ná 7 maande kon ek weer ’n glasie sjampanje en ’n braai-tjoppie geniet. Ek was in daardie 7 maande gewoonlik 10:00 op ’n Vrydagaand in die bed omdat ek die volgende oggend ’n dubbele spin-klas gery het. My klere het by die dag groter geword en ek kleiner. Oor naweke het ek geslaap en akademiese sielkunde-honneurswerk ingehaal wat ek deur die week misgeloop het vanweë my primaria-verantwoordelikhede en strawwe oefenprogram. Dit was uitputtend om tussen mense te wees wat nie verstaan nie en om elke keer te verduidelik hoekom ek vroeg moes gaan en nie saam met hulle iets kon geniet nie.

marciel

‘n Besoek aan die Sky Garden is gratis, maar jy moet lank voor die tyd bespreek en jy mag net ‘n uur daarbo spandeer. Dit was asemrowend mooi! Dit gee jou ‘n 360-grade-uitsig oor Londen. Beslis ‘n hoogtepunt van Londen, no pun intended ;) FOTO Verskaf

Ná die Junie-vakansie was die transformasie skielik baie sigbaar. Ek was ’n volle broekgrootte kleiner. Mense het gerave en gesê ek lyk fantasties, maar ek was vreemd en verward in ’n liggaam wat ek nie geken het nie. Al die identiteitskodes wat ek toe al vir myself van die ouderdom van 16 af gevorm en gebou het, het in ’n bestek van 4 maande heeltemal weggeval. Met tyd en ’n stelselmatige terugkeer na sosiale interaksie het ek wel in ’n mate my gemak en selfvertroue herwin in die “kleiner” weergawe van myself. Hoe dan nou anders, ek was in beter shape as ooit? Maar as ek nou kyk na foto’s in dié maer tyd, sien ek nie hoe goed ek gelyk het nie. Ek sien hoe ontevrede ek was. Ek sien hoe ek myself altyd gedruk het om beter te lyk, om nog maerder te wees, om nog minder selluliet te hê. Die bose kringloop het daartoe gelei dat ek nooit ’n plek van selfaanvaarding sou bereik nie, want daar sou altyd iets wees wat nog kon verbeter.

marciel

Ek is deur ‘n vriend genooi na ‘n live konsert van Nickelback te gaan kyk in die Wembley-arena. Die ervaring was ongelooflik! FOTO Verskaf

Weer eens is die identiteitskodes heeltemal verskuif toe ek binne 2 maande ná die Mej. SA-kompetisie weer in my nommer 14 jeans beland het. Daar was natuurlik cheat meals ná ek myself vir ’n jaar van alle versoekings weerhou het, en ek kon weer tyd maak vir ander dinge wat vir my belangrik is en wat ek geniet. Daarmee saam moes ek ook vrede maak met die selluliet wat skielik weer sigbaar was, klere wat nie meer pas nie en my belt wat ’n gaatjie losser moes sit.

Party dae het ek geweier om oogkontak te maak met die realiteit in die spieël, want ek het gedink my waardigheid is gekoppel aan hoe maer ek veronderstel was om te wees.

marciel

‘n Opvoedkundige besoek aan die Britse Museum. FOTO Verskaf

Ons lewe in ’n tyd wat obsessief is oor gewig. Ons koppel dit outomaties aan hoe suksesvol of waardig iemand is. Is die logika daarvan dan dat party mense deur hul genetika suksesvol gebore word en ander met ’n lewenslange agterstand? Van wanneer af het dit ’n skande geword om gewig op te tel? Is dit nie eerder ’n jammerte dat soveel jong meisies meer gefokus is daarop om gewig te verloor as om hul graad deur te kom nie?

marciel

Op die vlug Londen toe het ek bevriend geraak met die meisie in die sitplek langs my. Nicole kom van Australië af en sy studeer hier in Londen, want sy wil haar eie reeks leer-manskoene maak. Ons het ‘n koffie-date gereël nadat sy haar praktiese eksamen van 2 weke voltooi het. FOTO Verskaf

Ons laat toe dat ander vir ons voorskryf hoe ons veronderstel is om te lyk tot voordeel van hul eie gemak en gatsak. Die idee van #bodyperfection is geskep deur maatskappye en onrealistiese advertensieborde wat elke dag lag-lag bank toe stap, want hulle maak ’n skoon wins uit ons insecurities. Moenie dink dat die dieetkultuur gemaak is om jou maer en goed te laat voel nie. Dit is juis daar om jou elke dag daaraan te herinner hoe ver jy nog van jou #bodygoals af is.

marciel

Op pad na ‘n call back. Jy kry ‘n call back wanneer ‘n kliënt jou weer wil sien en in ag neem vir ‘n booking. FOTO Verskaf

Dit is tyd om jou ore toe te druk vir al die leuens. Gesondwees gaan nie net oor wat jy eet en hoe gereeld jy oefen nie. Dit gaan oor ’n holistiese benadering tot welwees. Koop eerder vir jou ’n swembroek en bring jou Desembervakansie op die strand deur pleks daarvan om agter ’n duin weg te kruip. Neem eienaarskap van jou liggaam en steek tong uit vir “maermaak-advertensies”. Ek kan jou belowe jy gaan nie oor ’n paar jaar terugkyk en wens jy was 5 kg ligter nie. Jy gaan dankbaar wees dat jy gesond en gelukkig was.

Jou waarde word nie bepaal deur wat ander van jou liggaam dink nie. Net jý neem besluite daaroor. Dit is normaal om "tummy flab" te hê as jy sit. Dit word net nooit in die media vir ons gewys nie, so ons dink dit is verkeerd. Jy hoef jouself geensins kleiner te maak vir enigiemand anders se gemak of gatsak nie.
FOTO Kassandra Bruni. Swembroek: Nude Wear

Nude Wear is 'n bikini-reeks wat fokus op 'n positiewe liggaamsbeeld en liggaamsdiversiteit, want vroue kom in verskillende vorms en groottes. As vroue is ons krities genoeg teenoor mekaar sonder die hulp van mans. Kom ons fokus daarop om mekaar op te bou, eerder as om mekaar te kritiseer. Bemagtig die vroue en dogters in jou lewe om gemaklik en selfversekerd in hul eie vel te voel.
FOTO Kassandra Bruni. Swembroek: Nude Wear

Jou waarde as mens word nie aan jou liggaamsvorm gekoppel nie. Jy is geregtig daarop om van jouself te hou, ongeag jou vorm of grootte. Daar bestaan nie iets soos "liggaamsperfeksie" nie. Dis 'n wanpersepsie wat deur die media geskep is. Neem eienaarskap van jou liggaam en jou besluite.
FOTO Kassandra Bruni. Swembroek: Nude Wear

Lees nou

Marciel: “Daar is ’n wêreld [...] wat gesien, geproe en geruik moet word.”

Marciel op die trein na haar eerste job!

Marciel skryf vir ons uit Londen!