marciel

Op stel van my eerste 'job'. 'n Aanlyn klerewinkel: Everyhing 5 Pounds. FOTO Verskaf

Eie stories

Marciel op die trein na haar eerste job!

Marciel Hopkins is een van ons gunsteling-modelle. Sy verklaar liggaamsliefde wyd en syd en is met daardie boodskap al die pad Londen toe! Hier skryf sy oor haar aankoms in Londen, haar verwagtings en die werklikheid van jou modeldrome najaag oorsee …

Vir die volgende 6 weke skryf Marciel vir SARIE.com oor haar lewe in Londen. Ek weet nie van jou nie, maar ons is vreeslik nuuskierig oor die lewe van ’n model. Marciel het vroeër vanjaar oor haar reis na Londen gesê: “Ek glo ek sal ná die eerste weke my voete vind en al die oppe en affe geniet. Niks in die lewe wat die moeite werd is, is altyd nét lekker nie. As dit maklik was, het almal dit mos gedoen.’’ Lees verder oor haar reis tot dusver.

Maak spasie                                                                

Ek het my eerste job geboek. Klein, maar die ys is gebreek. Ek moes al 05:00 die oggend opstaan om die eerste trein 06:00 te haal net om per ongeluk ’n volle uur vroeg in Essex te wees! Eerder te vroeg as te laat, ek is immers ’n walking CV van myself. Gelukkig kon ek op die trein ’n uiltjie knip tussen skoolkinders se high pitch opwinding en al.

marciel

Die Tower Bridge op ‘n mooi sonskyndag. Ek is sover nog baie gelukkig met mooi weer.

As jy in rush hour ’n moltrein wil vang om voor sewe-uur by die huis te wees, moet jy tevrede wees met ’n onderarm in jou gesig en ’n boud-aan-boud-aanraking. Ek is al beter, maar dit verg wilskrag om nie te begin giggel as almal rondom jou drukbesig is om die treinroetes teen die dak te bestudeer wat hulle elke dag ry nie. Solank ons tog net nie oogkontak maak nie!

marciel

‘n Fassinerende toer deur Kensington Paleis.

Ek sien dit as ’n gulde geleentheid om juis te kyk. Om regtig in te neem hoeveel verskillende unieke karakters daar in my klein, bedompige kompartement is. Ek wonder oor hul stories en waar elkeen vandaan kom. Ons dink ons is so verskillend, maar ek glo ons verstaan mekaar beter as wat ons dink. By elke stop verander die dinamika met die inklim van nuwe energie. Energie is aansteeklik. Energie is eintlik al wat ons het.

In ’n “konneksie-lose” stad van miljoene, hoe kom ons mekaar dan tegemoet? Dit begin by die energie wat jy uitstraal en oral saam met jou neem. Maak spasie vir aanvaarding en begin by jouself. Daar is nie ’n korrekte manier van “vrou/man-wees” nie. Daar is nie ’n broekgrootte, velkleur of sekere lengte wat skoonheid bepaal nie. Daar is nie ’n spesifieke kar, inkomste of woonadres wat sukses bepaal nie, want vir elkeen is dit anders. Vir elkeen is dit iets persoonliks. Daar is soveel fasette van sukses en skoonheid dat jy jou eie bepaal!

marciel

Straatnaam-spogregte in Westminster.

Dis ’n voorreg en ’n prestasie om ’n graad te verwerf, maar dit beteken nie dat iemand anders wat ’n gap-jaar gekies het minder suksesvol is nie.

Elke paadjie het sy eie opwinding en uitdagings. Elke paadjie lei jou na waters van lewenservaring, soms bittersoet, soms bittersleg. As jy eerder jou geld wil spaar om te reis pleks daarvan om jou krokkie-kar te vervang, own dit! Wees net steeds veilig. Vir party is dit belangrik om in ’n Audi van A tot B te kom. Vir ander is dit belangrik om alles van A tot Z te sien, of dit nou op ’n fiets of in ’n tweedehandse kar is.

marciel

‘Vintage shopping’ by Portobello Market in Notting Hill. FOTO Verskaf

Ander mense se keuses is hulle saak en dit het, met alle respek gesê, niks met jou te doen nie. Let people be, maar die belangrikste van alles, let yourself be. Jy hoef nie elke oggend jou hare te straighten omdat jy dink dit lyk vir ander mense mooi nie. Jy hoef nie pencil skirts te dra wat die natuurlike suurstoftoevoer na jou longe beperk, net omdat almal anders by die werk dit dra nie. Moenie op 95% van jou lewe uitmis omdat jy 5% minder wil weeg nie.

Klim elke dag op jou “life tube” en maak spasie vir die meisie met die tattoos en piercings om onder jou arm te staan. Maak oogkontak en embrace haar spasie en “Watch carefully, the magic that occurs, when you give a person just enough comfort, to be themselves,” sê Atticus Finch, ’n karakter in Harper Lee se To Kill a Mockingbird.

Liefde uit Londen

Lees nou

Marciel skryf vir ons uit Londen!

Groter as 8 – kom ons vier!