love_letter_jasmine_image
Eie stories

Mari Victor van Cresta (Johannesburg), skryf:

My Lief

Kleintyd al het ek gedroom van iemand wat my so verskriklik sou liefhê dat my krom lyne sommer vanself sou reguit trek en my skerp hoeke rond word. Ek wou saam met die wyse Salomo getuig van hierdie liefde tussen ’n man en ‘n vrou wat niemand kan verklaar nie.

Min het ek geweet en min het ek verstaan van hierdie liefde, en my verwagting was daarom ook so beperk. Ek het nie geweet dat ’n man se liefde jou kan verander in ’n wese wat jy soms self nie kan herken nie. Min was ek voorbereid op die totale oorgawe aan ’n ander mens. Nooit ek het kon droom dat ’n man se liefde jou menswees kan bepaal nie.

Ja, my lief, jy het jou intrek ten volle geneem, nie net in my hart nie, maar in my lewe – elke aspek daarvan. Jou liefde vir my maak dat ek mooier is as wat ek ooit sou wees, sonder jou. Jou liefde laat my oë blink, laat my stem klink soos water oor spoelklippe, my lag soos ’n helder kloklui.

Nou nog, ná al die jare van lewe deel, betrap ek myself dat ek oor jou dagdroom of na ’n foto van jou staar. Onverklaarbaar, né? Dit is asof ek vir jou liewer word. Liewer is ook nie die regte woord nie. Dit is asof my liefde vir jou ’n ander kwaliteit aanneem, ’n nuwe dimensie binnegaan.

Hoewel jy nog my knieë lam maak as jy op ’n sekere manier na my kyk en hoewel ek steeds vlinders in my maag kry as ek jou oog vang in ’n vertrek vol mense, is ons liefde nou anders…

Ons liefde het nou die rede vir ons bestaan geword, die allesoorheersende “waarom” vir alles. Wat ek doen, doen ek omdat ek lief is vir jou, waar ek gaan, gaan ek omdat ek lief is vir jou. Ek staan op in die oggend omdat ek lief is vir jou en jy sin aan my lewe gee. Ek gaan slaap in die aand omdat ek lief is vir jou en ek die verwagting het van nog ’n dag saam met jou.

Ek bewaar my liefde vir jou jaloers en waak daaroor soos ’n oester oor sy pêrel. Soms, net soms, is ek bang dat ek te vinnig toeklap en dat jy net ’n vinnige blik van my blink liefde vir jou sien. Daarvoor vra ek jou om my te vergewe, vir al die oestermaklik toeklap.

Ons is môre sewe jaar getroud. My Lief, die beste sewe jaar van my lewe. Daar was trane langs kiste bedek met blomme, daar was teleurstellings in wit hospitaalgange, daar was lag en gesels in hotelkamers in stede waarvan ek vroeër net gedroom het, daar was nagte van passie …

Maar bowenal was daar jy. My ridder op die wit perd wat mens geword het en vir my lief geraak het.

Ek bemin jou, my Lief.