Eie stories

Mariann Ochse van Vanderbijlpark, skryf:

Vir my Gert

Ek stuur vir jou ’n handvol woorde …

 Ek was vier-en-twintig toe jy voor my ingeskuif het. In jou oë kon ek nog die omgekeerde Antarktiese yswoestyn sien en ’n wit stilte in jou bloed hoor druis. Die Aurora-poollig was lank jou enigste geselskap, maar hier was genoeg sonlig vir ons albei.

My hart het jy omgepraat met min woorde. Bietjie vir bietjie het ek ook jou stiltes leer ken. Die geheim in ’n glimlag wat my gelukkig maak. Nooit dros jy weg as ek jou nodig het nie. Ek’s bly jy klink nie soos ’n Amerikaanse selfhelpboek nie. 

                        Beginnerliefde sonder onderskei – jou hart in ’n oomblik verloor …

Jy ken die verskil tussen ’n spekboom en ’n fluitjieswilger, tussen ’n dopperkiaat en nieshout. Omdat die oewerswaels, janfrederike, swaelstertbyevreters en die veld deel van jou vriendekring is, moet ek fyn beplan sodat tierlantyntjies jou nie afskrik nie. As ek stil langs jou sit, met jou hand op my rug, weet ek jy lewe mooi vir my. Dit vertel my die storie wie jy is.

                                        Ek onthou jou in die reuk van koffie water …

Die veld laat jou menswees tot rus kom. In die daktent slaap ons snags en ek kan die sagte deining van jou asem hoor. Ons kyk na donkies by ’n beeskrip en pas saam ’n visstok langs die water op. Doeanetaal verstaan ons min, maar met ons voete op die aarde en jou hand in myne voel ons die vrede van die natuur. Ons kan lang rukke kyk na die see se blou en groen. My liefde vir jou is in grondpadreise, bergpasse en kronkelpaaie waarna ons later vreeslik kan verlang.           

            Liefde bly, die liefde bly mos in jou hart – niemand kan dit wegneem nie …

Ons kon saam die liefdestaal van die Taj Mahal verstaan. Jare van liefhê kom goed te pas as Marokko se Marrakesh 45ºC uitdeel en die geur van peper en gemmer, saffraan en heuning soggens steeds aan jou lyf bly kleef. Ek wil hê jy moet weet ek het jou nie lief sodat ek na die hortjiesluike en die brose glas in Venesië kon gaan kyk nie. Ek sou jou gesig uitken tussen al die mense op die Spaanse Trappe of by die Trevi-fontein.

Ek het jou lief, al kon ons nie praat langs die Arno-rivier nie.

 Kom dans met my aan die einde van elke dag, want ek kan nie sonder jou …

Ek raak bek-af oor kappertjies wat nie blom nie, ’n langbroek wat skielik oor heupe span. Jy spoeg die bek-af dinge uit – jy plant nuwe kappertjies en bewonder nuwe heupe. As jy bystaan is dit lekkerder om dinge te doen. Jy laat my buite oor die nat gras stap om roosmaryn te ruik. Jy laat my voel aan gladgeskuurde kiaat met vars saagselsproei nog om ons. Ek vergewe Saterdagmiddae jou enigste rêrige sonde, want ek en die Goue Leeus moet jou deel.   

Teen die helling van die rooibruin duin van die Namib kan ons veilig in liefde voel …

Ek stuur nie vir jou ’n  Ek-het-jou-lief”-kaartjie of ’n “Be my Valentine” nie, want dit is nie vir jou bedoel  nie. My uitnodiging is in ’n vuur, want ’n vuur met vlamme waarin jy kan kyk maak jou siel gelukkig. ’n Droomvuur bestem vir twee. Ek sal Vivaldi en sy orkes nooi om die Vier Seisoene vir jou te speel, Cabernet Sauvignon spesiaal vir jou skink. Jy is nooit ongelukkig met gewone boerekos nie. Beesstert met aartappeltjies, rys en boontjies sal ek self vir jou inskep. Ouma Bettie se melkpoeding vir agterna, onder die kareeboom ’n wit gedekte tafel. 

Michael Bublé gaan vir ons Come fly with me sing. Bruidegom, gelukkig weet ek jy’s nie ’n geheelonthouer nie …   

Jou Mumtaz Mahal