Eie stories

Maritza du Preez van Vereeniging, skryf:

My anker,

Sonder jou sal my lande droog staan, en die grond nie meer dieselfde aan my hande ruik nie. Want jy het ’n boom in my geplant met bloedrooi sappige vrugte, genóég om my elke dag te voed.

Sy koel immergroen blaartjies rittel wanneer ek só gedurig antwoorde nodig het. Hulle waai my koel wanneer my vroulike emosies ’n ligte bries nodig het. En snags vou daardie selfde blare styf en warm om my om my veilig te hou …

Jou krag is die spilpunt waarin my wortels baai. Vanoggend het die boom gebot toe jy sê dat jý my innig lief het. Die bloeisels se stuifmeel het in my hare kom sit sodat bietjies-bietjies daarvan op my lyf deur die dag kon afskud. En dit het my mooi laat voel, want dit het geskitter soos goud.

Is dit nie snaaks hoe almal wat verbykom weet dat daardie groot sterk boom ons s’n is nie? Toe haal jy die engeltjie van die boomtop vir my af en bedank my dat ek haar ma is, en wys my toe dat ons name diep in die boom se stam uitgekerf lê …

Together 4 ever.