Eie stories

Marius van der Schyff van Douglas, skryf:

My liefste Blou-oog

Die aand op Hartenbos – tydens ons somervakansie van 1991 – was die begin van die mooiste tyd in my lewe. Ek het by die sokkiesaal ingedans gekom op die maat van die liedjie “You’re simply the best”, en jy het dadelik in my rigting gekyk. Een van my beste en impulsiefste besluite was om net daar nader te stap en hierdie sexy swartkop met haar mooi geel mini vir ’n dans te vra … ’n oomblik wat ek tot vandag nog koester.

Dankie dat jy ja gesê het, my Liefie. Ons eerste ontmoeting! Onthou jy dit? Toe ek jou vra waar jy vandaan kom en jy vinnig antwoord “van Douglas in die Noord-Kaap, maar jy sal nie weet waar dit is nie … ”, het ek jou reggehelp met ’n “nee, ek weet waar dit is. Ek kom van Griekwastad af, net 70 km daarvandaan”!

Dis oomblikke soos daardie wat jou nog meer spesiaal maak.

Vandag, presies 12 jaar later, dink ek onwillekeurig terug aan daardie onvergeetlike aand. Jy sit hier by die tafel tussen jou bos Valentynsrose en help die tweeling met hul huiswerk.

Dis Februarie, die maand van Valentyn waar ons opnuut die mooi en kosbare dinge wat ons so maklik vergeet om te sê, met mekaar moet deel.

My skat, baie dankie vir jou ondersteuning aan my, vir elke dag se uitdagings, vir die moed inpraat, vir die drukkie voor werk, vir die “ag toe maar” van gister, vir jou onuitputlike liefde vir my en die kinders, vir jou belangstelling in my doen en late, vir die onverwagse briefie of droëworsie in my kosblik, vir die mooi oogknip in die kerk, vir jou geduld as ek ure sit en rugby kyk en nie agterkom ek skeep jou af nie, vir elke woord van bemoediging en raad as die terugslae my wil platslaan, vir die pragtige voorbeeld wat jy aan ons almal stel en vir jou mooi glimlag.

Watter voorreg is dit nie om deel te wees van jou lewe nie? ’n Geleende tyd deur ons Hemelse Vader. Hoe geseënd is ek nie?

Ek lief vir jou.