Eie stories

Marlé Voges van Middelburg, skryf:

My liefste fluweeloog-beminde,

Ja-ja, ek weet jy hou nie van brief skryf nie, en nee, jy hoef nie terug te skryf nie, pampoen!Maar ek het nodig om my liefde op ’n heerlike, ouwêreldse manier aan jou te verklaar. 

Dis nou al ’n dekade, ’n dekade verder wat my oë die eerste keer van jou bedwelmende teenwoordigheid bewus geraak het, en my hart goedsmoeds, halsoorkop, sonder voorbehoud, aan jou verkoop is. Ek kan dit mos nou maar sê … nou dat jy alles van my weet – hoe ek vyfuur in die oggend lyk ná ’n lang nag in ’n bibberkoue posseëlgrootte tentjie langs ’n dam, of hoe die silwer riviertjies op die padkaart van my mammalyf lyk ná 3 kindergeboortes, of my Sondagmiddag-blou buie waaraan jy niks kan doen nie. Ek kan mos nou maar sê dat ek van die eerste oomblik af begeer het om totaal aan jou te behoort?

So, my gladdelyf-liefling, as jy hierdie brief lees sal ek honderd teen een besig wees om iemand te red, te dreig of te voed. Maar weet dis jy, net jy wat my sintuie laat ontwaak. Dis jou ondeunde humor wat my laat skaterlag. Dis jou unieke lieflike, lyflike reuk wat my bewus maak van jou teenwoordigheid voor jou arms om my smelt. My gehoor, vel, ag lief, alles is so ingestel op jou.       

Onthou jy nog die preek op ons troue? Ek weet jy was ver meer geïnteresseerd in my halslyn as die preek, maar dit was uit Konings. Bok, waar jy my moet vra om saam met jou op die wa te klim … hoe min moes jy weet dat jy al jou dae sou hê om my net bo-op hierdie huwelikswa te hou? En dat die pad maar sinkplaat kan raak en dat jou reisgenoot so aandag-intensief kan raak? En dat dit eintlik ’n vreeslike verantwoordelike werk is om hierdie wa op die regte pad te hou. En dat daar nog mense op die wa gaan klim, klein mensies, wat nog meer aandag as hul ma sou soek.

Dankie my lief, dat jy ons wa steeds in die pad hou en nie al lankal weggesluip het of om ’n skerp draai of op ’n blinde hoogte kop verloor het nie. 

Ons tweetjies het al ver paaie gestap, klippe gekou en sout geëet. Soms soos kerkmuise geleef en ander kere soos konings geëet. Vir ’n week lank met ’n begroting van R100 uitgekom en op ’n ander keer vir ’n oranjerooi sonsondergang op ’n eksotiese eiland gewag. My lam, ek is so bly dit was saam met jou wat ek die noutes en aftes kon beleef. Ek is só nuuskierig oor wat nóg tien jaar kan oplewer.

Jy het my uit ’n vaal bedeesde bestaan kom ruk na ’n wêreld van vrae vra en ’n tikkie rebellie. Jy het my geleer om ’n bietjie op die wilde kant te lewe en nie altyd seker te wees van die uitkoms van my dade nie. Dat dit oukei is om nie altyd met my pa saam te stem nie.  En dat my moeder nie alles hoef te weet nie. En soms aan myself te dink en dat “people pleasers” eintlik baie eensame mense is.

Maar bo alles het jy my aan Hom voorgestel. Ek het gedink ek ken Hom. Nie geweet ek kan Hom só aanbid nie. Om Sy Gees tasbaar te ervaar en Sy teenwoordigheid te besit. Om mense te kan bedien dat ou littekens gesond kan word. En dat my eie sielswonde in ’n oogwink genees kan word!

Ek verstaan nou dat ek en jy vir mekaar gemaak is, en dat dit voor die grondlegging van die aarde so bestem dat jy my Kanaan sou wees, my beloofde land. 

En al raak my relaas nou regtig swaar, sal jy wel eendag, dalk as die ouderdom ons ietwat getemper het, hierdie brief regtig léés, en besef hoe dankbaar ek is dat jy jou wa juis by my tot stilstand gebring het.  
Ridderman, waarvoor my moeder gebid het, weet jy word diep bemin. 
Meraai