Eie stories

Marlene Hattingh van Vereeniging, skryf:

Aan my Manlief,

Ek verlang na jou soene en jou hande, en die meeste na jou vashou as ek my gedurende die week alleen in ons nessie waaraan ons so hard gewerk het, voor die TV opkrul. Wens jy was nou by my.

Ek probeer aan maniere dink om my liefde vir jou aan die wêreld te verkondig. Ek lees jou briewe wat jy met jou engelhand uit liefde vir my geskryf het. Dit laat my soos ’n kind vrolik en kommervry voel.

Verder dink ek aan woorde om op die papier neer te lê. Daar is nou so baie dinge wat ek vir jou wil sê en sal ek ’n hele boek nodig hê om my liefde vir jou in woorde te omskep. 

As ek aan ons tye saam dink, die pizza en rooiwyn by die straatrestaurantjie in Melville, die groen en goud by die rugbywedstryd – kan my hart uit sy nate klim. Beste tye van my lewe. Ek kan nie wag om nog wonderlike herinneringe saam met jou te bou nie. Eendag kan ons dit vir ons kinders oorvertel.

Dankie vir die roomys wat ons saam kon geniet langs die rivier op die swaaibank, die lag en gesels, soms saam huil en die romantiese aande met die kerslig-ete en jou tuisgemaakte “chocolate brownies”! Sommer net so uit die bloute, omdat jy my lief het. Jy’t pragtig gelyk in jou aandpak!

Ons drome sal waar word aan mekaar se sy – en saam-saam sal ons die hoogste berge klim. Net solank ons saam is.

Jy het my kom heelmaak, weet jy? Regte tyd, regte plek, regte man, Regtig jý.

Ek skryf hierdie brief om vir jou uit die diepte van my hart te sê:  baie, baie dankie dat ons kan wéés en dat ek ware liefde in jou oë kan sien en kan voel as jy my vashou.

Sien ek dalk ’n traan? Ek sal hom vir jou afvee.

Ek wag nou angstig dat jy my bel, dis nou ná 6 en jy’s klaar gewerk. Ek wens dat jy nou bel dat ek weer kan besef dat dít wat so perfek is – óns – realiteit is. Ná al die jare laat jy my hart steeds vinniger klop! 

Al kan ons vanaand nie fisiek bymekaar wees nie, ontmoet ons siele en ons harte en voel ek jou warm lyf styf teen myne as ek rustig en tevrede insluimer. Die blote gedagte aan jou laat my lekker slaap.

As die oggend-sonstrale helder en met nuwe hoop speel-speel deur die blindings probeer instroom – glimlag ek en het ek krag. Want ek weet dat my sielsgenoot ’n dag nader is aan huis toe kom.

As jy jou lyf in die aand langs my kom neerlê en jou vingers deur my hare trek, stuur ek altyd ’n dankgebedjie op dat twee mense wat só bedoel is vir mekaar, saam kan wees en mekaar se lewens kan verryk.

Dis Donderdagaand, nog net een slapie, een werkdag. Dan is ons bymekaar.  My hart klop klaar vinniger en ek borrel van opgewondenheid!

My Valentyn – enigste liefde en lewensmaat – ek is opgewonde om in jou arms te verdwaal en veilig te voel.

Vir Valentynsdag wil ek vir jou die sterre pluk en die tyd laat stilhou – vir Valentynsdag wil ek vir ewig in jou arms wees.

O ja, ek het vir jou ’n verrassing die naweek en nog ’n groter een vir Valentynsdag… maar meer as dit kan ek nie sê nie, jy sal moet wag en sien…

Ek is lief vir jou, ontsettend baie.