Eie stories

Martha Bonthuys van Virginia, skryf:

My man

Ek het niks gedoen om jou, my sielsmaat, te verdien nie. Ek het jou onvoorwaardelik lief en weet die gevoel is wederkerig. Dankie dat ons saam ambassadeurs vir Christus kan wees, die hoeksteen van ons huwelik.

Die ongelooflike huweliksreis saam met jou is met pret en avontuur belaai. Saans kan ek koesterend agter jou rug my lêplekkie kry vir die nag, en bedags weet ek jou arms omvou my. Watter man sal vir sy vrou vir ’n jaar lank elke dag van die een Valentynsdag tot die volgende een ’n bos blomme pluk en in ’n blompot sit waar sy dit kan sien. En as daar nie blomme is nie, pluk jy takkies af of wat ook al beskikbaar is.

Ek is so geseënd met ’n man soos jy. My vriendinne beny my omdat iemand soos jy in my lewe is. Hulle soek eienskappe in hul mans wat jý besit.

Jy laat my elke dag so “sexy” en spesiaal voel. Jy weet wanneer ek iets nuuts aanhet en wanneer een haar skeef val, komplimenteer jy my. En ja, as jy van ’n sekere kledingstuk nie hou nie, sal jy die eerlik vir my sê.

Daar is so baie “onthou-jy-nogs”, wat ons vriende telkens gehipnotiseerd na ons laat luister.

Ek kan nie wag om saam met jou op die strand te wandel nie. Jy’t altyd nuwe truuks in jou hoed. En dít maak die vakansie vir my onvergeetlik.

Al my liefde

Heksie