Eie stories

Martie Gouws van Roodepoort, skryf:

My liefste man,

Ek sit vanoggend hier op die agterstoep met ’n verlange in my hart, en ek het ’n skielike behoefte gekry om hierdie brief aan jou te skryf en my dagdrome met jou te deel.

Ek verlang na die dae toe ons kinders nog klein was en hulle ons met hulle koddige sêgoed vermaak het, maar ek is ook dankbaar dat die Liewe Heer ons die nodige krag en verstand gegee het om hulle deur hul vormingsjare te help tot waar hulle vandag is.

Ek wil vir jou baie dankie sê dat jy onlosmaaklik deel was van hierdie baie belangrike taak. Nooit het jy weggeskram van jou pligte as vader en eggenoot nie.

Onthou jy daardie dae – toe ons nog met sterre in ons oë, ’n huppel in ons stap en met ons hande styf inmekaar gevleg vir ure langs die strand gaan stap het?

Ons was so gelukkig om net by mekaar te kon wees. Daardie tyd was daar nie selfone nie, en ons kon mekaar nie net tydig of ontydig skakel nie. Ek het altyd uitgesien na die oomblik dat jou Kewertjie voor my ouerhuis stilgehou en jy jou verskyning gemaak het.

Dit voel soos slegs ’n paar jaar gelede, hoewel Vader Tyd ons begin inhaal en daar intussen baie water in die see geloop het op ons lewenspad van meer as 30 jaar saam.

Jy was en is steeds my liefling, sielsgenoot, eggenoot, raadgewer, klankbord en wonderlike vriend.

Dankie dat jy net doodgewoon jy is en, ondanks al my vroumens-geite, steeds dieselfde ou gebly het vir wie die kinders en ek nog so ontsettend baie lief is.

Saam het ons geswoeg om die kinders groot en deur die skool te kry en, ondanks die feit dat ons finansieel geknou was, het ons geloof, liefde, opoffering en toewyding ons daar deurgedra.

Klein oomblikkies wat ons deel, is vir my uiters kosbaar. Tye soos om woordeloos op die bankie in die tuin te sit en die lieflike skouspel van kleur in die tuin te bewonder. Om vir die voëltjies en hasie kos uit te sit en hulle dop te hou wanneer hulle dit gulsig vreet.

Toe ons jongste kind vroeër vanjaar die huis verlaat het vir universiteit, het ons saam trane gestort omdat ons “baba” weg is en ons skielik weer alleen is.

Ons betree nou die tweede fase van ons lewe en is nog jonk genoeg om ons ontdekkingsreis voort te sit; ’n ontdekkingsreis na die verste punte van ons hart, na gedeeltes van ons land waar ons nog nie was nie, na innerlike vrede en na ons volgende geslag.

Met jou aan my sy, my man, hou ek my kop steeds omhoog en kan ek met ’n bonsende hart en ’n vonkel in my oë vir jou sê hoe opreg en innig lief ek jou steeds het.

Saam kan en sal ons steeds, hand aan hand, die onbekende toekoms trotseer en as oorwinnaars anderkant uitkom, omdat ons in mekaar glo en mekaar met ons hele wese vertrou.

Onthou jy nog hoe ons ons eerste Valentynsdag saam deurgebring het? Wel, hierdie komende Valentynsdag gaan ek dit nog meer spesiaal maak vir jou.

Die feit dat ons wel ouer, gryser en “voller in die lyf” is, het niks uit te waai met die feit dat ons nog net so begeerlik is vir mekaar en aan mekaar se behoeftes voldoen nie.

Bring jy die rooi rose, vonkelwyn en jou lyf, en ek voorsien jou gunsteling-ete by kerslig, ons gunsteling-musiek en die nagereg – soos net jy daarvan hou.