Eie stories

Melanie du Bois: My in vitro-dagboek (deel 3)

Woensdag, 18 Februarie
Twee van my embrio’s word vandag teruggesit. Vuyelwa (Booi) neem my, Regi (my man) kan nie. Dis ’n eenvoudige prosedure. Ek kyk op ’n TV-skerm watter embrio’s gekies is. Hulle is so pragtig! Ek is opgewonde en gelukkig. Hierdie is my babas. Vu huil ook van vreugde. Binne vyf minute is ons klaar. Dr. Van Rensburg is baie positief, dit was ’n goeie siklus. Ek moet 20 minute met my bene gelig lê. Die res van die dag probeer ek rustig wees.

Donderdag, 19 Februarie
My ma verjaar vandag. Vanaand eet ons almal saam. My ouma en oom, al die pad van Kaapstad, sluit by ons aan. Dis ’n heerlike aand. Ek kan egter voel ek begin laerugpyn kry.

Vrydag, 20 Februarie
Die rugpyn raak erger en ek raak bekommerd. Karin Retief (Afrikaans-afrigter) sê ek moet eerder kliniek toe. Ek doen dit, want sy lyk so bekommerd. Maar dis net ’n blaasinfeksie. Citro-soda is net die ding daarvoor.

Donderdag, 26 Februarie

Ek het vanaand bloederigheid gesien, maar ek is seker dis niks om my oor te kwel nie. Hou asseblief my babas veilig!

Vrydag, 27 Februarie

Vanoggend het ek wakker geword met ’n bloeddeurdrenkte sanitêre doekie. Ek begin paniekerig raak. Regi hou my styf vas en probeer my kalmeer. Ek gaan so gou moontlik kliniek toe – ek het nog nooit so vinnig gebad nie. Regi kyk na Roxy.

Die kliniek is ongelooflik. Ek het seker soos ’n zombie gelyk, nie geweet wat om te doen of waarheen om te gaan nie. Een van die ontvangsdames neem my dadelik na dr. Van Rensburg se spreekkamers. Toe ek alleen is, is dit soos ’n damwal wat bars – ek kan my trane nie keer nie. Regi en Vu is pal op die foon om my positief te hou. Uiteindelik kom dr. Van Rensburg. Hy verduidelik baie kalm dat ons absoluut niks kan doen tot die swangerskaptoets Maandag nie. In dié stadium kan die uitkoms enige kant toe: Die embrio’s kon ’n bloedvat getref het terwyl hulle hul tuismaak, of my liggaam verwerp die embrio’s. As die embrio’s defektief is, lei dit tot ’n miskraam. Dr. Van Rensburg doen sy bes om my moed in te praat, maar op pad huis toe huil ek só dat ek skaars kan sien waar ek ry.

Ek is só bang. Regi, my susters en Vu wil hoor of ek oukei is, maar ek is nie. Ek is vreesbevange. By die werk is ek ligweg histeries. Jo (da Silva) en Vu kom tot my redding, ek dink nie ek sou op my eie uit die motor kon klim nie. Jo kalmeer my. Almal by die werk is wonderlik begrypend. Dis regtig moeilik, maar uiteindelik maak ek dit deur die dag.

My ongelooflike man bederf my met ’n fliek. Ons huil regdeur dit, maar ten minste is my gedagtes ’n bietjie afgelei. Toe ons vir Roxy gaan haal, moet ek myself vinnig regruk. Sy sorg altyd vir ’n glimlag op my gesig. Ek kyk na haar en dink sy’s ’n lewende bewys dat ons nog ’n baba kan hê.

Saterdag, 28 Februarie
My lyf is ’n bietjie seer. Ek voel weerloos, en ek bloei steeds.

Maandag, 2 Maart
Vandag doen ons my swangerskaptoets. Regi en ek probeer ons bes om positief te wees. Maar dis slegte nuus: Die toets is negatief. Ek voel afgestomp. Geen trane. Ek hoor skaars wat die suster sê. Dit voel asof ’n bom in my ontplof het. Niks kan my hierop voorberei nie. My babas is weg.

By die werk is Vinette (Ebrahim) die eerste mens wat ek sien. Ek bars in trane uit en sy hou my styf vas. Die volgende paar dae is ek baie emosioneel. Saans droom ek die kliniek het ’n fout gemaak, maar dan word ek wakker en besef my babas is weg. Ná vele bespreking besluit ek en Regi om die res van die maand af te vat. Ek voel nie emosioneel sterk genoeg nie. Ons het nog twee gevriesde embrio’s, ek het beslis nog nie moed opgegee nie.

Mense wil weet hoekom ek myself in SARIE “blootstel”, wetend daar’s ’n kans dat dit onsuksesvol kan wees. Ek wil hê vroue in dieselfde situasie as ek moet weet hulle is nie alleen nie.

Daar’s altyd hoop. Moenie te gou moed verloor nie.