sr0904mathys_11_
Eie stories

Met Mathys – Só kan jy Mathys help

Dit getuig nie net van die meelewendheid van ’n breë gemeenskap nie, maar is ook tekenend van die uiteenlopende liefdes en belangstellings in sanger Mathys Roets se lewe, wat waarskynlik verlam gaan wees ná sy onlangse motorfietsongeluk naby Bloemfontein.

Terwyl mense saamstaan om Roets te help, het hy uit sy hospitaalbed in Bloemfontein laat weet dat hy “vreemd opgewonde” is oor wat voorlê.

“Ek is hier, nou. Ek weet dat dit die mense om my is, al die gebede en ondersteuning, wat my hier gebring het en hier hou. Sou ek nooit weer kan loop nie, is dit dan ’n nuwe fase van my lewe wat aanbreek. Ek sal kan sing, en daarvoor is ek dankbaar. Ek sal kan kitaar speel, en daarvoor is ek dankbaar. Ek leef en elke kans wat ek kry, gaan ek aangryp,” het Roets gesê.

Die Met Mathys-projek is in die lewe geroep deur organiseerders Alexa Strachan en Giep van Zyl om hom te help met algemene en mediese uitgawes in die tyd dat hy nie ’n inkomste sal kan verdien nie.

Die sanger Jannie Moolman staan goedgunstiglik in vir van Roets se beplande solovertonings, terwyl die Ses Snare, ’n breinkind van Roets, se konserte normaalweg voortgaan.

Daar is ook etlike spesiale projekte wat ons in ons dagboeke kan aanteken om Roets te ondersteun:

Gauteng

Bikers met Mathys vind plaas op Sondag 10 Mei by Makiti by Kromdraai, Sterkfontein. Vir ’n andersoortige Moedersdag kan mense reeds van 10:00 die oggend by die motorfiets-brigade aansluit. Kaartjies kan by die hekke gekoop word teen R100 en kunstenaars soos ddisselblom, Guillaume, Willem Botha en Hendrik Boerr sal optree.

Met Mathys – Aula op Sondag 17 Mei om 15:00 by die Aula van die Universiteit van Pretoria spog met groot name: Coenie de Villiers, Lucas Maree, Laurika Rauch, Amanda Strydom, Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Kevin Leo, Jannie Moolman, Anna Davel, Jannie du Toit en Christa Steyn, Ses Snare, Piet Botha, Alexa Strachan, Herman van den Berg, André Swiegers, Hugo en Marcel van Heerden. Hulle word ondersteun deur die musikante Matthys Maree (klawers en musiekregisseur), Floors Oosthuizen (kitaar), David Klassen (tromme), Annake de Villiers (viool) en Leon Ecroignard (baskitaar). Pierre Breytenbach is die seremoniemeester. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en kos tussen R80 en R150. Roets sê hoewel hy nie te ver vooruit kan dink nie “kan ’n mens mikpunte hê”, en een van syne is om “wanneer my pêlle vir my konsert hou in die Aula dit te kan bywoon, al is dit net vir ’n rukkie”. Afhangend van belangstelling sal daar dalk ’n tweede konsert om 18:00 aangebied word.

Akteur Hannes Muller bied op Woensdag 20 Mei ’n spesiale opvoering van Groet die grotman aan in die Mardi Gras-teater in Carnival City, Brakpan, ten bate van Roets. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en kos R120 en R140.

Kaap-omgewing

Kaapse kunstenaars kom op Maandag 1 Junie om 19:00 in groot getalle byeen vir Met Mathys – Kaapstad in die Hoërskool Durbanville se ouditorium. Dowwe Dolla is die seremoniemeester terwyl Pedro Kruger, Jolette Odendaal, Lize Beekman, Danie Niehaus, Ollie Viljoen, Koos Kombuis, Wicus van der Merwe, Theuns Jordaan, Marc Lottering, Emo Adams en Zanne Stapelberg hul stemme gaan verhef.

Vrystaat

Gholf-geesdriftiges kan nader staan vir Gholf op Parys met Mathys wat op Donderdag 4 Junie by die Parys Golf & Country Estate langs die Vaalrivier gehou gaan word. Die koste is R2 000 per vierbal, wat ’n aandete met vermaak insluit. Memorabilia sal ook by die geleentheid opgeveil word ten bate van Roets. Tegnies gesproke kan drie mense per vierbal ingeskryf word, omdat die vierde lid sal kom uit die geledere van bekende kunstenaars en sportmense. Bel Mark by 056 811 2404 om te bespreek.

Namibië

Hou die media dop vir inligting of gaan na www.mathysroets.co.za en klik op die Met Mathys-skakel.

Ek kan dit nie bywoon nie – wat nou?

Jy kan steeds help . . .

  • deur geld in die volgende rekenings in te betaal: Beukes – Sikhala Prokureurs-trustrekening, Nedbank, rekeningnommer 1468137824, takkode 146805 of Beukes – Sikhala Prokureurs-trustrekening, Eerste Nasionale Bank, rekeningnommer 62213924469, takkode 260249. Die verwysing “Mathys Roets” moet op alle deposito-strokies en by elektroniese betalings aangedui word.
  • deur by Solidariteit se Helpende Hand-fonds betrokke te raak. Hulle samel geld in vir Mathys se rehabilitasie. Stuur e-pos na helpendehand@solidariteit.co.za of skakel 0861 252423 vir meer besonderhede.

Laat die stokke swaai, laat die motorfietse brul, maar laat veral ’n lied opklink ter ondersteuning van Roets in dié uitdagende tyd. En dalk is dit gepas om die laaste woord te gee aan die groot gees Leonard Cohen, met wie se musiek Roets onder andere sy bekendheid verwerf het. Uit die liedjie “Sisters of Mercy”:

 

Oh, the Sisters of Mercy

They are not departed or gone

They were waiting for me

When I thought that I just can’t go on

And they brought me their comfort

And later they brought me this song