Eie stories

Michelle Els Modeblog: Mode van die toekoms

Ons alledaagse lewens neig al meer na ‘n tegnologiese bestaan deur die vinnige ontwikkeling van nuwe toestelle, wat ons lewens “geriefliker” maak. En selfone is nr. 1. (Die dae dat jy jou selfoon net vir 3 eenvoudige dinge gebruik – bel, SMS en “snake” speel – is lankal verby. Jou selfoon is nou ‘n sakrekenaar, letterlik. Jy hoef nie meer by jou rekenaar te wees om ‘n e-pos te ontvang nie, met ‘n slimfoon is jou e-posse altyd by jou. Sosiale netwerke is 24/7 daar om jou “vriend” te wees en as jy moeg word daarvan kan jy altyd aanlyn poker speel, of daar is duisende toepassings (applications) waarvan jy kan kies, soos Google se “voice search”. G’n wonder mens kan kapoet wees van net heeldag op die bank lê met jou selfoon nie!
 
Met wêreldbekende modeontwerper Armani se Privé couture Somer/Lente 2011-reeks op die loopplanke blyk dit mode neig eweneens na die futuristiese kant toe. Kyk net na die interressante ontwerpe deur Armani.


 
Alhoewel die ontwerpe ultramodern en futuristies lyk deur die gebruik van materiaal wat erg blink, lasergesnyde vorms en die Oosters-geïnspireerde hoede kan ‘n mens duidelik sien dat heelwat van die snitte en patrone deur vroeër jare geïnspireer is.

“Dit was Giorgio Armani op sy mees argitektoniese,” sê Alexandra Shulman, redakteur van die Britse Vogue.
 
Armani is nie die enigste ontwerper nie. Die mode- en skoonheidshuis Lanvin se nuwe ontwerpe is ook op die toekoms gerig in hul Herfs/Winter 2011-reeks.
 
Gelukkig is daar nie ‘n rok of langbroek met ‘n ingeboude GPS nie. Nog nie.

Vir meer foto’s gaan na Vogue.co.uk