Eie stories

Michélle skryf uit New York

Dit het glo nog so ‘n paar dae gelede hier gesneeu en ja, dit kon ek dit voel toe ons Sondagoggend net na 6h30 op JFK geland het. In ‘n vriesende 0° C.

Van my hotelkamer – ek is op die 35ste vloer van die London Hotel, wat regop soos ‘n strykplank die lug in skiet! – sien ek so ‘n stukkie van Central Park, maar daar’s nie ‘n groenigheid in sig nie. Die bome lyk self moedeloos oor die koue en die sonnetjie wat maar flou skyn. Ek het Sondagoggend met ‘n jas, 2 dik serpe, ‘n beret en handskoene hier ingestap, en sommer dadelik ‘n bak oats-pap bestel – met room, rosyntjies en bruinsuiker. Kyk, die Amerikaners doen mos nie ‘n ding klein nie. Die bord pap was genoeg vir ‘n klein gesinnetjie, maar dit het my vir seker gepantser teen die koue!

Moma – ‘n moet-sien
New York bly net ‘n ongelooflike opwindende stad. Elke paar tree sien en ervaar jy iets. Straat-af loop ek vas in Moma (Museum for Modern Art). Afgesien van al die tentoonstellings (SA se Marlene Dumas se werk is in Desember hier te sien), is daar 2 winkels vol slim ontwerpe – van Phillipe Starke se bekende Ghost chairs tot interessante goed van oor die wêreld wat deur jong ontwerpers opgetower word, soos ‘n handsak van koeldrankdoppies (as dit nie R3 000 gekos het nie, het ek dit sowaar gekoop), vurke wat ook as lepels ingespan kan word, ‘n pen wat met net die druk van ‘n knoppie in verskillende kleure skryf, juweliersware van die nuutste high tech-stowwe (sommige so ragfyn soos kant), en so kan ek aangaan en aangaan.

Soos in die movies!
Net so ‘n paar blokke verder, by die Rockerfeller-opelug-skaatsbaan, beleef ek, en honderde ander toeriste en stadsbewoners, sowaar toe ook ‘n huweliksaansoek. Daar, voor almal wat kom kyk hoe New Yorkers hul Sondae op die skaatsbaan deurbring, vra ‘n tot-sy-ore-toe verliefde die vrou van sy drome om te trou. Toe sy nog dink hulle gaan net vir ‘n paar rondes op die ys, pak Casanova sy reuse-plakkate op die ys neer: Will you marry me! en sak net daar op sy knie neer, haal die ring uit sy sak en bring ‘n bos rose te voorskyn. Ek het lanklaas so ‘n verstomde vrou gesien. En ja, jy het reg geraai: die skare het gecheer en hande geklap, en skielik was almal met ‘n selfoon ‘n fotograaf. Als baie romanties, maar sjoe! dis darem baie druk op ‘n vrou! Hoe nou as jy nie so seker is nie? Hoe sê jy nou nee voor honderde vreemdes?

Oor een ding is ek seker: Ons gaan swart dra die winter

Want dis al wat jy nou in New York op straat sien. Van bo tot onder. Darem ook ‘n bietjie beige, room, winterwit, grys en hier en daar genadiglik ‘n flerts rooi. En koop gerus maar vir jou nog ‘n paar stewels, ‘n serp of twee (lekker dik gebrei) en ‘n trenchcoat (swart, beige of rooi), en onthou jou oorgroot handsak. Weer! Die groot ding vir die komende somer hier is Valentino se Rose Vertigo-handsak – in leer, mesh en patent leather; in rooi, swart, blou, ens. Dis die sak met ‘n groot blom in reliëf voorop, maar teen $3 495 dollar het dit toe nie my inkopielys gehaal nie! Sakke is vir seker vrouliker as vorige seisoene. Van die groot leersakke word ook afgerond met groot, sagte strikke.

Soos ‘n ster in 10 minute
By Saks Fifth Avenue – die een winkel wat ek oor sy ouwêreldse glans net nie kan weerstaan nie – maak ek toe sommer ‘n draai by die Estée Lauder-toonbank en kry net daar ‘n vinnige, gratis makeover. Darem ongelooflik wat goeie grimering kan doen. Habib, wat van Pakistan kom en sedert 1992 vir Lauder werk, het my binne 10 minute wraggies soos ‘n ster laat lyk! Die ding is dis nie net die grimering nie, dis die tegniek. Ek dink eintlik ons behoort almal vir basiese grimeerlesse te gaan.
Terwyl ek daar was, het ek ook gaan kyk na ontwerper Tom Ford se parfuum-toonbank omdat ek Woensdag die geleentheid het om ook sy winkel te besoek – glo ‘n unieke ondervinding. Van al die geure wat ek gister geruik het, sal ek Tom Ford se Oud Wood wil koop (”oud” is glo ‘n houtsoort wat in die Ooste voorkom). Dis wonderlik houtagtig (ek besef nou ek hou van houtgeure, dis hoekom ek ook van Estée Lauder se Sensuous hou!), en sensueel.
Hier praat almal natuurlik oor die ekonomie – ook Habib. Maar in die skoonheidswêreld is dit wat ek vermoed het: Vroue hou nie sommer op om grimering te koop nie. Ons wil in moeilike tye soos hierdie veral goed lyk! Dis mos ‘n algemene feit dat die verkope van rooi lipstiffie ná 9/11 met spronge gestyg het.

Die Obamas
Soos verwag, is die koerante vol van die Obamas, en almal wat boeke skryf (help ons!) – van George Bush tot Sarah Palin. Barak Obama kry die wind van voor omdat hy nie prioritiseer nie (niks is nou belangriker as die ekonomie nie, se die Amerikaners). Fokus! is die opdrag aan die president.
Maar Michelle Obama het blykbaar haar prioriteite reg omdat sy ‘n organiese tuin by die Withuis aangeplant het – iets waarvoor Hillary Clinton glo haar neus opgetrek het.

Op pad terug hotel toe trek die klanke van ‘n kerkdiens in 5th Ave se Cathedral of Saint Patrick my. Dis ‘n pragtige katedraal wat my altyd welkom laat voel. Duidelik voel baie mense so, want om my was mense van elke moontlike nasionaliteit. Dís die eintlike opwinding van New York vir my: sy diversiteit en kosmopolitaanse karakter.

Intussen maak ek reg vir onderhoude wat ek in New York oor die volgende dae sal voer. Ek is deel van ‘n span tydskrif-redakteurs van oor die wêreld en elke oomblik behoort interessant te wees. Ek vertel binnekort meer!

Michélle