phyllis_142_
Eie stories

Mickey van Tonder van Windhoek, skryf:

My Liefste,

’n Geleentheid om die liefde wat ek daagliks ervaar wanneer ek na jou kyk, op papier neer te sit, is skaars in die gejaagde lewe van vandag. Engel, die diep, goue, dog onsigbare draadjie wat ons siele soos smeulende kole in een passie-vuur verbind, is die oorweldigende liefde wat in my opwel wanneer ons so baie dinge saamdoen. Saam lag, saam laf wees, saam sukkel, saam huil …

En wanneer jy weg is van my, sag in my gedagtes, speel die wind ’n veraf deuntjie terwyl ek sien hoe jou oë van liefde bruis – en jou warmte wat sag is, weerspieël. Jou liefdevolle kykers bring tevredenheid en geluk in my wese en jou koesterende aanraking wanneer jy my hare speels deurmekaar vee, is die mantel wat my saggies omvou met die wêreld se liefde. Ek wil jou vashou en deur jou vasgehou word …

Kan dit wees dat liefde selfs te sterk is vir die hoeveelheid menswees wat in ons elkeen is? Of wek liefde enige ander liefde dat ons dit net nie besef nie? Jy vervul my met die prag van die opregte liefde wat deur jou vloei. En jou nabyheid is die soete vertroosting in die nag se stil sekondes.

Geluk is wat ek ervaar deur jou by te staan, te onderskraag, lief te hê in moeilike en maklike tye. Geluk is die wete dat jy my ook liefhet, die manier waarop jy nag sê voor jy gaan slaap … en die wete dat ons aan mekaar behoort.

Ek het jou lief.

Jou Mickey