Eie stories

Milan blog: “My iPod bly by die huis…”

Terug na die gevreesde Otter:

Min mense oefen sonder musiek. Ons bind die iPod aan die bo-arm en hardloop straat-af op die maat van Linkin Park of FUN se ‘We are young’. Masjiene by die gimnasium het gerieflik n plekkie vir jou Iphone of wat ook al jou gekose elektroniese toestel is. Jy kan selfs jou oorfone by die oefenfiets inprop om die gimnasium se eie musiekstasie op te vang. Ek wonder vanoggend of iemand al n eksperiment gedoen het oor die uitwerking van daardie polsende ritme op ons vermoe. Trap jy harder? Hardloop jy verder?

Ek is ‘n groot Pink-fan. Toe ek verlede jaar Oktober vir die eerste keer een voet voor die ander gesit het op ‘n treadmill, was dit die vermetelheid in haar musiek wat my binne ‘n maand by die 5 km-merk gekry het. Ek het fiks en trots gevoel. Maar helaas, die dag toe ek my musiek by die huis vergeet, blaas ek toe soos ‘n ongeknoopte ballon en vloek die verdomde masjien onder my voete wat my so laat suffer!
Die Otter Trailrun, soos meeste bergwedlope, het egter ander reëls. Geen musiek word toegelaat nie. Jy kan mos dink hoe frustrerend dit is as jy op ‘n enkelpaadjie by ‘n hardloper wil verbykom, en jy moet jou longe uitskree om gehoor te word. Of as jy dalk self oor die los klippe gly en by ‘n krans affoeter en niemand hoor jou gille nie, want hulle is te besig om te ‘Runaway’ saam met The Killers. So vir die afgelope 10 maande oefen ek totaal ‘wysieloos’. Net die stilte in my ore en my voetklap op die pad.

Tog wonder ek soms of ek nie maar my geliefde Pink in my rygsak moet insmokkel die dag as ek die Otter gaan hardloop nie. Noudat ek vrede gemaak het om met ‘n besering deel te neem, sal ek haar vermetelheid so nou en dan nodig hê om my teen die opdraendes uit te help. Toe?!

Ek dink nie die baie bekwame organiseerders, Magnetic South, sal enige genade toon nie. Wat vir Landie Greyling geld, geld vir my. Terloops, my geld is op hierdie Stellenbosch-chick om die vroue-wedloop hierdie jaar te wen.

My eie behoefte is maar net om voor daai gevreesde geweerskoot by Stormsrivier aan te kom. Dink net, Landie eerste, ek laaste. Sal dit nou nie poëties wees nie. Dis ook die enigste manier hoe my naam in dieselfde sin as so ‘n top atleet genoem sal word. Ek sal maar te dankbaar wees.

Noudat ek my knie moet oppas, is ek meer in die gym as op ‘n berg. Dis soms frustrerend, maar ook verfrissend… want daars musiek! Ek het verlede naweek sommer twee spin-klasse na mekaar gedoen want die instrukteur speel Rihanna en Lady Gaga en Pink en Adele! Ek het gevoel ek vlieg! Dis soos ‘n oase na my jaarlange woestyntog. ‘n Klein bederfie voor ek oor twee weke my 11 ure pelgrimspad in stilte sal aanpak.

Liewe leser, my ma lees hierdie blog, so ek kan nie die ses-letter woordjie gebruik om vir jou te laat verstaan presies hoe bang ek is nie. Maar ek dink jy kry die idee…

Groete van huis tot huis,
Milan