Eie stories

Monica du Plessis van Pretoria, skryf:

My langlyf mopkop-man,

Ek sit opgekrul en luilekker eenkant in die halfskemer, my voete warm toegewoel in wolwokkies om die winterkoue in hierdie vreemde land uit te hou. En ek sien jou so uit die hoek van my oog waar jy met jou langlyf teen die venster leun, vasgevang in die stilte van jou menswees.

In my geestesoog reik ek uit na jou, my hande vou om jou bekendheid en my gesig druk in die holte van jou skouers. En ek beur om jou drome wat versplinterd aan jou voete lê, weer prentjiemooi aanmekaar te las.

Wanneer jy wegdraai en geboё staar na die halfgepakte kartondose wat soos ’n grou berg tussen ons lê, vee ek in my gedagtes jou weerbarstige kuif van jou voorkop af weg en staar met verwondering na die grys wat spikkels in jou hare maak wanneer die laatmiddag winterson vir oulaas daaroor speel.

Ek is verras oor die herfs van ons lewensjare wat so ongesiens binnegekruip het? En  ek wil my arms wyd uitstrek om al ons brose vlinderoomblikke van herinneringe weer heel te maak. Soos dit gister was en eergister. 

Met jou dansende groen oё en kamma ongeërgdheid het jy my voete onder my uitgeslaan en tot my absolute radenis, die bakvissie en flirt in my diepste menswees losgelaat. Daar was ademlose oomblikke van stiltye saam, woordelose gesprekke en oё wat gesels, die wipplank kol-en-soet-op-die-maag gevoel soos ’n sappige boere-koeksister op sy beste.

Met jou teerheid het jy my mure van selfbeskerming stadig herbou. Geduldig, baksteen vir baksteen, saam ’n nuwe hoop in liefde en geloof laat vlam vat. Jy het jou hart en arms oopgevou vir my kosbaarste besitting. My blondekop-tienerkind. Saam het jy haar met eindelose teerheid geleer om nuwe lewensbakens vir haar toekoms te skep. Om met selfvertroue elke dag ’n klein voetspoortjie vorentoe te gee. Partye dae meer, ander minder. Haar sonskynglimlag bly in my moederhart vasgevang soos die helderste reёnboog. Dankie daarvoor.  Jy is ons held.

Wanneer die lewe sy skewe kant na ons toe gegooi het en trane van teleurstelling oorvloedig, nes ’n vrou kan, sonder ophou stroom het, was daar geen kwaad in jou nie. Met jou groot warm hande sou jy my deurmekaar hare deur jou vingers vleg en met jou kalm stem die storm in my laat bedaar. My hart rustig maak.

Sonder tal sou jy my herinner dat ek jou droomvrou is. Die mooiste kweperlat in die laning, net vir jou. Nooit sou jy sug as ek ’n debat met jou wou voer of kla oor my gewig wat sy eie grille het nie. Onthou jy nog my gunsteling-geselsplek? In ’n skuimbad, waar ek altyd moet opskuif om plek te maak vir jou lang, lang bene … En jou halwe kopskud wanneer ek my nuutste gesigmasker ook aan jou verbaasde gesig vasmessel. Twee pers, beplakte gesigte wat met stokstywe lippe wêreldpolemiek en hartsake bespreek, voete wat by die rand oorhang en groot plasse water laat, ’n tikkie klassieke musiek en sagte kerslig in die agtergrond. En jy wat die drake in my duisternis stil maak.

Selfs in my oudste flennie-pajamas met nog net een knoop, laat jy my sprankelend stuitig voel. ’n Ritseling teen my ruggraat van pure plesier wanneer ek onder die knus gestopte duvet inspring en my ysige voete teen die warmte van jou kuitspiere inwoel.

Weet jy dat jou mooiste mooi vir my is wanneer jy onbeskroomd saam huil in een van my chick-flieks en jy jou tong vir my klap as ek skalks vir jou lag. Of wanneer jy my in jou mikro-vliegtuig so na as moontlik by ’n donsige wolkie bring, sodat ek ook kan voel ‘hoe dit in die hemel moet wees’?

Maar jy sien, my liewe langbeen mopkop, hemel is vir my waar jy is. Saam met jou. Terwyl jy jou ideale terugpak in die kartondose om weer huiswaarts te keer ná soveel jaar hier in die groue verte van Denbigh (Wallis), droom ek vir ons nuwe drome in ons tuisland.

Oor sielsgeluk wat douvars glinster in die son. Van aanvaarding en vertroue wat weer heel word, soos die eerste jakaranda-bloeisels wat sonder vraag voluit sal bot. Vir ’n beter gholf-voorgee sodat jy my meer gereeld saamnooi en dat ek minder luidrugtig op die baan sal wees en gelyktydig met almal wil gesels soos verlore vriende.

Dat ek Guinness-bier se room van my lippe af kan smaak met ’n sug van verligting soos net jy dit kan doen. Om jou kredietkaart skroomteloos te gebruik vir ’n paar stiletto’s waaroor ek slapelose nagte het en vir ’n nuwe, vreugdevolle seisoen in ons lewensboek.

En ek droom van fierheid en vasberadenheid in jou lang geliefde lyf, die saamlag oor die mooi in die lewe, die glans in jou oё wanneer ons kop aan kop woordeloos gesels terwyl ons luister na luilekker-musiek soos net Rod Stewart se rasperstem kan klink en ons kaalvoet dans op ons nuwe voorstoep. 

Tot ons laaste sonsondergang, saam.

 Met liefde,

 Jou kweperlat