Eie stories

My aha-oomblik

Aangeraak deur dolfyne
Toe Charissa Rousseau van Somerset-Wes se pad (en hart) met dolfyne kruis, het dit die koers van haar lewe verander. Sy neem nou mense see toe om te ervaar wat sy tussen dié seewesens beleef het.

DIE OOMBLIK
“Ek en my man, Stefan, het ten tyde van 9/11 in Amerika gewerk. Veral in daardie tyd het ek baie oor dolfyne en hul boodskappe van liefde gedroom. Ek wou in Hawaii saam met hulle swem, maar dit was peperduur. Later het ek tog besluit om my spaargeld te gebruik – vir ons hele gesin. ’n Week lank het ons nie ’n enkele dolfyn gesien nie, maar toe, op die laaste dag, is daar skielik meer as 100 vinne om die boot. Dit was ongelooflik, ons het vier uur lank saam gespeel en geswem. My man en kinders (Alaya en Chiana, nou 12 en 10) het dit geniet, maar nie op dieselfde vlak as ek nie. Ek het gevoel my hele liggaam vibreer van energie. In daardie oomblik het ek besef: Ek kan nie teruggaan na my ou lewe nie. Ek wil hierdie ding verken, ek wil elke dag by dolfyne leer. Hulle het my só aangeraak.”

UITEINDE
“Ons het teruggekeer na Suid-Afrika, maar ek het bly hunker na dolfyne. Uiteindelik is ek vir vyf weke na Hawaii om dit ‘uit my sisteem te kry’, soos my man dit gestel het. Maar dit was net die begin. Einde 2004 het ek die pad van my hart gevolg, alles verkoop en na Hawaii getrek. Ek en Stefan se paaie het geskei – ons het uitmekaar gegroei. In Hawaii het ek die kinders tuis onderrig, elke dag saam met die dolfyne geswem en met liggaamlik en geestelik gestremdes gewerk. Twee jaar later het ek teruggekom ter wille van ons dogters, want Stefan wou deel wees van hul lewe hier. Ek het ’n natuurlike genesingsentrum in Somerset-Wes en neem mense na Mosambiek vir dolfyn-ervarings. Maar ek sal weer teruggaan Hawaii toe.”

STRUIKELBLOKKE
“Jaloesie. Hoe gelukkiger ek geword het, hoe moeiliker was dit vir die mense wat hier agtergebly het. Selfs Stefan kon dit nie verstaan of hanteer nie – my optrede het nie ‘sin’ gemaak nie. Maar God het my krag gegee en my onderhou. Mense oordeel maklik oor dinge wat nie deel is van die ‘normale’ vloei van die lewe nie, en ek moes keer dat dit my nie van koers gooi nie. Baie vroue staan voor die uitdaging: Wat gaan mense van my dink? Is ek ’n goeie ma? Maar ek was seker van myself – ek het besef dat ek vir my kinders geen beter ervaring kan gee nie. Hulle was so gelukkig en vry.”

BONUSSE
“Ek is geseënd met ware geluk. Ek wil dit heeltyd deurdrenk ervaar. Dit is moontlik. Ek leef dit en ek het dit geleef.” *Besoek www.delphitherapy.com

Wat ek nou weet

  • Om jou hart te volg verg opofferings en geduld. Jy hoef nie dadelik op daardie aha! te reageer nie. Dit het my vier jaar geneem.
  • Moenie druk teen die lewe nie, laat dit ontvou. (Maar moet ook nie geduldig wees ten koste van jouself nie.)
  • Onseker of jy op die regte pad is? Luister fyn – hoe meer jy luister, hoe duideliker word die stem. Jy sal leer onderskei watter stem is die ware een . . . nie jou ma/onderwyseres/ iemand uit jou verlede nie.
  • As jy nie geliefd voel in ’n verhouding nie, moet die waarskuwingsklokkies lui. As jy diep binne-in jou werklik “tuis” voel en vervuld is, is jou beker vol en kan jy vir ander gee, maar as jy leeg is, het jy niks om te gee nie.
 

 

Op ’n bus in Argentinië

Donna McCallum  

Die een oomblik was Donna McCallum van Johannesburg nog soekend na wat haar werklik gelukkig sal maak. Nou help sy ánder om hul drome te bewaarheid.

DIE OOMBLIK
“My lewe het ‘alles’ gehad – ek was selfs baas van ’n suksesvolle advertensie-agentskap, maar ek het gevoel iets kort. Toe gaan ek op sabbatsverlof in Suid-Amerika: reënwoude, Brasiliaanse strande, Spaanse klasse . . . En daar gebeur dit, nadat ek vyf maande op reis was, op ’n nagbus in Argentinië. Ek het in die middel van die nag wakker geword met ’n drang om te skryf: 50 bladsye vol! My slotsom: ‘Ek is ’n fantastiese Fairy Godmother – my grootste wens en die doel van my lewe is om ’n verskil te maak deur mense te help om hul drome te bewaarheid.’ Dis onmoontlik om te beskryf hoe ek gevoel het. As ek na my kop geluister het, sou ek die idee onderdruk het, want my kop het gesê: ‘Fairy Godmother, is jy gek?’ Maar my liggaam en siel het geweet dís die oomblik.”

UITEINDE
“Alles het verander. Ek is nou al drie jaar lank Fairy Godmother. Ek bied hier en oorsee werksessies, praatjies en programme vir maatskappye en individue aan om hul doelwitte te bereik en help hulle om hul aha!-oomblik te vind. In Julie verskyn my boek hieroor. Ek doen dinge waaroor ek dol is, en ek’s ’n gelukkige, vervulde persoon.”

STRUIKELBLOKKE
“Om jouself te herskep is nie maklik nie, veral as mense jou wil klassifiseer en in boksies sit. Toe ek terugkom en mense van my planne vertel, was die reaksie ongeloof, ’n gegiggel en negatiewe aanmerkings: ‘Hoe gaan jy geld maak? Fairy Godmother is nie ’n werkbeskrywing nie.’ My innerlike stemmetjie was soms ook negatief. Vrese kan jou keer om jou droom uit te leef. Dit het myne byna doodgesmoor. Maar ek het besef: Ek wil dit doen, ongeag wat mense dink. Vandag is daar steeds uitdagings, maar dis die lewe. Só leer ons. Ek sien nou die positiewe daarvan, eerder as om toe te laat dat dit my bedruk laat voel. Ek het sedertdien oomblikke van groot vertwyfeling beleef, maar ek het ’n wonderlike netwerk mense wat my visie ondersteun. As ek negatief voel, bel ek hulle. Ek was nog nooit spyt nie.”

HOOGTEPUNTE
“Ek is gevra om ’n boek te skryf en is genooi om vanjaar in New York te werk. Daar is soveel ander hoogtepunte: Om werksessies aan te bied. Om Saterdagoggende op 5FM die feetjie-peetma-ding te doen. Om feetjie-stof op die parlement te sprinkel – dit was pret! Die grootste bonus is om te sien hoe mense hul vrese oorkom en hul ideale bereik – van hul eie ondernemings tot hul eie CD-opnames.”

Wat ek nou weet

  • Dis moontlik om jou drome te leef – ongeag hoe vreemd of onrealisties dit lyk. As jy dit in jou geestesoog kan sien, kan jy dit hê, wees of doen.
  • Die eerste stap is altyd die moeilikste.
  • Luister na jou liggaam en jou  emosies. As jy heeltyd siek, negatief of af voel, sê jou lyf iets moet verander.
  • 99,99% van mense gaan nie oor tot aksie as hulle ’n inspirerende oomblik beleef nie, want hulle is bang. As jy dit wel opvolg, gaan die vrees nie weg nie – daar’s heeltyd nuwe vrese wat oorwin moet word.
  • Ons moet leer om weer te speel en die magic van ons kinderjare herontdek. ’n Aha!-oomblik vra net een ding: Wees dapper genoeg om na jou innerlike stem te luister en leef dit uit.
    Vir meer: www.fairygodmother.co.za; info@fairygodmother.co.za; 082 411 3875.

 

 

 

 


Alles in ’n stokkie

Trix Grové

Vir Trix Grové van Napier in die Overberg was ’n eenvoudige suikerstokkie om tee of koffie mee te versoet iets veel meer – dit was ’n blink gedagte wat tot ’n wenproduk en ’n suksesvolle onderneming gelei het.

DIE OOMBLIK
“Ses jaar gelede het my broerskind vir my ’n suikerstokkie van die Isle of Man gebring. Toe ek dit in my hand hou, het ek gewéét ek moet iets daarmee doen. Dit was ’n gut-gevoel, asof onsigbare hande my gedruk het. Ek het net daar omgedraai, my resepteboeke uitgehaal en in my ou kastrolle begin eksperimenteer om te kyk of ek dit ook kan doen. Ek het in daardie tyd ’n persoonlike laagtepunt beleef en vir die Here gevra vir iets – dit was ’n wonderwerk, gebedsverhoring.”

UITEINDE
“Ná baie probeerslae het ek my suikerstokkie-onderneming begin, eers vanuit die huis – maar ná my eerste bestelling het dit so groot geraak dat ek na ’n ander perseel moes skuif, met vyf werknemers. Ek het groot kettingwinkels as kliënte gehad. Waar ek eens ’n suikerstropie in ’n kastrol gemaak het, het ek later in twee dae een en ’n halwe ton suiker in reuse-houers gekook! Ek het my onderneming twee jaar gelede verkoop. Ek is steeds geweldig trots op my skepping.”

STRUIKELBLOKKE
“Die grootste uitdaging was om die kristalvorming reg te kry. Niemand kon my help met ’n resep nie, en ek het baie probleme gehad en foute gemaak. Vele mengsels het gesandsuiker of gemuf! Ek het raad gesoek by almal, van suiker-laboratoriums tot ’n chemie-professor. Elke keer as ek ’n probleem opgelos het, het dit my net nog meer opgewonde gemaak. Ek het gedink as iemand anders dit kan doen, kan ek ook.

“Finansies was nooit ’n probleem nie, want ek het nie skuld gemaak nie. Ek het al my winste teruggeploeg. Maar die praktiese uitdagings was dramaties: Met ’n bestelling van 95 000 stokkies vir Moedersdag moet jy ’n flatervrye resep hê! Soms was daar ‘ongelukkies’ . . . soos toe een van ons rakke omval, met ’n ton stroop daarmee heen. Maar jy byt vas en druk deur.”

HOOGTEPUNTE
“Toe die eienaar van ’n bekende koffiegroep die eerste groot bestelling vir 3 500 stokkies plaas, was ek in die wolke. Daarna het dinge net gebeur. Die onderneming het vir my persoonlik baie beteken: Dit het my lewe verander. Ek was altyd teruggetrokke, en skielik het ek sonder huiwering my produk bemark aan groot korporatiewe kliënte, wat nog meer opgewonde was daaroor as ek! Dit het my selfbeeld ’n hupstoot gegee – ek het besef wat ek werd is. Dit was ook wonderlik om werk aan ’n span vroue te verskaf en te sien hoe hulle eienaarskap neem, dit werklik ’n verskil aan hul toekoms maak. Hulle werk steeds daar.”

Wat ek nou weet

  • Ek het aspekte van myself leer ken waarvan ek onbewus was. Ek het nie besef hoeveel talente ek het, en dat ek kan deurdruk en ontsettend hard werk nie (maar altyd met ’n lied in my hart!).
  • Daar’s baie aha!-oomblikke op jou pad, jy moet net ontvanklik wees. As jy nie probeer nie, gaan jy altyd wonder oor wat kon gewees het.
  • Dis belangrik dat iemand jou entoesiasme deel en jou ondersteun. Sonder my man, Koos, sou ek dit nie kon doen nie. Ons is ’n span – ons het al 18 jaar lank ’n antiekwinkel.
  • Ek was nie hartseer toe ek my onderneming verkoop het nie. Dit het my lewensuitkyk verander. Die lewe is soos ’n oseaan, dis eb en vloed. Daar is ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan. Ek is altyd ingestel op nuwe oomblikke.