home_decor_artwork_09_small
Eie stories

My boob job

Ek is gereformeerd grootgemaak. Jy praat nie oor tieties of borste nie – en ’n mens wys dit ook nie vir elke Jan Rap en sy maat nie. Dis die eerste rede. Die tweede is dat Moeder Natuur nie baie kwistig was met die uitdeelslag nie, ’n besadigde B was my deel. Elke keer as my vriendinne oor ’n boob job praat, het ek selfversekerd laat hoor dat ek eerder Kerkstraat in Pretoria (blykbaar die langste reguit straat in ons land) met ’n draadondersteunde bra sou aandurf – met die draad wat al bes gegee het en nou stadig hier bo by die nek van my klere uitkruip – as dít.

My skoonfamilie is ’n ander saak, dáár is ’n boob job so algemeen soos ’n naeltjiering wat in ’n bruingebrande magie bo ’n wit bikinibroekie uitsteek. Trouens, jy sal met ’n opgetrekte wenkbrou en meerderwaardigheid begroet word as jy sou erken dat jy, met daardie twee appelkosies onder jou toppie, sowaar nog nie eens ’n boob job oorweeg het nie.

Heleen, swaer Leon van Potchefstroom se vrou, het haar kurwes van ’n beskeie A na ’n meer respektabele B laat vergroot en haar nuutgevonde vrouwees gevier deur daarna net op begrafnisse bra te dra. Skoonsus Carol het al twéé gehad. Eers om haar bates te laat lig en groter te maak, en daarna weer om die inplantings te laat verwyder vir ’n meer natuurlike voorkoms. En toe sy haar rondings trots bostukloos op ’n huisboot op die Karibameer ten toon stel, het haar man opgemerk dit lyk of haar boobs so ampertjies onder haar armholtes wil-wil wegkruip, as sy so platlê op haar rug. Dis met ’n ysige stilte van haar kant begroet. Weet die arme vent nie van beter ná 15 jaar se getroude lewe nie?

Die jongste dogter van Frieda, sus Miempie van Klerksdorp se wêreld, het haar borste op haar beurt laat verklein. Haar dubbel-D’s was ’n paar hande te veel, en die rugpyn en moegheid het haar ondergekry. Ná die eerste operasie het haar borste te veel uitgesak, haar vel is glo te elasties. En daar sit haar tepels toe hoog en droog soos Noag se ark gelyk met die middel van haar bo-arm, soos dit ’n paar welgevormde borste betaam, terwyl haar twee uitgesakte berge van Ararat neffens haar elmboë rondswaai. Elaine is in Augustus bespreek vir haar tweede operasie, en dit nog voordat sy ’n enkele swangerskap beleef het . . .

EK SIEN HOE HY KYK
Hoewel my wederhelf volhou hy hou daarvan om my hele bors met een vatslag, sonder om te vervat, so in sy hand toe te vou (daar steek nie eers ’n ou rimpeltjie uit nie) en sweer hy sal dit nie anders wou hê nie, sien ek hoe hy leepoog staar as hy dink ek kyk nie. Om van die skamel geklede meisies op FHM se voorblad nie eens te praat nie, onbeskaamd wellustig en oordadig rondborstig. Ek kan sommer sien hoe hy met so ’n wasige, veraf-uitdrukking die kwyl moet terugsluk soos ’n vermaerde hond wat moet toesien hoe ander honde ’n sappige been voor sy uitgehongerde oë aflek.

En toe daag my jongste op, nommer 3. Laatlam. ’n Groot baba van 4 kg by geboorte. Honger en gulsig. Soos ’n deugsame vrou betaam, het ek borsvoeding by die horings gepak. Maar waar my vriendinne – volkome in hul moederskap – engelekore en kerkklokke hoor lui het met elke oorgretige teug van daardie klein mondjie, was dit vir my beslis minder aangenaam. Baie minder. Ek het drie keer my plig gedoen: Getrou geborsvoed tot op vyf maande, maar daarna kon of wou ek nie meer nie. Om met knopperige borste vol melk angstig en in pyn te wag dat die bondeltjie wakker word om jou uit jou lyding te verlos met lippies wat soos ’n stofsuier vassuig en jou tepels brei en knie asof dit ’n stuk leer is . . . aikôna! Al ligpunt was dat my bates met elke borsvoeding tot ’n gesonde C gegroei het.

Jy kan nie vir altyd teen tyd en swaartekrag stry nie

Met my verpligte borsvoeding agter die rug en my lyf weer my eie, het ek myself een aand krities in die badkamerspieël beskou: Die nommer B’s was nog daar, maar as ek met my hande op my heupe staan, het hulle saamgetrek soos twee sakkies albasters wat bo toegeryg word. Watwou potlood vasknyp, ek kon ’n hele pennesakkie onder elkeen vasklem! Jy kan nie vir altyd teen tyd en swaartekrag stry nie. Dalk is dit tog tyd om “die sirkel” te betree, het ek moedeloos gedink. Ek het ’n afspraak gemaak.


SOMMER GROTER OOK, DOKTER

In die wagkamer het my senuwees begin knaag. Sê nou die dokter is iemand saam met wie ek op universiteit was, een van daai ouens wie se naam jy nie ken nie, maar voor elke klas groet? Sê nou dis ’n vriend van die familie se skoonseun, of nog erger, ’n kennis van een van my skoonsusters? My vrese was gelukkig ongegrond. Met ’n Boerenaam en grys hare het die dokter as ’t ware sommer dadelik vertroue ingeboesem. Met my oë vasgenael op die bronsbeeld van ’n perfek gevormde bors op sy lessenaar, vra ek of hy my bates dalk net so effe kan lig om weer ferm te vertoon. Hy is begrypend en genadiglik professioneel, maak die heeltyd aantekeninge en knik beleefd op die regte tye. Ek lek my droë lippe senuweeagtig, “en dan sommer ook groter, asseblief”, kry ek dit net betyds uit voor al my asem opraak.

Ons maak dit ‘n C. Jy wil nou nie ‘n Dolly Parton wees nie, wil jy?

Die dokter kyk op, loer oor sy bril: “Watter grootte?” vra hy – professioneel, klaar weer gereed om my antwoord aan te teken. Ek trek my skouers op, “’n C of . . . dalk ’n D?” waag ek dit. Hy sit terug in sy stoel, speel met die pen tussen sy vingers. “Ons maak dit ’n C,” besluit hy ferm. “Jy wil nou nie ’n Dolly Parton wees nie, wil jy?” Ek knik instemmend. Nee, beslis nie dít nie.

Ek word na die ondersoekkamertjie beduie. Dis tyd vir uithaal en wys. My handpalms sweet, wie wil nou só ’n paar verrimpelde pruimedante ten toon stel? Hy beduie dat ek my hande op my heupe moet sit, ek kyk stip na die plafon. Hy trek hier, lig daar. “Mmm, die ideaal is natuurlik dat die tepel regoor die middel van die bo-arm moet sit,” sê hy saaklik. “Mmm, ja,” dink ek, “en myne raak amper aan my maag!” Terug by sy lessenaar teken hy op ’n papier hoe hy die snit gaan maak om die prostese onder die borsspier te laat inglip. Die tepel gaan nie afgesny, eenkant neergesit en weer vasgewerk word soos baie vroue glo nie, maar slegs losgesny en verskuif word.

Die prys? ’n Volronde R27 000 en ’n verpligte nag in die hospitaal. My skoonsuster het aansienlik minder vir háár operasie betaal, onthou ek, en sy was die oggend in en die middag weer uit . . .

HOE LYK EK NOU?
Vrydae is boobs- en tummy-dag, word ek op die oggend van die groot dag met my toelating verseker. In die privaatsaal kry ek skaars tyd om met die klein botteltjie ontsmettingseep te bad of die dokter en ’n suster daag op. Die teaterjurkie word eenkant toe geskuif en die dokter trek sy gidslyne met ’n liniaaltjie en swart potlood op my lyf. Hy meet sorgvuldig van elke skouer af in elke hoek en rigting. Dankie tog vir narkose, sug ek in my binneste.

Daarna gebeur alles baie vinnig. Die laaste wat ek onthou, is die narkotiseur se versekering dat hulle baie mooi na my sal kyk. (En gedagtig aan alle mans, wonder ek nou of daar dalk meer agter sy woorde was.) Terug in die saal met ’n drup aan en baie deur die blare het ek net een gedagte in my kop: Hoe lyk my nuwe kurwes? Die verrassing oortref my stoutste verwagtinge, en hoewel my borste grootliks deur pleisters bedek is, is die resultaat asemrowend! Ek dink nie ek het eers as tiener so goed gelyk nie, ek herken my eie lyf nie!

Daar is ook geen erge kneusing nie. Die dokter weet wat hy doen, dis verseker. Maar slaap is ’n probleem. Dis so seer, ek kan nie my borste beweeg nie, wat nog van teen ’n matras vasdruk. Al genade is om so regop as moontlik teen ’n hoop kussings te sit en te probéér slaap. Teen die Sondagaand het ek ’n permanente kramp in my blad van die een posisie waarin my lyf my toelaat om ’n bietjie te slaap. Ek kan nie anders as om Pamela Anderson te bewonder nie. Hoe doen die vrou dit, en dan gaan sy terug vir nóg? ’n Week ná die operasie word die pleisters afgehaal en nog ’n week later kom die steke uit.

Ek gooi dadelik my klere uit. Ek het beslis nuwe klere nodig om by my nuwe, voller, “vrouliker” figuur te pas. En my vooraf aangeskafte nommer 34C’s pas soos ’n droom. Ek kan nie ophou om myself om elke hoek en draai in die spieël te bewonder nie. Met of sonder klere. En so ook manlief. Verbeel ek my of is daar ’n nuwe vonkel in sy oog as hy (oopmond?) na my staar.
Mans bly maar mans . . . Dis tóé dat ek hom uitoorlê toe ek nou die aand vir hom wil vertel van ons oudste se entrepreneursdag en ek net elke af en toe van hom, waar hy voor sy rekenaar sit, ‘n frustrerende “mmm” as reaksie kry.

“Bok,” vra ek onverwags,“ wil jy my tieties sien?” Hy draai so vinnig om dat hy warm koffie oor sy bobeen stort. Maar dit pla hom nie, want hy kyk na my, sy oë glinster en ek het sy aandag. Een honderd persent.