Eie stories

My eie lappieskombers

Hierdie is ’n lappie van my witkopseuntjie (toe 3 jaar oud). Sy eerste kerkpakkie en vandag al predikant. Die kakiegroen lappie behoort aan sy weermag-speelpakkie. In sy verbeeldingswêreld het hy soos Pa “weermag toe gegaan”.

Ek sien lappies van my sproetneus-dogter se rokke. As ek my oë toemaak, sien ek haar weer skool-skool speel en modderkoekies bak. Is dít waar haar kreatiwiteit gebore is?

Ek stort ’n traan oor jare wat ek nie kan terugdraai nie, oor dinge wat ek saam met hulle moes en wou doen.

Ek maak my toe met my lappieskombers en my mooi herinneringe, en sê dankie vir die dinge wat ek wél gedoen het.

Hannetjie Lordan, Hartenbos