Eie stories

Kyk met nuwe oë na SA

 

Soveel projekte moes verlede jaar vir eers opsygesit word weens die wêreldwye finansiële krisis, veral in ons huis waar ek en my innoverende man met vroeë pensioen afgetree het om meer tyd aan ons historiese huisie te bestee en saam die natuur en ons medemens te geniet!

Tog weet ons so tussen die restourasie deur dat dieselfde regskaaf, timmer en die stukkie-vir-stukkie herwinningsproses, ook van toepassing is op ons finansiële en spirituele lewe. Om te verander met dit wat beskikbaar is sonder om kwaliteit regtig in te boet. ’n Groener lewe waar ons minder eis en meer kan terugsit!

Op my spieëltafel staan ’n hele klomp mooimaakflessies op hul koppe sodat die totale inhoud gebruik kan word. Ek skud en sny oop. Klein kwassies help om by die hoekies uit te kom, want hierdie room is kosbaar. En my oogpotlood word te kort om skerp te maak.

Tog sing my hart oor die heerlike geure wat nog beskikbaar is onder-in die botteltjies van lank gelede, van die dae toe dinge makliker was, en ek myself mildelik kon bederf. Daar was beter dae as nou, en hulle sál beslis weer kom! 2010 kan mos net beter. Dis dan die jaar vir SA!

Ek help by die plaaslike gastehuis as die Franse toerbus hier stop. Grootoog en in ekstase klets die toeriste. Hulle kan nie genoeg van die dorp te sien kry nie. Tussen die vreemde klanke kom ek agter hulle dink Suid-Afrika is vreemd, maar fantasties!

En net daar weet ek dat ons vergeet het hóé om na ons land te “kyk”. Dit behoort nie vreemd te wees nie, maar fantasties is dit beslis.

Ons moet met ’n nuwe oog na SA kyk, maar verseker ook omsien na ons land … en so spoedig moontlik.

Maar dit maak nie saak wat ons op die oomblik kortkom nie, dit bly ’n wonderlike plek! Ons “Afrique du Sud”.

Connie Garrard, Kaapsche Hoop, Mpumalanga


  • Anita Boezaart

    Ek stem saam met die Franse. Ek kan nie genoeg kry van Kaapsche Hoop en veral my 2 goeie vriendinne wat daar bly terwyl ek nog in die "ratrace" van Pretoria sit. Connie met haar keurige gastehuis Corner Cottage en pragtige kwekery is beslis die moeite werd om te besoek. Trudi wat buite die dorp bly met die fantastiese uitsig oor die vallei. Ek het al 2 skilderye gemaak van die Pottershouse naby Corner Cottage en een van die wilde perde by ‘n bouval. My droom: om eendag saammet hulle in die mooiste dorp in SA te bly